Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tien US-finaliste ding mee om SA se ‘Wetenskap-Oscars’
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/06/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) was die afgelope klompie jare goed verteenwoordig by die jaarlikse Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekennings (of te wel die NSTF/South32 Awards). Vanjaar is geen uitsondering nie met 10 finaliste wat om toekennings sal meeding by Suid-Afrika se “Wetenskap-Oscars". Die wenners sal op 30 Julie tydens ʼn virtuele oorhandigingsfunksie bekendgemaak word weens die COVID-19-pandemie.

Die NWTF/South32-toekennings word as die mees gesogte nasionale eerbewyse van hul soort beskou en gee erkenning aan, vier en beloon uitsonderlike bydraes tot die Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie en Innovasie (die sogenaamde WETI-omgewing) deur WETI-verwante beroepslui en organisasies in die land. Onder die mededingers is ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikasiespesialiste, ingenieurskapasiteitsbouers, organisatoriese bestuurders en leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om as finalis benoem te word, gegewe die gehalte van die nominasies wat elke jaar ontvang word, die felle mededinging en die toenemende belangstelling uit die WETI-gemeenskap.

Die US-finaliste (met departement of omgewing) en die kategorieë waarin hulle genomineer is, is soos volg:

Leeftyd-toekenning:

  • Prof Leslie Swartz (Departement Sielkunde)

TW Kambule/NWTF-toekenning: Navorser:

  • Prof Christine Lochner (Suid-Afrikaanse MNR Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Geestesversteuring en Departement Psigiatrie)

TW Kambule/NWTF-toekenning: Opkomende Navorser:

  • Dr Wynand Goosen (Sentrum vir Uitnemendheid in Biomediese TB-navorsing, Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe)
  • Prof Richard Walls (Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing)
  • Dr Jacqueline Wormersley (Departement Psigatrie)

NWTF/Lewis-stigting Groen Ekonomie-toekening:

  • Prof Thinus Booysen (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese). Hy ding ook mee om die NWTF/Waternavorsingkommissie-toekenning.
  • Prof Wikus van Niekerk (Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energie-studies)
  • Sharksafe (Edms) Bpk met hoof-uitvoerende beampte en mede-uitvinder prof Conrad Matthee (Departement Plant- en Dierkunde)

Data vir Navorsing-toekenning:

  • Universiteit Stellenbosch Rekenaar-tomografie-groep met spanleier Prof Anton du Plessis (Departement Fisika)

​Kommunikasie-toekenning:

  • Dr Rehana Malgas-Enus (Departement Chemie en Polimeerwetenskap)​