Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Media help in stryd teen korrupsie
Outeur: Thuli Madonsela
Gepubliseer: 15/07/2020

Die media help om korrupsie te beveg en ʼn oop en deursigtige demokrasie te bevorder, skryf prof Thuli Madonsela (Sosiale Geregtigheid) in ʼn meningsartikel vir News24 (14 Julie)

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Thuli Madonsela*

Bietjie meer as 'n eeu gelede het Louis Brandeis, wat later 'n regter in die Amerikaanse Hooggeregshof sou word, die alombekende spreekwoord, “sonskyn is die beste ontsmettingsmiddel", neergepen.

Dit wil lyk asof voorlopige wetenskaplike waarnemings oor die ontmagtigende uitwerking van die son op COVID-19 se ontsmettingskrag beaam.

Wetenskaplikes het tot dusver 'n teorie geformuleer dat sonskyn 'n bondgenoot in die stryd teen COVID-19 is. Volgens hulle is dit omdat die virus beter in koue omgewings floreer. Die ernstige uitwerking wat dit in baie Europese lande gehad het, word deels toegeskryf aan die feit dat COVID-19 daardie wêrelddeel in die winter getref het. Hierdie winteruitdaging staar tans ook Suid-Afrika se pogings om COVID-19 te stuit, in die gesig.

Maar regter Brandeis het nie letterlik na sonskyn verwys nie.

Sy volledige stelling was: “Publisiteit word met reg as 'n teenmiddel vir sosiale en nywerheidsiektes geloof. Sonlig word as die beste ontsmettingsmiddel beskou; elektriese lig is die doeltreffendste polisieman."

Hy het na die belangrikheid van openhartigheid en deursigtigheid verwys om diegene wat toevertroude mag uitoefen, in toom te hou.

Hierdie en verwante gedagtes oor die belangrikheid van publisiteit vir integriteit kom in 'n artikel wat in 1913 in Harpers' Weekly verskyn het, voor en verskyn ook latter in 'n boek getiteld Other People's Money – and How the Bankers Use It.

Die sonskyn-spreekwoord word deesdae in demokrasiegesprekke oor deursigtigheid as 'n belangrike pilaar van openbare verantwoordbaarheid gebruik.

Transparency International is byvoorbeeld gebou op die belangrikheid van deursigtigheid om korrupsie te beveg ter bevordering van wêreldwye integriteit. In hierdie verband word die media as 'n belangrike fasiliteerder van publisiteit beskou, veral die gebruik van openbare hulpbronne en die ontstaan van beleidsrigtings.

Sonskynwette  

In 'n artikel wat ek in 2017 geskryf het, verwys ek na sommige Amerikaanse state wat sogenaamde “sonskynwette" het. Soos ek verstaan, het hierdie wette onstaan as gevolg van landsburgers se pogings om terug te veg teen staatskaping.

Volgens vertelling was die eerste sonskynwette in reaksie op groot maatskappye se beleidskaping deur verkiesingsfinansiering.

Daar word vertel dat 'n openbare verteenwoordiger deur sy party uit sy amp verwyder is nadat hy teen 'n beleid gestem het waarvan 'n maatskappy wat sy party se verkiesingsveldtog gefinansier het, 'n voorstander was. Die publiek het egter sake in eie hande geneem en aangedring op deursigtigheid oor partyfinansiering, oop munisipale vergaderings en die bekendmaking van alle vergaderings wat deur mense in openbare magsposisies gehou word.

Julle sal met my saamstem dat deursigtigheid in die moderne wêreld onmoontlik is sonder die media. Gegewe dat ons nie meer in klein nedersettings en dorpies woon nie, is die media die mees konsekwente en omvangryke manier waarop die meeste van ons kan uitvind wat met ons demokratiese mag en kollektiewe hulpbronne gedoen word.

Dit is onbetwisbaar dat die media dikwels verkeerd is. Maar dit is my oorwoë mening dat dit baie beter is om 'n media te hê wat soms verkeerd is, eerder as om in die duister te wees terwyl die regering en maatskappye maak soos hulle wil sonder verantwoordbaarheid.

