Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika verenig in stryd teen COVID-19
Outeur: Nico Elema
Gepubliseer: 25/05/2020

Op Maandag (25 Mei) vier ons Afrikadag. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf dr Nico Elema van die Sentrum vir Samewerking in Afrika hoe mense op die kontinent saamstaan in die stryd teen  COVID-19.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder.

Afrika verenig in die stryd teen COVID-19

Nico Elema* 

Die jaar 2020 sal waarskynlik onthou word vir die manier waarop die COVID-19-pandemie die wêreld tot stilstand kon dwing. In die onlangse geskiedenis het ander pandemies soos SARS (2002), H1N1 Varkgriep (2009) en MERS (2012) wel 'n wêreldwye reaksie en ontwrigting veroorsaak, maar dit is waarskynlik billik om te sê dat die COVID-19-pandemie 'n wêreldwye reaksie veroorsaak het soos nog nooit tevore gesien nie, met terme soos of 'algehele inperking (lockdown), 'sosiale afstandskepping' (social distancing) en 'die nuwe normaal' (the new normal) wat nou deel uitmaak van ons algemene woordeskat.

Terwyl ons Afrikadag op 25 Mei vier, is ons nog steeds in die greep van die COVID-19-pandemie. Tot op hede, gegrond op die aantal gevalle, het die episentrum van China na Europa na Noord-Amerika verskuif, en baie hou hul asem op oor die verwagte impak op Afrika. Volgens die  Wêreldgesondheidsorganisasie het Afrika tot dusver 1,33% van alle gevalle aangemeld. Durf ek sê 'slegs' 1,33% as 'n mens in ag neem dat die Amerikas 44% van alle gevalle aangeteken het, Europa 40%, die Oostelike Middellandse See 7%, die Wes-Stille Oseaan 4%, en Suidoos-Asië 3%, Afrika, met sy 1,3 miljard mense of byna 17% van die wêreldbevolking? Wat Afrika se lae infeksiesyfer betref, meen kenners daar is onvoldoende toetse, terwyl ander wonder waarom die hospitale nie oorvol is met pasiënte wat COVID-19 simptome toon nie. Die uitspraak is dus dalk nog nie gelewer nie, en ons sal waarskynlik mettertyd die volle omvang van dít wat ons nou in die gesig staar, kan begryp.

Baie dele van Afrika is inderdaad yl bevolk, maar volgens die Verenigde Nasies woon sowat 40 tot 45% van alle Afrikane in stedelike gebiede, met baie wat in 'n aantal reusestede soos Lagos, Kinshasa, Addis Abeba, Kaïro en Johannesburg woon. Om die verspreiding van COVID-19 onder hierdie mense en diegene wat in die gebiede aangrensend aan die stede en op die platteland woon, te voorkom, word sosiale afstandskepping en die gereelde was van hande sterk aanbeveel. Die uitdaging is egter dít: UNICEF skat dat 63% van die mense (of 258 miljoen mense) in stedelike gebiede suid van die Sahara tuis geen toegang tot geriewe het om hande te was nie. Gegewe Afrika se hoë verstedelikingskoers en beperkte toegang tot water, kan die vraag gevra word of ons op 'n spreekwoordelike tydbom sit?

Terwyl daar geen bloudruk bestaan oor hoe om op die COVID-19-pandemie te reageer nie, is inperkingsmaatreëls in baie lande aan die orde van die dag. Ongelykhede word wêreldwyd uitgelig, waar dié wat het, in staat is om die aanslag van die coronavirus-pandemie te weerstaan, terwyl diegene wat nie het nie, sukkel om hul volgende maaltyd bymekaar te skraap. Talle Afrikalande se ekonomieë is op informele arbeidsmarkte met 'n hoë werkloosheidsyfer gegrond en hier sal inperkingsmaatreëls verseker die werkloosheidskoers verhoog. Dit sal druk op die maatskaplike welsyn van lande plaas, met die potensiaal om die ekonomiese winste wat die afgelope paar jaar behaal is, uit te wis. Nie minder nie as 20 Afrikalande het byvoorbeeld die afgelope paar jaar 'n jaarlikse bruto binnelandse groeikoers van meer as 5% getoon. Dit sluit onder meer lande soos Ethiopië, Rwanda, Ghana, Tanzanië, Egipte en Kenia in. 'n Mens wonder hoe sterk hierdie ekonomieë is, en of hulle die impak van die COVID-19-pandemie sal kan weerstaan.

