Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe raamwerk sal Wêrelderfenisterreine teen indringerspesies help beskerm
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 21/09/2020

'n Span internasionale wetenskaplikes, insluitend drie navorsers verbonde aan die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch (US), het vorendag gekom met 'n nuwe monitering- en verslagdoeningsraamwerk om Wêrelderfenisterreine teen bykans 300 verskillende uitheemse indringerspesies (mikro-organismes, diere en plante) te beskerm.

Hulle het die huidige status van biologiese indringing en die bestuur daarvan by 241 natuurlike en gemengde Wêrelderfenisterreine wêreldwyd ondersoek. In Suid-Afrika is die Makhonjwaberge by Barberton, die Kaapse planteryk, iSimangaliso-vleilandpark en die Vredefortkoepel bestudeer. Die studie is aan die hand van dokumente van UNESCO en die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) onderneem. Die groep se navorsingsbevindinge het onlangs in Biodiversity and Conservation verskyn.

“Ons ondersoek het getoon dat inligting oor die teenwoordigheid, bedreiging en bestuur van uitheemse indringerspesies by baie van die Wêrelderfenisterreine bra beperk is. Verslae oor die status van biologiese indringing was ook by tye inkonsekwent," sê hoofnavorser dr Ross Shackleton van die SIB en die Instituut vir Geografie en Volhoubaarheid aan die Universiteit van Lausanne, Switserland.

Shackleton voeg by dat die gebrek aan 'n stelselmatige verslagdoeningsmetode dit baie moeilik maak om inligting tussen terreine te vergelyk en 'n indruk van wêreldwye tendense te vorm.

“Minder as die helfte van die Wêrelderfenisterreine wat uitheemse indringerspesies as 'n bedreiging aangedui het, het volledige inligting oor die bestuur van hierdie spesies beskikbaar gehad. Dít onderstreep die behoefte aan 'n goeie monitering- en verslagdoeningsraamwerk vir biologiese indringing by Wêrelderfenisterreine en ander beskermde gebiede wêreldwyd."

Shackleton sê hul raamwerk stel protokolle voor vir dataversameling en verslagdoening oor (i) die maniere waarop uitheemse spesies in Wêrelderfenisgebiede beland, (ii) watter uitheemse spesies tans daar aangetref word, (iii) die impak en bestuur van dié spesies, (iv) 'n voorspelling van toekomstige bedreigings en bestuursbehoeftes, en (v) die identifisering van kennisleemtes. Hierdie inligting kan dan gebruik word om 'n oorhoofse “bedreigingspunt of -vlak" (baie hoog, hoog, matig, laag, of datagebrekkig) aan 'n bepaalde terrein toe te ken.

“'n Kernfaset van die nuwe raamwerk behels 'n lys van alle uitheemse indringerspesies wat op 'n sekere terrein aangetref word. Met daardie inligting kan daar tred gehou word met veranderinge in bedreigings én met die implementering en sukses van indringerspesiebestuur."

Die wetenskaplikes het hul raamwerk by sewe terreine regoor die hele wêreld getoets, waaronder by die Vredefortkoepel in Suid-Afrika. Shackleton sê dié proewe het méér inligting as vorige moniteringsinisiatiewe opgelewer.

“So byvoorbeeld het die IUCN World Heritage Outlook van 2017 die indringerspesiebedreigingsvlak vir die Serengeti, Keoladeo, Donana en Vredefortkoepel as 'datagebrekkig', 'lae bedreiging' of 'nie gelys nie' aangedui. Daarteenoor val ál hierdie Wêrelderfenisterreine nou in die kategorie van matige tot hoë bedreiging van biologiese indringing op grond van ons assessering aan die hand van die raamwerk." Hy voeg by dat hulle ook op 'n paar bestuursuksesse afgekom het, soos Aldabra Atoll, waar indringerspesies weens goeie bestuur afgeneem het.

Shackleton hoop hul raamwerk sal die konsekwentheid, vergelykbaarheid en algehele waarde van toekomstige verslagdoening oor die bedreiging en bestuur van uitheemse indringerspesies by Wêrelderfenisterreine en ander beskermde gebiede verbeter.

“Die gebruik van hierdie raamwerk sal dit makliker maak om vergelykings te tref en beste praktyk tussen terreine uit te ruil, en sal die toekenning en prioritisering van finansiering vir die bestuur van uitheemse indringerspesies help rig. Dit kan ook die grondslag lê vir 'n vryelik beskikbare globale inligtingstelsel met 'n inventaris van indringerspesiebedreigings vir hierdie gebiede."

Medenavorser prof Dave Richardson van die SIB stem saam met Shackleton oor die belang daarvan om hierdie gebiede te beskerm. “Wêrelderfenisterreine het te kampe met 'n al hoe groter bedreiging van biologiese indringing, wat inheemse biodiversiteit en die lewering van ekosisteemdienste in gevaar stel. Boonop is uitheemse indringerspesies 'n finansiële las, want dit kan besonder duur wees om te bestuur."

Die wetenskaplikes stel voor dat monitering en verslagdoening verkieslik deur plaaslike kenners of bestuurders gedoen word, terwyl staatsowerhede die implementering van die raamwerk in vennootskap met plaaslike rolspelers behoort te doen.

  • BRON: Shackleton, R.T. et al.* 'Biological invasions in World Heritage Sites: current status and a proposed monitoring and reporting framework'. Biodiversity and Conservation. DOI: 10.1007/s10531-020-02026-1

*Outeurs van hierdie navorsingsreferaat sluit in Ross Shackleton (Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie – SIB – Universiteit Stellenbosch/Instituut vir Geografie en Volhoubaarheid, Universiteit van Lausanne), Bastian Bertzky (Gesamentlike Navorsingsentrum, Europese Kommissie), Louisa Wood (Sentrum vir Omgewing, Visserye en Akwakultuur, Verenigde Koninkryk), Nancy Bunbury (Seychelle-stigting/Sentrum vir Ekologie en Bewaring, Universiteit van Exeter), Heinke Jäger (Charles Darwin-stigting), Remco van Merm (Internasionale Unie vir Natuurbewaring – IUCN), Christian Sevilla (direktoraat van die Galapagos Nasionale Park), Kevin Smith (IUCN), John Wilson (SIB/Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut), Arne Witt (Sentrum vir Landbou en Biowetenskappe Internasionaal, Nairobi) en Dave Richardson (SIB).

Foto: Vredefort Wêrelderfenisterreine: Krediet: Wikimedia Commons.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Ross Shackleton

Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie/Instituut vir Geografie en Volhoubaarheid Universiteit Stellenbosch/Universiteit van Lausanne

E-pos: rtshackleton@gmail.com


Prof Dave Richardson

Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie

Universiteit Stellenbosch

E-pos: rich@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Mediabestuurder

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za