Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leerstoel in Gewasbeskerming by Universiteit Stellensbosch sal studente en reeds gekwalifiseerde landboukundiges help oplei
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 18/02/2020

'n Leerstoel vir Gewasbeskerming is vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestig danksy R10,5 miljoen se ondersteuning van Villa Crop Protection. Die nuwe inisiatief sal navorsing nastreef wat vrae uit die industrie beantwoord. Studente sal daardeur finansieel ondersteun en opgelei word. Daarby sal opleidingsgeleenthede vir werknemers wat reeds in die landbousektor staan aangebied word. Prof Nick Kotze, voorsitter van die US Departement Agronomie, lei die inisiatief, wie se bedrywighede deur 'n adviesraad gerig sal word.

Die Leerstoel in Gewasbeskerming is 'n eerste vir die Suid-Afrikaanse landbou. Die plaaslike oesbeskermingsbedryf is op groothandelsvlak ongeveer R9 miljard rand werd. Villa Crop Protection is een van die voorste verskaffers van gewasbeskermingsoplossings aan verspreiders in Suid-Afrika.

Prof Eugene Cloete, US-viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studie, het gesê dat bedryfsondersteuning soos Villa Crop Protection s'n help om 'n omgewing van hoop en uitnemendheid te skep vir studente sowel as vir Suid-Afrika.

“Sulke steun uit die privaatsektor help om te verseker dat ons universiteit navorsing doen wat relevant is en op sy beurt help om relevante bedrywe te versterk," het hy bygevoeg by die ondertekening van die drie jaar-kontrak.

“Hierdie is 'n grootskaalse samewerkingsinisiatief, en sal verseker dat die behoeftes van die bedryf, ons bedryfsvennote en die produsente inskakel by die werk wat ons navorsers en nagraadse studente doen," het prof Kotze bygevoeg.

Onder die kernfunksies wat hierdie inisiatief sal dryf is:

  • Die identifisering en prioritisering van spesifieke navorsingsbehoeftes op plaasvlak, en die aanspreek daarvan deur doelgerigte wetenskaplike navorsing wat deur nagraadse studente en hul akademiese studieleiers gedoen word;
  • Die voorsiening van toepaslike nagraadse beurse ter waarde van R1 miljoen per jaar ter ondersteuning van toekomstige landboukundiges se opleiding. Dit sal jongmense toerus met die nodige kennis en vaardighede wat die plaaslike landbousektor nodig het; en
  • Die aanbied van geakkrediteerde kortkursusse deur die Universiteit Stellenbosch om die vaardighede van landboukundiges wat reeds in die plaaslike bedryf werk, uit te brei.

"Die opleidingsbeen van hierdie inisiatief gaan nie net oor die aanbied van formele graadkwalifikasies nie. Ons wil ook kan sorg vir deurlopende opleidingsgeleenthede vir landboukundiges en andere wat reeds in die plaaslike bedryf werk," sê dr Andre Schreuder, namens Villa Crop Protection.

Die beoogde geakkrediteerde kortkursusse wat aangebied sal word sal voortbou op kortkursusse, sertifikaat- en diplomakursusse wat voorheen deur die Villa Academy ontwikkel is. Dosente van die Universiteit Stellenbosch sal ondersteun word deur andere wat voorheen deur Villa Academy gekontrakteer is, asook internasionale kollegas van vooraanstaande oorsese universiteite.

Prof Kotze hoop om in die nabye toekoms die oprigting van 'n platform wat gewasbeskermingsdiagnostiek-aanbied te kan aankondig. Hy voorsien dat mens daarin die hulpbronne wat plantpatoloë, insekkundiges, viroloë en onkruidkundiges in die US se Fakulteit AgriWetenskappe tot hul beskikking het, daarin kan saamvoeg.

  • Foto onderskrif: By die ondertekening van die kontrak tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en Villa Crop Protection ter ondersteuning van die nuwe Leerstoel in Gewasbeskerming was (voor) dr Andre Schreuder (Villa Crop Protection, prof Eugene Cloete (US vise-rektor: navorsing, innovasie en nagraadse studie), met (agter) prof Nick Kotze (US Departement Agronomie) en Marius Boshoff (Villa Crop Protection). Fotograaf: Stefan Els/US

Vir medianavrae:

Prof Nick Kotze
Leerstoel in Gewasbeskerming
Departement Agronomie
Universiteit Stellenbosch
nkotze@sun.ac.za

Dr Andre Schreuder
Villa Crop Protection
aschreuder@villacrop.co.za


Meer oor Villa Crop Protection

Die grondslag van die onderneming is reeds in 1989 gelê. Dit het intussen gegroei tot een van die voorste verskaffers van gewasbeskermingsoplossings aan verspreiders in Suid-Afrika. In 2015 het die Fortune 250 wêreldwye landboubesigheids- en voedselonderneming Land O'Lakes die meerderheidsaandeel in Villa Crop Protection verkry. Dit was op daardie stadium Land O'Lakes, met sy hoofkwartier in Amerika, se eerste kommersiële uitbreiding in Afrika.

Meer oor die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Die fakulteit is meer as 100 jaar gelede gestig en word onder die Top 100 landbouwetenskappe-fakulteite in die wêreld gereken. Dit is tans die enigste aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit wat spesifiek toegewy is aan landbouwetenskappe.