Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soveel generasievloeke is gebreek
Outeur: Dr Janina Theron
Gepubliseer: 20/03/2020

As deel van die herdenking van die SciMathUS-program se 20ste bestaansjaar, stel ons 'n reeks artikels bekend wat 'n handjievol studente vir wie SciMathUS 'n rol gespeel het in elkeen se pad tot sukses. Hier volg Cyrilleen se storie.

Cyrilleen McKay het grootgeword in Hanover Park op die Kaapse Vlakte – 'n area wat geassosieer word met bendemisdaad, geweld, werkloosheid en tienerswangerskap. Soos baie mense van die Vlakte, herroep Cyrilleen haar kinderdae met hartseer en pyn. Sy, haar broer en twee susters het in 'n huis met hulle ma gewoon;​ haar pa was in die tronk. As 'n werklose enkelouer, was dit vir haar ma moeilik om die huishouding te ondersteun en het sy, soos baie ander in haar skoene, lafenis in alkoholmisbruik gevind. “'n Groot deel van ons kinderjare moes ons vir onsself sorg. Die gemeenskap het gelukkig ingespring om ons te help grootmaak. As ons nie ou vrugte in die dromme buite die vrugtemark gekry het nie, het ons by bure aangeklop vir 'n bord kos."

Dwarsdeur haar skoolloopbaan was Cyrilleen verstoot en bespot omdat haar vel donkerder as die res van die leerlinge in die gebied was. Sy beskou die voortdurende teëspoed deur die loop van haar vormingsjare as 'n groot bydraende faktor tot haar geeskragtigheid. Dit het haar verder gemotiveer om haar toekoms in haar eie hande te neem; sy was vasberade om uit Hanover Park te kom. Tydens haar hoërskooljare het hulle gesin saam met die res van hul familie by haar ouma ingetrek. Hier het sy met telke ooms, tannies, niggies en neefs gebly. Dít het gemaak vir moeilike studie-omstandighede. Om hierdie probleem op te los, het Cyrilleen by 'n ander vrou in die gemeenskap gaan studeer. Hierdie huis het vir haar stilte en kos gebied; in haar matriekjaar het sy daar ingetrek.

Ten spyte van hierdie skuif was Cyrilleen se matriekpunte baie swak. “Ek onthou nog hoe ek gehuil het toe ek my resultate ontvang het. Wat kon ek doen met daardie punte?" Met 'n 30% vir beide Wiskunde en Fisiese Wetenskappe was die kans om by 'n universiteit aanvaar te word, baie skraal. Die vrou by wie sy gebly het, het haar aangemoedig om by SciMathUS (die “Science and Maths at the University of Stellenbosch"-oorbruggingsprogram) aansoek te doen. Ten spyte van die feit dat haar punte onder die minimumvereistes was, én haar aansoek boonop laat ingedien was, was sy – tot haar absolute verbasing – aanvaar.

So bevind Cyrilleen in 2011 haarself op Stellenbosch. Met die aanvang van die program het sy vinnig haar selfvertroue verloor. Sy het nie geweet hoe om 'n sakrekenaar te gebruik of 'n rekenaar aan te skakel nie. Dit was 'n hengse aanpassing en het haar tyd en baie trane geneem om haar voete te vind. Sy was te bang om die kostoelae te gebruik uit vrees dat sy sou druip en die geld sou moes terugbetaal. Dit was tóe dat sy besluit het om haarself aanhoudend uit te daag, en daarvolgens het haar punte met 34% en 44% na 64% vir Wiskunde en 74% vir Fisiese Wetenskappe onderskeidelik verbeter. Sy is toe aanvaar vir die BSc Lewenswetenskappe Verlengde Graadprogram.

As gevolg van die kennis en ervaring wat sy in SciMathUS opgedoen het, was die bordjies verhang. Haar verstaan van Wiskunde en Fisiese Wetenskappe was so goed, dat sy maklik bygebly het en selfs haar medestudente gehelp het met Wiskunde. Haar punte was goed en haar selfvertroue, hoog. In haar derde jaar is sy aanvaar vir die Anatomieprogram, 'n program waarvoor slegs 10 studente gekeur was. Na haar graduering in 2015, het sy haar honneurs in anatomie in 'n jaar kaf gedraf en met haar meestersgraad in 2017 begin.

Gedurende haar twee jare as M-student, het haar jonger suster baie siek geword en het Cyrilleen haar ingeneem as voog omdat sy meer welvarend as die res van haar familie was. Hierdie tyd was vir haar 'n groot uitdaging omdat dit moontlik 'n stok in die wiel van haar professionele loopbaan kon steek. Sy het terselftertyd met die skuld van haar sukses teenoor waar sy vandaan kom en haar familie steeds was, gewroeg. In hierdie tyd is sy met haar suster van hospitaal na hospitaal en het sy selfs 'n onderwyspos aanvaar om kop bo water te hou. Terselftertyd het die spanning van haar toekoms begin opbou; sou sy 'n werk kon kry ná sy gegradueer het en haar beurse verstryk het? Sy het werksaansoeke wyd en syd gestuur, en tydens hierdie vrugtelose ekskursie besluit om intussen vrywilligerswerk by haar alma mater, Crystal Sekondêr te doen. Hier het sy leerders as Wiskunde tutor gehelp.

Maande ná sy haar aansoek daar ingedien het, het die Universiteit van die Wes-Kaap haar gekontak oor 'n pos wat hulle heroorweeg het. Stel sy nog belang? Met dié dat sy al van die aansoek vergeet het, was die oproep 'n groot verrassing, en selfs 'n groter geluk. Só het Cyrilleen in November 2019 as Anatomie-beampte op die UWK-kampus begin en het sy vinnig bewus geraak van die positiewe impak wat sy op die tandheelkundestudente met wie sy gewerk het kon hê. “Ek wil die vriendelike gesig wees wat wel omgee." Die werk is nie net vervullend nie, dit gee haar ook kans om intussen los kursusse te doen. Sy beoog tans om te registreer vir haar PhD.

Ten spyte van hierdie geluk en voorspoed, sal Cyrilleen nie van haar wortels vergeet nie. “Jongmense het goeie rolmodelle nodig. Daar is nie genoeg positiewe voorbeelde in die gemeenskap waar ek vandaan kom nie. Te veel kinders kyk op na bendelede as toonbeelde om na te streef. Ek wil terugploeg in my gemeenskap en die regte voorbeeld vir die jeug stel." Sy is ook van plan om 'n aktiewe rol in haar jonger suster se studieloopbaan te neem.

C Mckay.jpeg 

Cyrilleen McKay by haar Meesters graadseremonie

“Geleenthede is skaars, maar as 'n mens die regte besluite maak, kan 'n mens uitkom en die generasievloeke breek. Ons kort meer programme soos SciMathUS. SciMathUS het in my geglo en my gehelp om my eie potensiaal te sien, om myself te vind. Die mense daar het my ondersteun, nie net in my tyd daar nie, maar deur my hele universiteitsloopbaan." Cyrilleen is die enigste persoon in haar familie wat matriek geslaag het en het boonop drie grade agter haar naam. “Ek het die regte persoon op die regte tyd geken. Sy het my aan SciMathUS voorgestel. Ek sal ewig dankbaar wees."