Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2020 Jaar van die Verpleegkundige en Vroedvrou: Huldeblyk aan ʼn edel beroep
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 06/11/2020

Toe die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) 2020 as die 'Internasionale Jaar van die Verpleegkundige en die Vroedvrou' aangewys het, het hulle beoog om deur die loop van die jaar die werk wat verpleegkundiges en vroedvroue doen te vier, om ʼn fokus te plaas op die probleme waar teen hulle wêreldwyd te staan kom en om belegging in hierdie sektors te bevorder.

In 2020 het miljoene verpleegkundiges reg oor die wêreld die uitdaging van Covid-19 die hoof gebied en “die edel tradisies van hierdie beroep tot ʼn hoër vlak geneem".

“Verpleegsters in Suid-Afrika het prysenswaardige vlakke van veerkragtigheid en volharding getoon," het professor Portia Jordan, Uitvoerende Hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Verpleeg- en Verloskunde gesê tydens ʼn onlangse webinaar wat gehou is om erkenning te gee aan die Internasionale Jaar van die Verpleegkundige en die Vroedvrou, asook die bydra wat hulle gemaak het in die stryd teen Covid-19.

Die WGO het 2020 as die Jaar van die Verpleegkundige en die Vroedvrou gekies om 200 jaar sedert Florence Nightingale se geboorte aan te wys. Sy het die beginsels van moderne verpleegkunde asook hospitaalsanitasie daargestel. Die wêreld benodig tans nege-miljoen verpleegsters en vroedvroue om algehele gesondheidsdekking teen 2030 te bereik.

“Ons het die jaar begin deur oor die wêreld heen verpleegkunde te vier, maar die feesvieringe is oorgeneem deur pogings om die pandemie te hanteer. Dit het matelose lyding en verwoesting veroorsaak, en tot ekonomiese swaarkry en geestesgesondheidkwessies gelei – en verpleegsters was die voorste linie werkers en die steunpilaar van die stryd," het Jordan gesê.

In Suid-Afrika het sowat 27 360 gesondheidsorgwerkers positief getoets vir Covid-19, en 230 het ongekom weens die virus, waarvan 52 persent verpleegsters was.

Volgens Jordan het verpleegsters in Suid-Afrika teen verskeie uitdagings te staan gekom in die stryd teen die pandemie. Dit sluit in ʼn tekort aan personeel, toerusting, persoonlike beskermingtoerusting (PPE), asook politieke uitdagings soos unie-aktiwiteite en die fisiese en emosionele tol wat die pandemie van hulle geëis het. Dit sluit in die vrees om die virus op te doen en oor te dra, asook angs oor behandelingstrategieë wat aanhoudend verander het.

“Daar was ook uitdagings met palliatiewe sorg aangesien Covid-19 ʼn nuwe diagnose is. Hoe dien jy palliatiewe sorg toe vir iets wat so anders is en wat daagliks verander?"

Verpleegsters het ook geworstel met stigmatisering – baie mense was bekommerd dat hulle aan die virus blootgestel sou word deur verpleegsters of hulle families – asook “rol konflik" oor hoe om hulle energie te verdeel tussen hulle werk tydens die pandemie en hulle familielewe. Dit het baie verpleegsters tot naby aan uitbranding gebring, het Jordan gesê.

Nieteenstaande het verpleegkundiges sterk gestaan ter wille van hulle pasiënte: “hulle het pasiënte deur hulle herstel gesien, en in sommige gevalle, bygestaan tydens ʼn vreedsame dood. Ons verpleegsters was die voorste linie soldate in hierdie oorlog en het die nodige menslike kontak aan pasiënte by die siekbed gebied."

Professor Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het na die 'State of the World's Nursing Report 2020' verwys en gesê dat dit die kollig plaas op die unieke rol wat verpleegsters en vroedvroue speel, en dit behoort as ʼn waarskuwing te dien om te verseker dat hulle die ondersteuning ontvang wat hulle nodig het om hulle rol in die wêreld se gesondheid te speel.

