Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se FLAIR-genote kry VK-vennote by
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 23/03/2020

Die betrokkenheid van twee navorsers van die Universiteit Stellenbosch as FLAIR-genote van die Future Leaders – African Independent Research-program is versterk deurdat albei nou ook bykomende FLAIR-befondsing ontvang het om met kenners in die Verenigde Koninkryk te kan saamwerk. Biotegnoloog dr Debra Rossouw en prosesingenieur dr Margreth Tadie is verlede jaar aangewys as van die eerste FLAIR-genote. Dit erken hul potensiaal as opkomende navorsers.

Die FLAIR Genootskap is 'n inisiatief van die African Academy of Sciences en die Royal Society in die VK, en word ondersteun deur die VK se Global Challenges-navorsingsfonds (GCRF). Dit ondersteun opkomende navorsers wat by instellings in Afrika werk om navorsing te kan doen wat van die kontinent se grootste eise aanspreek. Daardeur word hul loopbane ontwikkel, en kan hulle ook hul internasionale netwerke uitbrei.

Altesaam 14 navorsers wat in Suid-Afrika werk is deel van die eerste groep van 30 FLAIR-genote wat in 2019 aangewys is uit 'n poel van 700 aansoekers van regoor die vasteland. Twintig van hulle het nou ook FLAIR Collaboration-toekennings ontvang.

​Dr Debra Rossouw

Dr Debra Rossouw bestudeer giste, bakterieë en mikroalge, en is by die US Instituut vir Wynbiotegnologie werksaam. Danksy die FLAIR Collaboration-toekenning sal dr Rossouw en haar navorsingspan kan kragte saamsnoer met prof Matthew Goddard van die Universiteit van Lincoln in Leeds, VK.

Hulle sal saam aan 'n ekologies-volhoubare program werk. Dis daarop gemik om teenvoeters te vind vir 'n reeks fungi-spesies wat groot skade aanrig wanneer dit by voedsel bederf kom. Die span sal ook na die beheer van ander medies-relevante opportunistiese fungusspesies kyk. Saam gaan die navorsers kyk watter gisspesies die beste as bio-bioheeragente gebruik kan word en ook sulke gisrasse optimiseer om hierdie skadelike fungusspesies te beheer.

Volgens dr Rossouw dek die befondsing nie net die standaard-uitgawes wat tipies van navorsingsprojekte is nie. Dit sal ook vir Rossouw en haar nagraadse studente waar nodig is toelaat om na die VK te reis om daar navorsing in prof Goddard se laboratorium te doen.

“Die grootste voordeel is egter die samewerking en robuuste interaksie tussen ons laboratoriums in Leeds en in Stellenbosch. Ons gaan albei baat by ons onderskeie komplimenterende ervaringswêrelde, en gesamentlike insette in die projek," vertel sy.

Prof Goddard is 'n kenner as dit kom by die ekologie van fungi. Dr Rossouw sê dit sal van deurslaggewende waarde wees om groepe mikrobes saam te stel wat die vermoë het om op 'n biologiese wyse giste wat skadelik is in beide die agri en mediese sektore aan te spreek. Dit raak wêreldwyd 'n al groter probleem.

Dr Rossouw bestudeer die interaksie tussen verskillende soorte giste, en hul wisselwerking met spesifieke bakterieë en alge wat in industriële prosesse gebruik sou kon word. Sulke mikro-organismes is tipies tussen 1 en 6 duisendstes van 'n millimeter (of 1–6 mikrometer) in deursnee.

Dr Rossouw se navorsing gebeur alles op 'n mikroskaal, want sy bekyk een uiters fyn maar belangrike aspek van hierdie mikroörganismes – hul selwande. Sy bestudeer die gene en proteïene wat hierdie strukture beheer en beïnvloed. As deel van haar dagtaak gebruik sy 'n verskeidenheid tegnieke – van tradisionele molekulêre biologie metodes en mikroskopie tot rekenaarsimulasies en die heel nuutste tegnologie wat genetiese werk moontlik maak.

Dr Rossouw was die eerste wetenskaplike wat die beginsels agter 'n onderwerp genaamd ko-aggregasie of ko-flokkulering fyn uitgewerk het. Dit vind plaas wanneer die selwande van verskillende giste aan mekaar kleef of “gom". Dit gebeur volgens spesifieke patrone, afhangende van die spesie gis wat betrokke is. Sy het agtergekom dat hierdie wisselwerking in sommige gevalle die betrokke spesies help oorleef, en ander kere beslis weer nie.

“Mens kan hierdie interaksies gebruik vir bioherstel of om 'ekosisteme' op te bou. Mens sou dit kon gebruik om beter fermentasiemetodes te ontwikkel, of ander maniere te vind om afvalwater biologies eerder as chemies skoon te maak," verduidelik sy die waarde van haar werk.

Dr Rossouw hoop dat haar bevindinge eendag gebruik sal kan word om beter kommersiële fermentasiemetodes te ontwikkel en om die wynbedryf se groen voetspoor te vergroot. 

"My navorsing gaan oor meer as net praktiese toepassings. Dit help ons verstaan hoe die fisiese wisselwerking tussen verskillende spesies moontlik gelei het tot die evolusie van natuurlike ekosisteme waarin 'n klomp verskillende soorte mikroörganismes voorkom," voeg sy by.

