Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US help om internasionale erkenning aan Ubuntu te gee
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 25/02/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) is deur middel van sy vennootskap met die Michigan State-universiteit (MSU) deurlopend besig met sy werk om te help dat die konsep van Ubuntu internasionaal gevestig word.

In 2019 het die US geskiedenis gemaak saam met MSU toe die twee universiteite 'n ooreenkoms van verstandhouding (OvV) onderteken het, waarin hulle ooreengekom het om internasionale samewerking in opvoedkunde, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid by albei universiteite te bevorder.

Sedertdien het die Ubuntu Dialoë-program baie vrugte afgewerp, veral met die bou van brûe tussen jongmense in Suid-Afrika en die Verenigde State.

“MSU en die US deel baie van en leer baie van mekaar. Mense stel belang in ons werk en MSU doen baie navorsing in Suid-Afrika en op ons vasteland oor die algemeen," sê dr Mosa Phadi, die programbestuurder van Ubuntu Dialoë.

As deel van die ooreenkoms tussen die universiteit, kon studente van die SU na MSU reis om hul navorsing daar aan te bied en meer oor MSU se innoverende navorsingsmetodes te leer. Net so kon studente van MSU na die US reis om hier meer te kom leer oor Ubuntu.

Laat verlede jaar kon Phadi saam met Pfunzo Sidogi, 'n doktorale student in die Beeldende Kunste, hul navorsing by MSU gaan aanbied.

Volgens Phadi het sy baie op hierdie reis geleer en sê sy die Ubuntu Dialoë-projek het “ʼn gesprek aan die gang gesit om die konsep beter te verstaan" en sy het studente aangemoedig om Ubuntu 'n universele konsep te maak.

“Daar is sommige Amerikaners, veral Afro-Amerikaners wat al van Ubuntu gehoor het, maar nie noodwendig die begrip verstaan nie. Om Ubuntu te verstaan en dit met genote van Amerika te deel het talle gesprekke oor identiteit en wat dit as 'n globale konsep beteken, aan die gang gesit. Deur die dialoë en seminare was ons in staat om praktiese wyses te vind om die onderwerp van Ubuntu iets kon maak waarmee hulle hulself kon vereenselwig en kon verstaan," sê Phadi.

Van die hoofdoelwitte van die Ubuntu Dialoë tussen die US en MSU is om die lewens van jongmense te transformeer deur diensleer en om die digitale skeiding tussen die Noorde en die Suide te oorbrug.

Volgens Phadi het MSU maniere gevind om digitale navorsing en tradisionele akademiese navorsing met mekaar te laat skakel en om hulle saam te smelt om sodoende buitengewone werk te lewer. “Ons wens vir ons nagraadse studente is dat hulle meer oor hierdie digitale tegnologieë kan leer en dit inderdaad kan gebruik om hul akademiese werk daardeur te versterk," sê Phadi. 

Die studente sal deur die loop van die jaar aan verskeie seminare en dialoë by beide universiteite deelneem. Van 2 tot 19 Mei besoek tien MSU-nagraadse studente Stellenbosch vir 'n internskap. Van 26 Junie tot 12 Julie gaan tien studente van Stellenbosch weer na Michigan om hul internskap in die VSA te doen.

Rhoda Malgas, 'n dosent in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, reis ook op 16 Maart na MSU om haar navorsing en werk daar aan te bied.

__________________________________________________________________________________

Om nog artikels oor die Ubuntu Dialoë-pogram en die vennootskap tussen die US en MSU te lees, klik op die volgende skakels:

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6194 

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6399

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6505