Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jimmy Volmink erken met eredoktorsgraad vir ‘buitengewoon uitsonderlike individue’
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Tyrone August
Gepubliseer: 04/11/2020

​ʼn Luisterryke loopbaan van langer as drie dekades het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), al heelwat eerbewyse besorg. Hierdie steeds groeiende lys gaan in Februarie verder aangevul word wanneer die Belgiese universiteit KU Leuven ʼn eredoktorsgraad aan hom toeken.

"KU Leuven het ʼn eeue-lange tradisie van die toekenning van eredoktorsgrade aan buitengewoon uitsonderlike individue," het dié universiteit Volmink onlangs ingelig. "Met die toekenning van hierdie graad wil die universiteitsgemeenskap erkenning aan jou verleen vir jou werk in die stryd teen ongelykheid ten einde menslike waardigheid te bevorder, asook vir jou bydrae tot beide wetenskap en praktyk om gesondheid en welsyn te verbeter."

Hierdie stelling is ʼn bondige en raak beskrywing van die wese van Volmink se loopbaan. Sy toewyding en deernis was van meet af duidelik toe hy ná die voltooiing van ʼn MBChB-graad aan die Universiteit van Kaapstad in 1982 gekies het om by ʼn landelike hospitaal in Swaziland (Eswatini) te werk.

Daarna het hy na Kaapstad teruggekeer, waar hy by die Rooi Kruis-kinderhospitaal (1985) en toe as ʼn gesinsdokter in Mitchells Plain (1986-1993) gewerk het. Hy het ook deeltyds as mediese beampte by die Lentegeur-psigiatriese hospitaal en as distriksgeneesheer in Mitchells Plain (1986-1987) gewerk.

Gedurende dié tydperk het hy ook op die een of ander manier die tyd gevind om ʼn DCH aan die Geneeskundekollege van Suid-Afrika (1986) en ʼn MPH in epidemiologie aan die Harvard-universiteit (1988) te doen, voor hy ʼn spesialis-wetenskaplike by die SA Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se Sentrum vir Epidemiologiese Navorsing in Suider-Afrika (1990-1993) geword het.

Volmink het later sy studies in epidemiologie voortgesit en in 1996 ʼn DPhil-graad aan die Oxford-universiteit verwerf. Dit was in dié tyd dat ʼn toevallige ontmoeting met Sir Iain Chalmers, een van die stigterslede van die Cochrane Collaboration, sy loopbaan ʼn nuwe koers laat inslaan het.

"Die ontmoeting met Iain was ʼn lewensveranderende oomblik," erken Volmink in ʼn onderhoud met die mediese tydskrif The Lancet. "Alles wat ek sedertdien gedoen het, was deur die lens van bewysgebaseerde geneeskunde [BGG]."

Toe die SAMNR hom derhalwe in 1997 genooi het om die SA Cochrane-sentrum (nou SA Cochrane) te vestig, het hy die uitdaging geredelik aanvaar. Dit was die begin van die formele bevordering van BGG in Suid-Afrika, wat op die veronderstelling berus dat besluitneming in gesondheidsorg op betroubare bewyse van kliniese navorsing gegrond moet wees, en nie net op ʼn kundige mening of tradisie nie. 

Vandag is Cochrane SA allerweё bekend vir die gehalte van sy BGG-opleiding en vir die ontwikkeling van verskeie Cochrane-metodologieё en -instrumente. ʼn Hele paar sistematiese oorsigte is voort geproduseer wat Wêreldgesondheidsorganisasie-riglyne asook nasionale beleide beïnvloed het, veral op die gebied van MIV/vigs en tuberkulose.

Volmink het mettertyd internasionale bekendheid verwerf as ʼn leier in hierdie relatief nuwe globale beweging in geneeskunde, wat daarna ook in ʼn hele paar ander dissiplines veld gewen het. In 2015 het hy die Leverhulme-medalje van die Liverpool School of Tropical Medicine ontvang vir sy bydrae tot bewysgebaseerde gesondheidsorg.

Volmink het voorts ʼn betekenisvolle bydrae tot gesondheidswetenskappe-onderwys aan die US gemaak sedert hy in 2006 as Vise-dekaan: Navorsing by die FGGW aangesluit het. Hy het verskeie kursusse in epidemiologie, bewysgebaseerde gesondheidsorg, openbare gesondheid, voorkomende geneeskunde en primêre gesondheidsorg ontwikkel of onderrig en was aan die stuur van die ontwikkeling van ʼn MSc in kliniese epidemiologie.

Volmink het in 2011 Dekaan geword. Sedertdien het die FGGW daarin geslaag om toegang vir studente van ʼn histories benadeelde agtergrond aansienlik te verbeter en tegelyk hoё sukseskoerse te handhaaf.

Onder sy leierskap het die Fakulteit nie net die ontwikkeling van ʼn nuwe generasie van gesondheidsorg-beroepslui en wetenskaplikes ondersteun nie, maar ook ʼn pioniersrol gespeel om opleidingskurrikulums vir gesondheidsorg-beroepslui te hervorm.

Die invloed van Volmink se ouers, James en Johanna, is duidelik nog baie sterk in sy lewe. Al het geldelike beperkings hulle albei verhinder om verder as laerskool te vorder, het hulle altyd die waarde van onderwys benadruk en vyf van hulle sewe kinders het nagraadse kwalifikasies behaal.

Prof John Volmink het, soos sy broer, ook ʼn invloedryke loopbaan in die onderwys uitgekerf. Hy het veral in die na-apartheidsera ʼn leidende rol in kurrikulumhervorming gespeel en wiskunde-onderwys en die gehalteversekering van skoolopleiding bevorder. Hierdie uitstaande bydraes sal erkenning geniet wanneer hy in Desember ʼn eredoktorsgraad in onderwys van die US ontvang.

ʼn Paar weke later sal die Dekaan sy eredoktorsgraad van KU Leuven ontvang as deel van dié universiteit se Patron Saint's Day-vieringe op 2 Februarie. Dis ʼn eer wat Volmink, ʼn verkose lid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika en ʼn verkose genoot van die Royal College of Physicians of Edinburgh, dubbel en dwars verdien.

Die Rektor en Vise-kanselier van die US, prof Wim de Villiers, verwelkom hierdie jongste erkenning van Volmink se bydrae tot die onderwys van geneeskunde en gesondheidswetenskappe: “'n Eredoktorsgraad is een van die hoogste eerbewyse wat aan ʼn akademikus toegeken kan word, veral as dit van ʼn voorste universiteit soos KU Leuven kom.

"Prof Volmink verdien hierdie eer dubbel en dwars en ons is geweldig trots op hom. Hy is nie net ʼn voorste akademikus nie, maar ook ʼn uitstekende administrateur en leier. Veral noemenswaardig is die feit dat hy sy navorsingsloopbaan voortgesit het terwyl hy ook Dekaan was van ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wat onder sy visioenêre leierskap gedy het.

"Met sy internasionale blootstelling aan die opleiding van gesondheidsorg-beroepslui het hy die akademiese en navorsingsuitnemendheid waarvoor die FGGW bekend is, verder versterk. Ons hartlike gelukwensing aan prof Volmink."


Onderskrif: Prof Jimmy Volmink. Foto deur Damien Schumann.