Dr Rossouw het al verskeie navorsingstoekennings vir haar werk oor die afgelope dekade ontvang. Sy het in 2009 'n PhD in Wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Beginnende met 'n BSc in Biotegnologie in 2003, het sy al haar grade tot op MSc-vlak cum laude ontvang.

Dr Rossouw het in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal grootgeword en in 2000 aan Hoërskool Carter gematrikuleer. Sy woon buite die Paarl en is 'n geesdriftige bergfietsryer en veldloopatleet.

Dr Margreth Tadie
Dr Margreth Tadie van die US Departement Prosesingenieurswese poog om oplossings te soek om mynbouverwante besoedeling aan te spreek. Danksy 'n projek getiteld “Implementing Novel Methods for Making Tailings Benign Post Value Recovery Reprocessing" kry sy die kans om saam te werk met prof Karen Hudson-Edwards van Exeter Universiteit in die VK.

Dr Tadie is baie opgewonde oor die invloed wat die beurs op haar lewe en beroepslewe as navorser het.

“Dit is 'n baie groot eer om hierdie beurs van FLAIR te ontvang. Hul doelwit is om navorsing in Afrika te ondersteun en om uitnemende navorsers in Afrika te help om leiers in hul vakgebiede te word. Ek is passievol oor die minerale hulpbronne in Afrika en wat hulle vir die vasteland kan beteken. Daar is so 'n ongelooflike rykdom in Afrika, maar as jy na die vasteland kyk, sien jy dat ons een van die armste vastelande in die wêreld is en ek is glad nie gelukkig daaroor nie. My hart lê regtig daarin om vas te stel hoe ons ons hulpbronne beter vir ons vasteland en ons mense kan aanwend."

Dr Tadie sê sy besef dat die FLAIR-geleentheid 'n geweldige invloed op haar onderrig aan die US sal hê en sy hoop dat dit ook ander jong ingenieurs in Afrika sal aanspoor.

“Ek is baie bewus daarvan dat ek as vrou in die minderheid in die mynbou is, maar ek is so oop vir daardie uitdaging omdat ons meer rolmodelle nodig het. Terwyl ander vroue reeds baanbrekers was in ander bedrywe, is ek baie bewus van die feit dat ek die geleentheid om dieselfde te doen vir diegene wat ná my sal volg. Ons het meer vroue nodig wat dapper genoeg is om in te gaan en wat dapper genoeg is om baanbrekersnavorsing te doen, wat dapper genoeg is om op die myne te wees en goeie werk te doen. Ek hoop ook om ander deelagtig te maak aan my liefde vir verantwoordelike mynbou en ingenieurswese." 

Dr Tadie se navorsingsprojek gaan spesifiek fokus op die afval wat deur goudmyne in Suid-Afrika agtergelaat is en sy wil 'n raamwerkstrategie ontwikkel wat volhoubare maniere om minerale te onttrek ondersoek, sodat minder afval in die proses gevorm word. Sy hoop dat hierdie raamwerkstrategie ook by ander myne aangewend sal word en dat dit uiteindelik beleidsverandering in mynbou teweeg sal bring.

In 2017 het Statistieke Suid-Afrika bevind dat die mynbedryf stadig besig is om op 'n jaarlikse grondslag af te neem. Die groot hoeveelheid mynafval wat agtergelaat word, het egter steeds 'n reuse-invloed op die omgewing in myngemeenskappe in Suid-Afrika en ook in die res van Afrika.

“Daar is tonne mynafval wat 'n nalatenskap van suksesvolle goudontginning is, maar daardie afvalshope neem spasie op en veroorsaak besoedeling. Dit het 'n groot uitwerking op die omgewing en hierdie projek is daarop gemik om maniere te vind en om 'n proses te ontwikkel om van hierdie afval ontslae te raak." 

Dr Tadie se navorsing oor mynafval is nie net deur haar akademiese aspirasies aangespoor nie, maar haar diep persoonlike ervarings uit haar kinderjare op die stowwerige myne in haar geboorteland, Zimbabwe, het dit ook verder aangevuur.

“Op baie maniere is mynbou wie ek is. Ek het in 'n myngemeenskap grootgeword en vir die mense wat in hierdie gemeenskappe woon, is die myn hul lewensaar. Jou pa werk by die myn, jy werk by die myn, jou kinders werk by die myn en ongeag wat jou posisie is – of jy nou die laags- of hoogsbetaalde is, word die myn deel van jou. Hoewel ek nou in die akademie is en nie meer fisiek op die myn is nie, identifiseer ek steeds met die myn en ek hoop dat my navorsing sal help om mynbeleide in Afrika te verander."

Dr Tadie se pa werk al vir meer as veertig jaar by die myn en sy sê die feit dat sy haar hele lewe lank al aan 'n mynbou-omgewing blootgestel is, het 'n reuse-invloed op haar besluit gehad om die negatiewe nagevolge van die bedryf te help verander.

“Ek het reg langs groot mynhope grootgeword en al daardie stof wat deur die fyn mynafval gevorm word en om in 'n omgewing te bly waar die plantegroei deur mynbedrywighede verniel is, het my by gebly. Sommige van die belangrikste negatiewe uitwerkings van mynbou kan voorkom word omdat baie van beleid en tegniese strategie afhang."


Foto: Dr Debra Rossouw en dr Margreth Tadie by die bekendstelling van die FLAIR-program in Kenia in 2019.