Ondanks hierdie sombere prentjie, is daar positiewe redes waarom ons Afrikadag vier. Die gevoel is dat Afrika verenig is in sy stryd teen die coronavirus-pandemie. Deur sy Afrika-unie Ontwikkelingsagentskap, NEPAD (AUDA-NEPAD), koördineer die Afrika-unie op 'n hoë vlak verskillende pogings in reaksie op die pandemie. Die AUDA-NEPAD-reaksieplan van aksie op COVID-19 is aan die begin van April van stapel gestuur, met pogings wat op ses fokusgebiede gerig word: gesondheidstelsels, voedselstelsels, vaardigheidsontwikkeling en indiensneming, onderwys, nasionale beplanning en datastelsels en volhoubare toerisme. Verskeie reaksies het al uit hierdie fokusgebiede voortgevloei, soos die AUDA-NEPAD-aanlyn-paneelbord wat belangrike inligting oor COVID-19-gevalle aan besluitnemers voorsien.

Die gevoel van solidariteit en eenheid is ook in hoër onderwys op die vasteland sigbaar. Die Institut Pasteur in Dakar, Senegal, wat oor 'n rykdom kennis in die hantering van Vigs en Ebola beskik, vervaardig byvoorbeeld vinnige COVID-19-toetsstelle teen $1. By die Universiteit van Ghana het wetenskaplikes daarin geslaag om opeenvolging van die genoom van die coronavirus in Ghana te bepaal. By die Addis Abeba-universiteit in Ethiopië word navorsing gedoen om die psigososiale en ekonomiese gevolge van die huidige pandemie te bepaal.

In Uganda is die Makerere-universiteit deel van die ontwikkelingspan van die Coronavirus Resource Centre, 'n webwerf wat gestig is om mense se begrip van die virus te bevorder, om die publiek en beleidmakers in te lig ten einde rigting aan reaksie te gee, sorg te verbeter en lewens in Uganda te red. Aangesien die span van die Makerere-universiteit veral fokus op navorsing en uitreike wat met die gesondheid van vlugtelinge verband hou, gee hulle tans baie aandag aan die monitering van COVID-19 in vlugtelinggemeenskappe en -kampe in die land. Verder in die Oos-Afrikaanse streek het wetenskaplikes van die Universiteit van Nairobi ook bevind dat 10% van vlermuise draers van die coronavirus is.  

Aan die Bahir Dar-universiteit in Ethiopië werk kollegas nou saam met die federale regering om tegniese ondersteuning en raad te verleen. Dit het bygedra tot die mobilisering van die gemeenskap vir COVID-19-aksieplanne vir voorkoming, behandeling en hersteloperasies en die streeksnoodsentrum. Net so werk kollegas by die Universiteit van Antananarivo in Madagaskar nou saam met die land se Ministeries van Ramprisikobestuur en van Bevolking, Maatskaplike Beskerming en Vroue-bevordering om raad te gee oor strategieë en bewustheid oor COVID-19 in Madagaskar te skep. By my eie instelling, die Universiteit Stellenbosch, het ons Afdeling Navorsingsontwikkeling nie minder nie as 23 navorsingsinisiatiewe geregistreer wat spesifiek met die COVID-19-pandemie verband hou – sommige is reeds afgehandel en ander is aan die gang en wag op etiese goedkeuring.

Dit is slegs 'n paar voorbeelde wat bewys dat hoëronderwysinrigtings en baie ander organisasies in Afrika 'n rol kan speel om gesamentlik hul mede-inwoners van Afrika te help om die pandemie trompop te loop en – in die woorde van die befaamde Afrika-digter, Ben Okri – “soos leeus op te staan".

Hoewel ons gedwing is om die kompas weer van voor af in te peil en om in 2020 Afrikadag anders te vier, voel ek beslis dat ons hierdeur sal kom en ons op 'n beter plek sal bevind.

*Dr Nico Elema is die bestuurder van die Sentrum vir Samewerking in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch.