Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Veg vir vroue se ekonomiese regte
Outeur: Rozanne Engel
Gepubliseer: 13/08/2020

​Dr Nthabiseng Moleko is gewoond daaraan om op 'n hele rits stoele te sit. Sy is 'n dosent en navorser by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, 'n digter, 'n skrywer en dien boonop as 'n kommissaris in die Kommissie op Geslagsgelykheid.

Al is sy 'n baie besige vrou, is Moleko op 'n missie om armoede te verlig en vir die ekonomiese regte van vroue in Suid-Afrika te veg. As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, gesels Moleko met ons oor haar akademiese reis tot dusver, en die belang daarvan om 'n navorsingsgebied te kry wat jou passie aanvul.

Vertel ons meer van jou navorsing.

My navorsing handel hoofsaaklik oor pensioenfondse, spaar en instellings in kapitaalmarkte, met die klem op die implikasies van spaar en kapitaalmarkte vir groei in die ekonomie. Met my navorsing het ek empiries ondersoek ingestel na die uitwerking van pensioenbates en hulle omskakeling in groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ek het ook navorsing gedoen oor hoe om vroue se deelname aan die ekonomie te verhoog, met die klem op die wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskundesfeer, ambagspersoneel en vervaardiging. Daarbenewens het ek die moniteringsinstrumente in die nasionale genderbestel beoordeel. Dít was vir 'n publikasie van die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktyke oor die rol van vroue by die werk en in die ekonomie.

Waarom of hoe is jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied aangewakker?

Toe ek met my navorsing begin het, het ek as praktisyn 'n leemte geïdentifiseer, en besef dat ek op nasionale vlak sal moet ondersoek instel. Die onderwerp het gespruit uit my eie werkservaring in 'n batebestuursmaatskappy in beheer van Afrika se grootste infrastruktuurfonds in die pensioenfondsbestuursbedryf. Ek het belang gestel in hoe 'n mens die verband tussen finansiële markte, veral pensioenfondse, en nasionale ontwikkelingsdoelwitte kan versterk. Dít het ingesluit die vermindering van armoede en die verhoging van nasionale produktiwiteit en ekonomiese uitsette met behulp van 'n Afrikamodel vir kapitaalmarkte. Op grond van my werkservaring in sowel die privaat as openbare sektor het ek 'n navorsingsleemte geïdentifiseer, naamlik hoe pensioenfondse gebruik kan word om nasionale ontwikkeling in ontluikende markte te bevorder, waaroor daar tot in daardie stadium maar nog weinig navorsing in Suid-Afrika gedoen is. Boonop is my belangstelling verder aangevuur deur my begeerte om te sorg dat die swak ekonomiese uitkomste vir vroue verbeter word.

Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?

My werk vir my doktorale tesis het ondersoek ingestel na die omskakeling van pensioenspaargeld in groei. Die verband en ko-integrasie tussen spaargeld, aandele- en effektemarkte en groei, wat met empiriese ontleding bepaal kan word, het 'n direkte invloed op mense se bestaan. Die boodskap is dat vroue wél kwantitatiewe en statistiese studieterreine kan betree waar daar nog betreklik min navorsing gedoen is. Ongeag hoe tegnies of kompleks die werk is, kan ons dit ook doen! 

Wat dink jy is die grootste impak van jou navorsing op vroue in die land?

Die vermoë om te inspireer en die akademiese ruimte as die eerste vrou in hierdie dissipline te betree is nie net grensverskuiwend nie, maar ook waarlik lewensveranderend, want jy kan na nuwe maniere soek om nasionale probleme op te los, en navorsing gebruik om oplossings op die gebied van ontwikkelingsfinansiering te bedink en te skep. Universiteite is belangrike instaatstellers vir die skep van kennis en idees wat grense verskuif, oplossings skep en beleidvormers met advies kan bystaan. Indien dit geïmplementeer word, sal die beleidsaanbevelings uit my navorsing die ekonomiese voordeel en groei-uitkomste oplewer wat Suid-Afrika nodig het, wat vroue en arm mense se lewens direk sal verbeter.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

 Beplan jou akademiese reis en soek na 'n navorsingsgebied wat jou passie, belangstellings en langtermyndoelwitte aanvul sodat jy jou navorsing met jou lewe ná navorsing, hetsy binne of buite die akademie, kan verenig. Ons benodig oplossings vir die vele probleme en komplekse kwessies waarvoor ons op die vasteland te staan kom, hetsy ekonomies, in gesondheidsorg, wetenskaplik, in die beboude omgewing en alle ander sfere en dissiplines. Ek is trots daarop om swart te wees, in die akademie te staan, en in die kwantitatiewe en ekonomiese ruimte te werk, wat meestal deur mans oorheers word. As daar vir my, 'n meisie van Umtata, kon deure oopgaan, kan dit vir ander meisies óók gebeur, ongeag waar hulle vandaan kom.

Volg Moleko op Twitter en Instagram by @drnthabimoleko