Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons sal sáám ʼn post-COVID-19-wêreld moet bou
Outeur: Arnold Smit
Gepubliseer: 17/06/2020

Ons sal saam ʼn beter, meer gebalanseerde en meer deernisvolle wêreld moet bou wanneer die COVID-19-pandemie verby is, skryf prof Arnold Smit van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool in ʼn meningsartikel vir Fin24 (16 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Arnold Smit*

In 'n aangrypende gedig vertel Warsan Shire hoe sy een nag met 'n atlas op haar skoot gesit het met haar vingers oor die hele wêreld terwyl sy die vraag fluister: 'waar is dit seer?'. Die atlas het geantwoord “oral, oral, oral".

Sedert ek die gedig van Shire ontdek het, het ek dit gebruik as 'n lens op mense se ervaring van die huidige konteks waarin ons verkeer. Daar gaan nie 'n dag verby sonder 'n opdatering oor die statistieke van die koronavirus oor deur lande, gemeenskappe en huishoudings spoel nie. Ons kan ook nie die tonele wat in hospitale afspeel, die rou van die bedroefdes en die voorbereiding van grafte vir wat nog moet kom vermy nie. Waar is dit seer? Oral.

Presies twee weke ná die dood van George Floyd in Minneapolis, het ek dit gebruik om 'n aanlynwerkswinkel oor waardes te open. Nie net het hierdie groep mans en vrouens die gedig met die stygende golf van woede en hartseer oor die hele wêreld geassosieer nie, dit het vir hulle ook hul eie pynlike herinneringe van wat apartheid aan hulle, hul gesinne en gemeenskappe gedoen het oopgevlek. Waar is dit seer? Oral.

In 'n werkswinkel met 'n groep uitvoerende beamptes van een van die voorste kleinhandelgroepe in Suid-Afrika, het ek geluister na hul stories oor hulle die impak van Covid-19 hanteer. Die aanvanklike sakeprojeksies vir 2020 het 'n nagmerrie geword, aangesien begrotings hersien moes word terwyl hulle alles moontlik gedoen het om die impak op werknemers, verskaffers, huurders en kliënte te versag. Waar is dit seer? Oral.

Die interaksie met studente in 'n omgewing van afstandsleer bied ʼn blik op hul huishoudelike uitdagings tydens die inperking. Vir sommige is werkverlies al 'n werklikheid. Baie moet terselfdertyd die werk, hul studies en gesinsverantwoordelikhede hanteer. Sommige moes hul huweliksreëlings verander terwyl ander met dood in hul gesinne en sosiale netwerke moet reken. Vir baie voel dit asof daar 'n gordyn op hul toekomsplanne gesak het. Waar is dit seer? Oral.

Nie in die draaiboek nie

Covid-19 was beslis nie in ons draaiboek vir 2020 nie.

Skielik het dit die kodewoord geword vir 'n allesomvattende ervaring van verandering en verlies wat oor alles spoel wat voorheen bekend, gemaklik en selfs voorspelbaar gevoel het. Die lewe waaraan ons gewoond was, is heeltemal ontwrig, of ons dit vanuit 'n individuele, verhoudings-, organisatoriese of samelewingsperspektief beskou. Dit sal nie 'n oordrywing wees om te sê dat ons tans 'n samelewing in rou is nie. Dit is oral seer.

Hoewel dit swaar gaan, kan dit ons goed doen om sin te maak uit wat ons tans ervaar. Een manier om daarna te kyk is vanuit die perspektief van Elisabeth Kübler-Ross, 'n model van wat mense ervaar rondom dood en sterwe. Hoewel haar idee van 'n rou-siklus as sodanig deur baie mense gekritiseer is, is daar tog ʼn sensitiwiteit in die vyf kern-emosies wat sy geïdentifiseer het.

  • Ontkenning is dikwels die eerste reaksie en word uitgedruk in die aanname dat iets nie waar óf so sleg is as wat berig word nie.
  • Woede verteenwoordig die begeerte na 'n sondebok, die moontlikheid dat iets of iemand die skuld moet kry vir die uitdaging waarmee jy te gekonfronteer word.
  • Bedinging is om te soek na 'n manier, 'n soort kompromie, om die impak te vermy of te versag, om voort te kan gaan met dit waaraan jy altyd gewoond was.
  • Depressie is 'n wanhopige besef dat die krisis nie sal verdwyn nie, dat omstandighede nie sal verander nie, dat die verandering permanent is en dat daar geen terugkeer sal wees na wat voorheen was nie.
  • Aanvaarding gaan oor die omarming van die verlies óf die onvermydelike verandering wat gaan plaasvind, om vrede te maak met wat jy nie kan verander nie, en om te fokus op dit wat jy kan beïnvloed of 'n mate van beheer oor het.

