Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ramprisikonetwerk Periperi U spring in om COVID-19 in Afrika te help bestry
Outeur: SU International
Gepubliseer: 21/05/2020

Die Afrikabevolking is die snels groeiende ter wêreld. Die vasteland sal oor die volgende twee dekades byna die helfte van die wêreld se totale bevolkingsgroei uitmaak. Wanneer 'n ramp dus die vasteland tref, is die uitwerking op mense se lewens en bestaan dikwels uiters ingrypend en ontwrigtend, en ondermyn dit ontwikkeling. Brande in Afrika se vinnig ontwikkelende stede versprei soos blits en lei tot sterftes en eiendomsverlies. Kitsvloede eis etlike lewens en ontneem duisende van 'n dak oor die kop. En soos die COVID-19-pandemie nou weer wys, sukkel die vasteland se openbare gesondheidstelsels om die mas op te kom as siekte op groot skaal uitbreek.  

Daarom is Periperi U – 'n platform vir universiteitsvennootskappe om ramprisiko in Afrika te verminder – sedert 2006 besig om die kennis van hoëronderwysinstellings op die vasteland te koördineer en saam te voeg om plaaslike kwesbaarheid te verminder en veerkragtigheid te bou. Die Periperi U-netwerk ('n akroniem vir “Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks") wat in 2005 met 'n proef met vier instellings van Algerië, Ethiopië, Suid-Afrika en Tanzanië begin het, bestaan deesdae uit 12 universiteite van Algiers tot Antanarivo, en sluit instellings in Kameroen, Ghana, Kenia, Madagaskar, Mosambiek, Nigerië, Senegal en Uganda in.

Volgens Alberto Francioli, projekbestuurder by die Periperi U-sekretariaat, wat by die Universiteit Stellenbosch (US) geleë is, vul die netwerk die ramprisikonavorsingsleemte op die vasteland. “Baie Afrikalande het nie wetenskaplike instellings of navorsingsentrums soos die Suid-Afrikaanse WNNR, na wie regerings kan uitreik om 'n beter begrip te vorm van kwessies soos die risiko verbonde aan byvoorbeeld vloede of siekte nie. Die enigstes wat hierdie navorsing in daardie lande kan voorsien, is hoëronderwysinstellings." Dít is waarom Periperi U onder meer voorspraak doen vir groter belegging in Afrika se hoëronderwysinstellings. Daarbenewens bied die netwerk opleiding in ramprisikovermindering aan, en onderneem navorsing wat plaaslike ramprisikokennis en -gereedheid bou. Danksy die sukses van die netwerk, wat geldelik deur USAID ondersteun word, het die internasionale navorsingsprogram IRDR (“Integrated Research on Disaster Risk") dit onlangs as 'n internasionale sentrum van uitnemendheid vir risiko-onderwys en -leer erken.

Soos dit 'n sentrum van uitnemendheid betaam, het Periperi U nie gehuiwer om hand by te sit om die verspreiding van die COVID-19-pandemie te help keer toe dit Afrika bereik nie. Die netwerk dra hoofsaaklik by deur bewusmaking onder sy vennootuniversiteite en hulle verskillende plaaslike gemeenskappe. “Die meeste van ons vennote het aanlyn platforms ontwikkel met inligting oor hoe om die koronavirus te bestry, hoe om die verspreiding daarvan te verminder, daaglikse nuus oor infeksies, en waarheen om te gaan in 'n noodgeval, veral in lande wat nie geredelike toegang tot plaaslike en internasionale nuus het nie," sê Alberto. “Ander vennote het ook uitreikprogramme ontwikkel om hulle gemeenskappe te bedien." Daarbenewens lewer die meeste Periperi U-lidinstellings noodsaaklike dienste en advies aan distriks- en landelike bevolkings, wat dikwels minder aandag as hulle stedelike eweknieë ontvang.  

Alberto noem 'n paar voorbeelde. “Moi-universiteit in Eldoret, Kenia, besit 'n tekstielfabriek genaamd Rivatex, wat daagliks 15 000 maskers maak wat deur hospitale en ander instellings in die streek opgekoop word. In Uganda het die Periperi U-span by Makerere-universiteit, wat hoofsaaklik op vlugtelinggesondheidsnavorsing en -uitreike konsentreer, die plaaslike koronavirushulpbronsentrum help skep. En op Stellenbosch werk die span van RADAR (die navorsingsalliansie vir ramp- en risikovermindering) by die US saam met provinsiale en nasionale rampbestuursowerhede om inhoud vir aanlyn opleiding en kortkursusse te ontwikkel om die COVID-19-risiko te hanteer en daarop te reageer. Hulle samel ook data in, hou 'n tydlyn by en teken veranderinge, ontwikkelings en gebeure sorgvuldig aan namate die krisis ontvou sodat daar ná die tyd 'n behoorlike ontleding gedoen kan word."

Vir meer oor hoe Periperi U wetenskap vir die samelewing laat werk, kontak Alberto by albertofrancioli@sun.ac.za of 021 808 9401.