Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaapse Karnaval verenig mense
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 04/02/2020

Die Kaapse Karnaval, 'n geregistreerde sosiale-impakinisiatief van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe onder leiding van professor Rachel Jafta, het verlede week sy 2020-tema tydens 'n lewendige mediageleentheid bekendgestel.

Jafta, ̓n hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, is ook die voorsitter van die Kaapstad Karnavaltrust en een van die stigters van die karnaval. Craig Lemboe, haar kollega van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, is ook 'n stigterstrustee. 

Vanjaar se tema “Incredible Journey: Sounds of South Africa" beeld die musiek, sang, dans en kuns van Suid-Afrika uit. Daar sal onder meer 'n reuse-beeldhouwerk van 'n eland wees wat met simbole en merke gegraveer is om die artistieke uitdrukkings van die vroeë Suider-Afrikaanse volke voor te stel, asook riel- en gumbootdanse en 'n viering van Kwela- en Marabi-musiek uit die vyftigerjare.

Die bekendstellingsfunksie het mense 'n voorsmakie gegee van wat hulle te wagte kan wees deur middel van 'n dromerige uitvoering op die boogharp deur Glen Arendse van Khoi Konnexion en energieke dansuitvoerings van die kontemporêre dansgroep AfriCAN, Rainbow Academy en die Michelle Davids Dansgroep.

“Hierdie jaar is dit ons elfde karnaval. Ons het 'n baie beskeie begin gehad met net een vlot in Langstraat, sowat 26 000 toeskouers en ongeveer 2 600 dansers. Ek wil elkeen bedank wat op hierdie reis saam met ons was en op verskillende maniere bygedra het. Ek wil julle graag nooi om saam met ons die volgende dekade aan te pak," het Jafta in haar verwelkomingsrede gesê.

Lemboe het gesê die aanvanklike doel van die EMS-fakulteit se sosiale-impakbydrae tot die Karnaval was om sosiale samehorigheid op verskillende platforms te ontwikkel sodat mense mekaar beter kan leer ken en hulle diversiteit op 'n prettige manier kan vier.

“Die sosiale samehorigheidselement het baie sterk deurgekom, maar wat ons agtergekom het, is dat geleenthede vir entrepreneurskap en vaardigheidsoordrag ook geskep is."

Hy het gesê die Karnaval bied verder geleenthede om navorsingsdata te bekom en navorsingsvrae te ontwikkel wat tot samewerkende oplossings vir die deelnemende gemeenskappe kan lei.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het gesê die stad voel geëerd om geassosieer te word met 'n geleentheid wat daarna streef om al die rassegroepe in Kaapstad te verenig.

“By verlede jaar se karnaval in Kaapstad was dit veral die samekoms van mense uit uiteenlopende areas soos Khayelitsha, Mitchellsplein en Seepunt wat my opgeval het. Die karnaval bied ook aan ons die geleentheid om spesifieke kwessies soos bende- en geslagsgeweld te takel," het Plato gesê.

Charles Mabaso, waarnemende adjunkdirekteur van kuns, kultuur, bevordering en ontwikkeling in die Departement Kuns en Kultuur, het gesê dat die Departement sal voortgaan om die Kaapse Karnaval deur sy befondsingsinisiatief, Mzansi Golden Economy, te ondersteun.

“Suid-Afrika het in die verlede myne en goud as bron van inkomste gehad, maar ons het sedertdien besef dat die artistieke talent in hierdie land ons nuwe goudmyn is. As ons dit nie benut nie, sal Suid-Afrika niks bereik nie. Dis deur dié artistieke talent wat ons die wêreld kan wys wat in ons steek," het Mabaso gesê.

Die Karnaval vind op 21 Maart plaas, met 2 000 kunstenaars uit meer as 50 talentvolle gemeenskapsgebaseerde groepe wat 'n bydrae sal lewer deur vlotte te ontwerp, kostuums te maak, bewegings te sinchroniseer en melodieë te vervolmaak.

Die groot slottoneel van Karnaval 2020 is die onthulling van die AfroFuture-vlot wat die stad van die toekoms, aangevuur deur moontlikhede en uitvindings, uitbeeld – alles op  'n unieke, kreatiewe en kenmerkende Afrikastyl.

Franco Pascoe, die Karnaval se werkswinkelkoördineerder, het bygevoeg: 'Wat ons met die AfroFuture-vlot wil oordra, is eintlik die boodskap van die Kaapse Karnaval – ons verbeel ons die toekoms en stel ons bydrae tot die skepping daarvan op 'n positiewe manier voor. En hopelik inspireer ons ook almal in ons stad en miskien selfs in die land om deel te wees van hierdie proaktiewe energie! "

  • Hooffoto: Kaapse Karnaval-dansers
  • Foto regs: Stigter en voorsitter van die Kaapstad Karnavaltrust, prof Rachel Jafta, by die burgemeester van Kaapstad, mnr Dan Plato.
    Foto's verskaf deur Transformmarketing.

Rachel Jafta and CT mayor Dan Plato_small.jpg