Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe reeks potgooie beklemtoon US-navorsing
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 03/07/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n nuwe potgooikanaal bekendgestel om die aandag op aktuele onderwerpe en innoverende navorsing wat by die Universiteit gedoen word, te vestig.

Die potgooikanaal, wat deur die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie geskep is en bestuur word, staan as talk@stellenboschuni bekend en bied aan kundiges van die US 'n platform om oor hul werk buite die tradisionele vorme van akademiese gesprek te praat.

Die eerste reeks potgooie kyk na hoe die COVID-19-pandemie verskillende aspekte in ons lewens raak. Sommige van hierdie en ander onderwerpe en van die kundige navorsers in gesprek op die potgooi, sluit in:

  • Prof Wim de Villiers praat oor sy rol en ondervindings as Rektor en Visekanselier by die US.
  • Prof Sandy Liebenberg bespreek sosio-ekonomiese regte gedurende COVID-19.
  • Prof Michael le Cordeur bekyk die uitwerking wat die COVID-19-pandemie op ons demokrasie het, asook verskeie kwessies wat met onderwys verband hou.
  • Me Ilhaam Groenewald praat oor die uitwerking van die COVID-19-pandemie en die inperking van sport wat dit tot gevolg gehad het.
  • Prof Jason Bantjes bespreek studente se geestesgesondheidsprobleme.
  • Dr Elsje Pieterse van die departement Veekundige Wetenskappe praat oor die idee om met insekte te boer vir gebruik as voedsel, bioplastiek, dierevoeding en selfs as alternatief vir antibiotika.
  • Dr Morne Mostert van die Instituut vir Toekomsnavorsing gee wenke wat senior besluitnemers en studente kan help om gedurende en ná die COVID-19-pandemie strategies oor die toekoms te dink.
  • Prof Zwelinzima Ndevu, Direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap, bespreek die Suid-Afrikaanse regering se leierskap gedurende die COVID-19-pandemie.  
  • In haar gesprek werp me Anika Berning van die departement Ondernemingbestuur lig op die uitdagings wat niewinsgewende organisasies in die gesig staar in hul poging om die nood van miljoene Suid-Afrikaners gedurende die staat van inperking te verlig.
  • Prof Brian van Wilgen van die Sentrum van Uitnemende in Indringerbiologie praat oor die uitwerking van indringerspesies in Suid-Afrika en wat gedoen moet word om hulle te beheer.
  • Dr Stephanie Vos van die Africa Open-instituut bespreek die belangrikheid daarvan om uit plaaslike kunstenaars, vervaardigers en luisteraars se oogpunt na populêre musiek te kyk.  
  • Prof Bruce Watson van die departement Inligtingwetenskap verskaf wenke oor hoe jy jouself gedurende die staat van inperking teen kubermisdaad kan beskerm.
  • Dr Callixte Kavuro van die departement Publiekreg ondersoek die nood en uitdagings van vlugtelinge en asielsoekers ter viering van die Wêrelddag vir Vlugtelinge (20 Junie).
  • Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, vertel hoe sy verantwoordelikheidsentrum help om transformasie en diversiteit by die Universiteit Stellenbosch en verder te bevorder.
  • Prof Aslam Fataar van die departement Opvoedingsbeleidstudie bespreek hoe onderwysers bo en behalwe hul plig gaan om aan leerders se behoeftes te voorsien gedurende die COVID-19-pandemie, en ter viering van Jeugmaand praat Unopachido Mubaiwa, 'n honneursstudent in Sielkunde, oor jongmense se kragtige vermoë om transformasie in die samelewing teweeg te bring.
  • Ingrid Heydenrych, 'n filosofiestudent en lid van die SR, bespreek studenteleiers se uitdagings gedurende die COVID-19-pandemie om in aanraking te bly met hul medestudente.
  • Delecia Davids, 'n Mandela Rhodes-beurshouer en meesterstudent in Opvoedingsbeleidstudie, kyk na sommige van die dringende uitdagings waarmee jongmense te kampe het en die voorsitter van die SR, Lewis Mboko, praat oor jongmense se uitdagings gedurende die COVID-19-pandemie en wat hulle kan doen om bo hierdie uitdagings uit te styg.

Die potgooi is op die US-webwerf beskikbaar via die volgende potgooi-dienste: Anchor, iTunes, Google Podcast, Poketcast, Breaker en Spotify. ​