Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Choice se nuwe rol sal waarde toevoeg tot haar posisie by US
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 19/03/2020

​Dr Choice Makhetha van die Universiteit Stellenbosch (US) is deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) as lid van die institusionele ouditskomitee (IOK) aangestel.

Die Nominasie- en Oorsigbestuurkomitee van die RHO het aangekondig dat dr Makhetha vir die volgende drie jaar – van 24 Februarie 2020 tot 25 Februarie 2023 – as lid van die IOK sal dien.

Hoewel sy in haar private hoedanigheid aangestel is om 'n oorsigbestuursrol te vervul, glo Makhetha dit sal haar huidige rol by die US as Senior Direkteur: Studentesake op verskeie maniere aanvul.

“Deur op 'n hoër vlak binne Suid-Afrika se hoëronderwyslandskap te dien, kan ek wyer en meer kreatief dink en daardeur die gehalte van my primêre werk verbeter. Ek sal 'n breër netwerk van kollegas in verskillende omgewings kan bou en dit sal beslis my werksomgewing verryk," sê sy.

Dr Makhetha se bydraes sal uiters belangrik vir die institusionalisering van gehaltebeheer binne die hoëronderwysstelsel wees.

Die Komitee vir Gehalte in Hoër Onderwys, wat ingevolge die Wet op Hoër Onderwys van 1997 saamgestel is, is 'n permanente komitee van die RHO wat op die gebied van institusionele oudits en gehalte werksaam is.

Die rol van die komitee waarvan dr Makhetha deel uitmaak, is om die doeltreffende en doelmatige inwerkingstelling van die Komitee vir Gehalte in Hoër Onderwys se institusionele oudits en gehalteverbeteringsprosesse te monitor, te ondersteun, te rig en om gehaltebeheer toe te pas.

“Ek is baie opgewonde oor my aanstelling in die IOK. Om deel van hierdie komitee op hoër onderwys in Suid-Afrika wat op gehalteversekering fokus, te wees, gee erkenning aan my ondervinding en aan die bydrae wat ek op 'n oorsigbestuursvlak kan lewer. Ek besef daar gaan 'n reuseverantwoordelikheid met die rol gepaard en ek voel toegerus en gereed," voeg sy by.

Sy sê die aanstelling bied aan haar die geleentheid om die hoëronderwyssektor nog verder te dien, deur met alle instellings van hoër onderwys (openbare en private instellings) te werk, aangesien gehalteversekering uiters belangrik vir die hele sektor en vir die studente wat die sektor betree en wat waarde vir hul geld verwag, is.

Makhetha sê haar nuwe rol sal objektiwiteit van haar vereis, veral aangesien sy soms met sake wat die US raak, te doen sal kry. Maar sy belowe om haar vaardighede, kundigheid en ondervinding vernuftig aan te wend waar nodig.

“Ek is op grond van my ondervinding, kundigheid en vaardighede aangestel. Ek het ondervinding in verkeie tipe rolle en ek 'n baie goeie begrip van die hoëronderwyssektor."

Dr Makhetha het al op senior bestuurs- en rektoraatvlak gedien en sy was deel van twee institusionele ouditpanele gedurende die eerste rondtes van oudits. Dit het aan vir 'n duidelike prentjie van wat belangrik is op die vlak van oorsigbestuur, gegee.