Die kultuur van regverdiging wat volgens Etienne Mureinik in sy gedagteprikkelende artikel oor administratiewe geregtigheid deur die huidige Grondwet ingelui is, sal onmoontlik wees sonder 'n vrye pers en breër media. Myns insiens is die reklamerol van die media die grootste instaatsteller vir die oop en deursigtige demokrasie wat in ons Grondwet in die vooruitsig gestel is.

My ondervinding as openbare beskermer en verdediger van demokrasie het my tot die gevolgtrekking laat kom dat publisiteit beide 'n entstof en 'n teenmiddel teen die onbehoorlike uitoefening van toevertroude mag en hulpbronne in die regering, die sakewêreld en die maatskaplike sektor is.

Die entstof hou verband met die vrees vir negatiewe publisiteit as 'n afskrikmiddel, terwyl die teenmiddel na publisiteit verwys as 'n instaatsteller vir vinnige aksie om korrupsie, onbekwaamheid en ander onbehoorlikhede in die uitoefening van toevertroude mag te bekamp. Die media is ook 'n redelik toeganklike en belangrike opvoedingsplatform wat min kos.

Teen wat moet die media dan verdedig word? Calvin Coolidge het eenkeer gesê: “Wanneer tirannie gedy, word bronne van openbare inligting eerste onder beheer gebring."

Bestaansbedreiging 

Die demokratiese Suid-Afrika is een van die min lande in die wêreld waar die muilband van die pers nooit krisisafmetings aangeneem het nie.

Daar was 'n paar jaar gelede kommer oor die wetsontwerp op die beveiliging van inligting en meer onlangs oor die kriminalisering van fopnuus wat met COVID-19 verband hou en die aanwending van advertensiebesteding vir beheer. Nie een daarvan het die grondwetlike metodes vir negatiewe reaksie deur burgerlike optrede, politieke dialoog en die howe oorskry nie.

Die media staar egter 'n bestaansbedreiging in die gesig. Baie mediahuise is aan die toemaak.

Die vyand is dalende inkomste, hoofsaaklik omdat advertensiespandering en verkope opgedroog het. Die COVID-19-inperking het die situasie vererger. Sommiges was behendig genoeg om aanlyn te verskuif.

Ander – meestal in kleiner dorpe – kon egter nie deur 'n aanlyn-verskuiwing gered word nie, aangesien lesers nog nie gereed was om nuus aanlyn te ontvang nie. Die hartseer saak is dat teen die tyd dat daar genoeg aanlyn-belangstelling is, van die koerante en tydskrifte moontlik nie sal kan herleef nie.

Aanlyn het ook sy gevare.  

News24 is byvoorbeeld reeds geruime tyd aanlyn en daarom kon dit 'n aansienlike gedeelte van die digitale generasie – millenniërs en generasie Z – aangryp. Maar dis is nie 'n kohort wat daaraan gewoond is om te betaal nie. Persoonlik is ek hartseer oor vrouetydskrifte soos Marie Claire, Destiny en Cosmopolitan wat opgegee het. Ek het baie uit hierdie tydskrifte wys geword en baie inligting uit hulle versamel.

Belegging 

Kan sosiale media hierdie leemte vul? Tot 'n sekere mate het dit reeds. Maar in soverre dit kwessies soos inligtingsintegriteit, insluitende die beperking van fopnuus, aangaan, bly die formele identifiseerbare en verantwoordbare media egter noodsaaklik.

Wat moet gedoen word?

Ek glo mediahuise moet saamspan om aanlyn-subskripsies aan te moedig. Adverteerders moet ook by die soektog aansluit, selfs al is die leserstal aanvanklik nie bevredigend nie. Skare-befondsing moet ook as 'n aanvullende inkomste behou word.

Die motivering moet wees om in die toekoms wat ons wil hê, te belê deur ons demokrasie en integriteit-ekostelsel te troetel. Indien ons, soos regter Louis Brandeis, glo dat sonskyn die beste soort ontsmettingsmiddel is, moet ons demokrasie anker deur die media in staat te stel om met sy rol van publisiteit voort te gaan. Om integriteite binne die media self te verbeter, is 'n verskeidenheid van stemme van die grootste belang.

* Professor Thuli Madonsela is die bekleër van die leerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Thuma-stigting.