Regerings, organisasies en die publiek oor die algemeen moet oorgaan van “handeklap na belegging" in terme van verpleegkundiges en vroedvroue se integrale rol in gesondheidstelsels in alle lande.

“Ons bring hulde aan verpleegsters, maar nou moet dit oorgaan na belegging," het Klopper gesê.

Die verslag toon ʼn behoefte vir belegging in verpleegkunde onderrig, in werksgeleenthede en in leierskap om die globale gesondheidsorg doelwitte te bereik.

“Verpleegsters maak die grootste deel van die gesondheidsorg werksmag uit – meer as die helfte van alle gesondheidsberoepslui is verpleegsters. Daar is ongeveer 28-miljoen verpleegsters en vroedvroue wêreldwyd. Alhoewel daar ʼn toename van 4,7-miljoen in hierdie getal tussen 2013 en 2017 was, word daar nog baie meer benodig. Afrika is die streek met die grootste tekort aan opgeleide verpleegsters en dus moet ons belê in verpleegkunde onderrig."

Minister Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaap Provinsie se Minister van Gesondheid het gesê dat daar geen beter tyd is vir verpleegkunde om ʼn opkoms te maak as nou nie, aangesien daar “moontlik nog ʼn pandemie gaan wees".

Mbombo het gesê dat dit noodsaaklik is om die lesse wat uit Covid-19 geleer is te gebruik om die gapings in gesondheidsorg te identifiseer.

Sy het bygevoeg dat verpleegster die fisiese en geestelike ondersteuning, asook onderrig moet ontvang om hulle werk te doen.

Professor Glenda Gray, hoofuitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), het ook eer betoon aan verpleegkundiges en het van haar persoonlike ervarings as ʼn pediater gedeel.

“As ʼn jong dokter en pediater, was dit verpleegsters en vroedvroue wat my geleer het, en inderdaad, wat my gehelp het om my eerste baba te vang. Dit was nie die kliniese assistent of die konsultante nie, maar die verpleegsters wat my hand vas gehou het en my gehelp het. Dit is die storie van gesondheidsorg in Suid-Afrika."

Gray het ook die rol wat verpleegster gespeel het in die MIV-, Ebola- en Covid-19-pandemies erken.

Sy het ook vertel van die belangrike rol wat verpleegsters in navorsing speel. “Navorsing in hierdie land kan nie sonder verpleegsters onderneem word nie."

Gray het ook verpleegkundiges geprys omdat hulle hulleself uitgespreek het oor onvoldoende PPE. “Hulle het dit duidelik gemaak dat dit onvoldoende was. As dit nie vir verpleegkundiges was nie, sou ons nie geweet het van onvoldoende PPE en onaanvaarbare werkstoestande nie."

Sy het ook erkenning gegee aan die gehalte van sorg wat hulle tydens die Covid-19-pandemie gelewer het en hoe vinnig hulle die veranderende omstandighede kon omseil.

“Hulle het sterwende pasiënte gehelp om met hulle families in verbinding te tree en het hulle eie selfone en data gebruik om mense buite die hospitaal te bel. Hulle het begrip gehad vir hoe moeilik dit is om sonder die ondersteuning van geliefdes te sterf. Hulle het die versorging gebied. Sonder verpleegsters sou ons nie deur hierdie pandemie gekom het nie. Dit is ʼn baie belangrike jaar om erkenning te gee aan verpleegsters."

Ander paneellede van die webinaar het die volgende mense ingesluit: professor Doreen Kaura, hoof van Sosiale Impak by die US se Departement Verpleeg- en Verloskunde; professor Lydia Aziato, dekaan van die Skool vir Verpleeg- en Verloskunde by die Universiteit van Ghana; en mev Edna Tallam, hoofuitvoerende bestuurder van die Verpleegkunde Raad van Kenia.

 


Bannier-onderskrif: Proff Julia Blitz, Doreen Kaura, Portia Jordan en Hester Klopper.

Insetsel-onderskrif: Prof Julia Blitz, minister Nomafrench Mbombo and proff Glenda Gray, Hester Klopper, Protia Jordan en Koreen Kaura.