Dis nie moelik om Covid-19 met die Kübler-Ross-raamwerk te verbind nie. Sedert die begin van die pandemie, en veral sedert die aankondiging van die inperking, het jy miskien ook al hierdie emosies ervaar. Jy het moontlik 'n soort opeenvolging ervaar, ʼn beweging vanaf die een na die ander, asof hulle die fases van jou ervaring voorgestel het. Jy het moontlik verskillende dinge op verskillende tye ervaar, afhangende van watter soort Covid-19-verwante impak jy moes hanteer. Jy mag dalk vind dat jy in ʼn spesifieke een vasgekeer is, as gevolg van 'n verskeidenheid uitdagings wat jy terselfdertyd moet hanteer.

As ons die Kübler-Ross-raamwerk toepas, kan ons sê dat ons hierdie emosies ervaar as gevolg van hartseer weens verlies: verlies aan toekomstige sekerheid, verlies aan werknemers, verlies aan verskaffers, verlies aan inkomste, verlies aan normale interaksie en sosialisering, lewensverlies, verlies aan vryheid, verlies van drome. Waar is dit seer? Oral.

Die sesde element

So, hoe maak ons sin van die Covid-19-uitdaging? David Kessler, 'n wêreldbekende kenner van rou, het saam met Elizabeth Kübler-Ross geskryf en 'n sesde element tot haar raamwerk gevoeg, naamlik sin.

In hierdie konteks verwys sin na die aanvaarding en integrasie van die impak van die verandering of verlies, en om nuwe moed en rigting te vind vir wat nog kan kom. In 'n bespreking met 'n groep personeellede van die Harvard Business Review het Kessler gesê dat “aanvaarding is waar die mag lê".

Sodra ons aanvaar het wat is, kan ons begin met 'n gebalanseerde benadering in terme van wat ons dink en doen. Ons kan voorsorg tref om nie geaffekteer te word nie, ons kan die dinge waartoe ons nog toegang het waardeer, ons kan uitreik na diegene wat siek is of verlies ervaar het, ons kan tegnologie gebruik om in kontak te bly, ons kan ook met ander deel en hulle help en ook uitdrukking gee aan die emosies wat ons ervaar.

Hulpmiddels vir sakeleiers

Dit is oral seer. Dit help nie om dit te beveg of te ontken nie. Maar ons kan sin maak deur dit te hanteer. In 'n webinaar vir leiers en bestuurders in die sakewêreld, het ek die volgende riglyne gedeel:

  • Maak seker jy het beheer oor die dinge het wat die grondslag van organisasie is. In soverre dit onder jy beheer is, beplan versigtig, bly kreatief, spandeer verstandig. Jy en jou mense het dit nodig vir stabiliteit.
  • Sorg dat jy in kontak bly met elke individu, selfs daagliks as jy kan, sodat jy kan weet waar hulle is, hoe hulle is, wat hulle ervaar, wat hulle kan of nie kan hanteer nie. Dit gaan nie net oor hul voortgesette prestasie nie, maar ook oor hul persoonlike en verhoudingswelwees. Hulle moet weet en voel dat jy regtig omgee.
  • Moenie probeer om mense uit te praat oor hoe hulle voel nie, of aan hulle voor te skryf hoe hulle moet voel, of om goedkoop vertroosting aan hulle te verkoop nie. As jy dit doen, skep jy slegs onnodige afstand en weerstand. Jy het mag dieselfde gevoel en nou is dit jou beurt om hulle ernstig op te neem en te wys jy verstaan waardeur hulle gaan.
  • Wees gereed en beskikbaar om ook deur jou spanlede versorg te word. Dit kan soms gebeur dat sommige van hulle beter toegerus is om sekere emosies en ervarings te hanteer as wat jy is. Daar mag uitdagings wees waardeur sommige van hulle al gewerk het wat jy nog moet hanteer. Laat hulle van hulp wees.
  • Handhaaf die nodige veiligheidsdissiplines, hou die werkplek skoon, maak seker dat almal hul hande was, maskers dra en die regte afstand hou. Hou die virus buite; as dit eers in is, is dit reeds te laat.

Dit is oral seer. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons sal ons drome vir onsself, ons gemeenskappe, die samelewing en die ekonomie moet herbou.

Ons kry saam seer, al is dit op verskillende maniere, maar sal moet leer hoe om weer saam te herbou. Terwyl die pandemie, en die verwante gevolge daarvan, ons met 'n onuitwisbare kollektiewe gevoel van hartseer laat, kan dit ook die wedergeboorte van verbeelding vir 'n beter, meer gebalanseerde en meer deernisvolle wêreld word.

*Arnold Smit is 'n medeprofessor in Sake in die Samelewing aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).