Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Informele nedersettings kan baat by US-brandnavorsing
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/03/2020

Brande in plakkershutte versprei baie vinnig en lei tot lewens- en eiendomsverlies in informele nedersettings. En hoewel daar geen wonderoplossing is om hierdie verwoestende brande te voorkom nie, kan die vinnige verspreiding van 'n brand in toom gehou word deur plakkershutte op die regte afstand van mekaar te bou en hulle met die regte soort materiaal uit te voer.

Só meen dr Antonio Cicione, 'n nagraadse navorsingsgenoot by die Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN) in die departement Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het onlangs sy doktorsgraad in Siviele Ingenieurswese aan die US behaal. Sy navorsingstudie is deel van IRIS-Fire, 'n internasionale en interdissiplinêre navorsingsprojek tussen die US en die Universiteit van Edinburgh.

Om die maniere waarop brande in informele plakkershutte reageer, te ontleed, te beskryf en te voorspel, het Cicione volskaalse brandeksperimente op enkel- en driedubbele plakkershutte wat spesifiek vir die navorsing gebou is, gedoen. Hierdie hutte het staal- en houtbekleding gehad. Hy het ook vereenvoudigde rekenaarsimulasies ontwikkel om tyd-temperatuur-kurwes te simuleer en om te voorspel wanneer brandverspreiding tussen plakkershutte kan plaasvind.

Cicione sê die eksperimente het getoon dat met hittestrome (die hoeveelheid hitte wat per eenheid oppervlak per eenheid tyd na of van 'n oppervlak oorgedra word) van meer as 150 –200 kilowatt (kW) per vierkante meter teen een meter weg van die deur, sal enige alledaagse materiaal binne sekondes aan die brand slaan. Hy wys ook daarop dat die meeste materiale teen 20 kW/m2 aan die brand sal slaan en mense wat aan 'n hittestroom van 3–5 kW/m2  blootgestel word, binne sekondes pyn sal ervaar. Dit beklemtoon die risiko wat dit inhou wanneer strukture so naby aan mekaar gebou word.

“Vir die houtbeklede wonings was die algehele verspreidingstyd (dit is van die begin van oorslag – die feitlik gelyktydige ontvlamming van al die direk-blootgestelde materiaal in 'n ingeslote area – in die eerste woning tot die einde van die oorslag in die derde woning) sowat vier minute. In 'n eksperiment bestaande uit 20 wonings, het dit basies vyf minute geneem vir al die wonings om aan die brand te slaan.

“Ons het gevind dat 'n geraamde primêre veilige skeidingsafstand van 3 m (dit is gegrond op die gemiddelde hittestrome wat uitgestraal word gedurende die eksperimente op enkel wonings) genoeg sal wees om te keer dat die brand nie versprei nie, maar nog meer werk is nodig om faktore soos wind en aanvalle deur gloeiende kole in ag te neem.

“Plakkershutte wat met karton uitgevoer is vir insolasie, hou 'n groter gevaar vir brandverspreiding in as strukture wat met niks of nie-ontvlambare materiale uitgevoer is."

Cicione voeg by dat die eksperimente getoon het dat die branddinamika in wonings in informele nedersettings baie soortgelyk is aan dié in formele wonings – hierdie wonings ondergaan ook die vyf stadiums van brandontwikkeling (ontvlamming, groei, oorslag, ten volle ontwikkelde brand en aftakelingstydperk) wat met brande in toe areas gepaard gaan. Die aftakelingstydperk is tipies wanneer plakkershutte inmekaar tuimel.

Hy sê die eksperimente wat hulle uitgevoer het, sal hopelik as 'n maatstaf gebruik word om toekomstige ingrypings te toets en te vergelyk.

“Hopelik sal hierdie navorsing ons kan help om gevaarpunte in spesifieke nedersettings te bepaal en om 'n instrument aan plaaslike owerhede te verskaf om brande na te boots wat hulle in staat sal stel om voorspellings te maak wat kan help om hoë-risiko gebiede te bepaal of om die omvang van 'n voorval waarop munisipaliteite moontlik moet reageer, te kan bepaal."

Volgens Cicione is daar geen wonderoplossing vir die probleem van brandverspreiding nie en weens die ingewikkelde aard van informele nedersettings, staar diegene wat intervensies ontwikkel om hierdie probleem aan te spreek, aansienlike uitdagings in die gesig.

“Dit is duidelik dat die oplossing 'n kombinasie van onderdele wat oor veelvoudige sektore strek, sal moet wees, insluitende ingenieursontwerp, opvoeding, brandbestrydingintervensies, vroeë waarskuwingstelsel, maatreëls om risiko's te verminder en nog baie meer."

Cicione sê só 'n benadering is belangrik om die sowat een miljard mense in informele nedersettings regoor die wêreld wat gedurig deur verwoestende brande geteister word, te help. Hy wys daarop dat ons meer as 5 000 brande in informele nedersettings per jaar ondervind (volgens die Suid-Afrikaanse brandbestrydingsvereniging) en dit is aan die toeneem.

Hy sê hy hoop sy navorsingstudie sal plaaslike owerhede help om beter besluite te neem wanneer hulle intervensies vir brandverspreiding moet kies en om te keer dat hulle groot bedrae geld op intervensies wat ons reeds weet nie werk nie, spandeer.

Cicione voeg by dat mense wat in informele nedersettings woon, politici en brandbestryders by sy navorsing sal baat vind.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Antonio Cicione

Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing

Departement van Siviele Ingenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

E-pos: acicione@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

Email: viljoenm@sun.ac.za