Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie ondersoek millenniërs se biervoorkeur
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 04/03/2020

'n Studie wat die koopkrag vir bier van Suid-Afrikaanse Generasie Y-verbruikers ondersoek, is onlangs deur dr Chris Pentz van die Departement Ondernemingsbestuur vrygestel. Pentz het dié navorsing in samewerking met Justin Wilson, 'n honneursstudent, onderneem.

Generasie Y, ook bekend as millenniërs, is diegene wat tussen 1980 en 1995 gebore is. Hulle maak 'n aansienlike persentasie uit van die Suid-Afrikaanse samelewing, speel  'n  aktiewe rol in die voltydse arbeidsmag en, die belangrikste van alles, het geld om te bestee.

Die studie, wat in 2018 van stapel gestuur is, het die verbruiksgewoontes van 'n beperkte getal Generasie Y-bierdrinkers aan die Universiteit Stellenbosch getoets. Van die 218 studente wat aan die steekproef deelgeneem het, was 109 gewone bier- en 109 ligte bierdrinkers. Sewentig present van die deelnemers was tussen 21 en 23 jaar oud, 26% van hulle koop twee tot drie keer per maand bier, en 25% koop een keer per week bier. Van die vroulike deelnemers verkies 71% ligte bier, terwyl 66% van die mans gewone bier verkies.

Ondanks die feit dat hulle met drankvergryp vereenselwig word, lyk dit asof Generasie Y-verbruikers se voorkeur verander het na ligte alkoholiese drank soos ligte bier, sê Pentz.

Die Suid-Afrikaanse broueryreus, SAB InBev, het onlangs erken dat veranderings in drankgewoontes die onderneming genoodsaak het om sy portefeulje van nie- en lae-alkoholiese bier te vergroot. Teen 2025 sal dit sowat 20% van sy volume bier wêreldwyd uitmaak.

Op die internasionale front dui navorsing daarop dat Generasie Y-verbruikers toenemend besorg raak oor die stand van hul gesondheid. Volgens Joe Hutson, verbruikersontleder by GlobalData, is die huidige tendens in die Verenigde Koninkryk dat 25- tot 34-jariges en 16- tot 24-jariges die grootste verbruikers per kop is van lae- en nie-alkoholiese bier.

“Hoewel die getal ligte bier-handelsmerke in Suid-Afrika daarop kan dui dat ligte bier in Suid-Afrika aanvaar word, is dit nie duidelik wat die verbruikers in Suid-Afrika motiveer om ligte bier te koop nie. Dit is moontlik dat die drinkers van gewone en ligte bier dieselfde redes het vir die aankoop van hul voorkeurbier, maar 'n vergelyking van bierkeuse in Suid-Afrika moet nog gemaak word," sê Pentz.

Met sy verkennende studie het hy probeer om die belangrikheid van 13 kenmerke te ondersoek wat Generasie Y-verbruikers se besluit oor die aankoop van gewone en ligte bier kan beïnvloed. Hy het ook moontlike verskille in kenmerke tussen dié twee bierkeuses ondersoek, wat smaak, tipe bier, prys, handelsnaam, alkoholinhoud en kalorie-inhoud insluit.

Die resultaat van die steekproef het die belangrikste eienskappe in beide die gewone en ligte bierkategorieë in die volgende rangorde geplaas: 1) smaak; 2) tipe bier; en 3) prys. Die minder belangrike eienskappe onder gewone bierdrinkers is in dié volgorde aangewys: 1) visuele ontwerp van die bierpakket; 2) kleur van die bier; en 3) kalorie-inhoud. Die eienskappe onder drinkers van ligte biere wat minder belangrik geag is, is soos volg georden: 1) tipe verpakking; 2) volume van die bierpakkie; en 3) kleur van die bier.

Pentz het gesê dié studie verskil van vorige studies (Chen, 2013; Chrysochou, 2014; Silva et al., 2016) wat op ligte bier en ligte voedselprodukte gefokus het. Volgens sy studie is kalorie-inhoud nie 'n belangrike eienskap wat die aankoop van ligte bier gemotiveer het nie.

“Die belangrikheid van smaak, dui daarop dat die sukses van 'n bierhandelsmerk uiteindelik van 'n funksionele verbruikswaarde afhang. 'n Ligte bier moet dus net so goed smaak soos sy gewone eweknie om daarmee mee te ding. "

​Hy sê ondanks die belangrikheid van smaak, is daar baie min Suid-Afrikaanse ligte bier handelsmerke wat direk daarna verwys in hul bemarkingskommunikasie.

“Plaaslike Suid-Afrikaanse bierhandelsmerke kan die bevindings gebruik om groter klem te plaas op kommmunikasie oor die smaak-aspek, en eienskappe rakende verpakking, kalorie- en alkoholinhoud moontlik minder te beklemtoon," sê Pentz.

Vorentoe beoog Pentz om die omvang en verteenwoordiging van die steekproef te vergroot vir meer diepgaande, kwalitatiewe studies.