Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hip-hop en teologie vat hande vir transformerende ervaring
Outeur: Corporate Communication - Sandra Mulder
Gepubliseer: 05/02/2020

“Om die eerlike boodskap uit te dra, moet jy jouself ken en weet wat jou politieke siening, wêreldsiening, jou mening, jou fokus, jou doel en jou roeping in die lewe is. Dit moet eerlik gedeel word. 'n Mens moet ook probeer om die essensie van ander mense in hul kommunikasie raak te sien."

Dit was van die wysheid wat die bekende hip-hop kunstenaar, digter, rapper en akteur, Hemelbesem, met studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie by Teologiedag (3 Februarie 2020) in die Attie van Wijk-ouditorium op Stellenbosch gedeel het. Hy het 'n inspirerende boodskap van “eerlike kommunikasie wat jou oortuigings, menings, doel en roeping in die lewe uitdra" gelewer om tot die studente se transformerende ervaring by te dra.hemelbesem.jpg

Hy het in 'n boeiende en humoristiese toespraak, getiteld Hip-hop, Community and Life, verduidelik dat elke kunstenaar, beeldhouer, skilder en skrywer inligting wil oordra. Volgens hom sal mense, wanneer hulle inligting vanuit hul hart of verstand na 'n ander mens (deur jou keuse van medium) oordra, “filters" tussen die verstand en mond vind, soos woordeskat, aksente, ouderdom, ras, geslag, meningsopvattings en politieke agtergrond. “Al hierdie filters beïnvloed jou boodskap. Dit is inderwaarheid moeilik om te kommunikeer en dit is onmoontlik vir mense om mekaar 100% te verstaan."

Hemelbesem het verduidelik hoe maklik 'n boodskap misverstaan kan word aan die hand van een van sy persoonlike ervarings met sy vrou. “Sommige mans vind dit moeilik om romanties te wees en om te sê 'Ek het jou lief'. Die algemene probleem wat mans het wanneer dit by romanse kom, is om romanties te wees. Dit is vir baie mans moeilik om hulself uit te druk en dit is nie maklik om te sê 'Ek het jou lief' nie. Ek het eenkeer vir my vrou gesê ek is lief vir haar en ek het dit bedoel – regtig bedoel. Vyf dae later, het sy gesê ek is nie meer lief vir haar nie … maar ek het dit toe (vyf dae terug) bedoel en dit eggo nog steeds nou."

Hy het gesê hy kommunikeer die beste deur hip-hop en volgens hom is kommunikasie inligting wat ons wil oordra. “Alle sleuteloomblikke in my lewe bevat musiek. Die klank en musiek wat met sekere oomblikke geassosieer word, help om die oomblik permanent te maak." Hy het uitgebrei deur te sê dat musiek verandering in mense teweeg kan bring en dat dit hulle van een ruimte na 'n ander neem terwyl dit hul gemoed en die atmosfeer verander.

“Jy kan gehard wees en steeds binne die reëls bly sonder om 'n kompromie hoef aan te gaan. Jy sal nooit almal met die waarheid, of met jou briljante boodskap, of jou roeping van God, tevrede kan stel nie. Kan jy jouself eerlik uitdruk? Dit wissel en kan van dag tot dag verander, maar as jy hartseer is, kan jy jou boodskap uit daardie hoek deel."

Hemelbesem het die studente grappenderwys daarop gewys dat sy boodskap – en ook hulle eie – nie noodwendig die tipiese cliché-getuienis van “ek was 'n drug lord en die Here met my aangeraak" hoef te wees nie, maar eerder die “eerlike deel van die essensie van jou lewe".

Hy het ter afsluiting van sy toespraak die hip-hop-lirieke van “I Paint Pictures" met die gehoor gedeel: “I paint pictures that is so vivid, if you look at the pictures, it would reflect your soul in it, we paint pictures to give life to the Scriptures, we do it on a stage that the crowd might witness …"

  • Siphokazi Jonas het die geleentheid afgesluit met 'n monoloog. Sy is 'n skrywer, digter en gesproke woord-kunstenaar wat reeds drie een-vrou digproduksies opgevoer het en onlangs die teaterproduksie Around the Fire by die Artscape Spiritual Festival aangebied het. Haar opvoering is gevolg deur 'n praatjie deur dr Marnus Havenga van die Fakulteit, getiteld Rhythm: a theological reflection, asook 'n paneelbespreking oor die rol van die kunste in die samelewing en die geloofsgemeenskap onder leiding van prof Stella Viljoen van die US se Departement Visuele Kunste. 

Fotograaf: Sandra Mulder