Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW verwelkom eerstejaars van 2020
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 28/01/2020

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) het Vrydag 'n entoesiastiese groep eerstejaars by 'n inligtingsessie in die Kruiskerk verwelkom. Die Fakulteit verwelkom tradisioneel 1 550 nuwelinge elke jaar.

 

Die studente is deur die dekaan, prof Ingrid Woolard; visedekaan (leer en onderrig), prof Ronel du Preez; ander personeel en die Fakulteit se studentekomitee, die ESBK, verwelkom.

 

Prof Woolard het gesê minder as 30 000 leerders uit die 787 000 wat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in 2019 afgelê het, voldoen aan EBW se toelatingsvereistes. Sy het die eerstejaars aangemoedig om aan dié statistiek vas te hou omdat dit van groot waarde vir hulle kan wees gedurende hul studies.


“Julle is dus 'n baie spesiale groep en ons weet dat julle toppresteerders is. Ons wil hê dat julle daaraan moet vasklou, want die probleme wat studente dikwels in hierdie omgewing ondervind, is dat hulle gewoond is om die toppresteerder in hulle skole te wees. Nou kom hulle skielik in 'n omgewing waar almal toppresterende studente is en waar hulle resultate as gemiddeld tel.

 

“Julle moet onthou dat julle onder die drie persent toppresteerders tel en dat julle uiters bevoorreg is om toegang tot hoër onderwys te kan hê.”

 

Sy het hulle ook aangemoedig om hulself oop te stel om nuwe mense van alle agtergronde te ontmoet en netwerke te bou wat handig te pas sal kom in die toekoms.

 

“Kyk rondom jou na die mense in hierdie lokaal. Sommige gaan naam maak as bedryfsleiers of direkteurs-generaal in belangrike regeringsdepartemente, miskien selfs as kabinetsministers. Dit is 'n ongelooflike kragtige netwerk van mense wat jy om jou het. Julle moet seker maak dat julle dié netwerk oor die volgende paar jaar ontwikkel,” het Woolard gesê.

 

Du Preez het uitgebrei oor vyf besluite wat sy gesê het sal bepaal of studente die US slegs met 'n matrieksertifikaat, lae selfbeeld en groot studiekuld sal verlaat of met 'n gevoel van prestasie wanneer hulle in 2022 gradueer.

 

Dit sluit in die keuse van die regte studieprogram en die belangrikheid van studentebetrokkenheid, ondersteuning, tydsbestuur en klasbywoning.


Antoinette Lotter, EBSK-voorsitter, het gesê EBW is 'n baie opwindende fakulteit om van deel te wees.

 

“Daar is 'n ongelooflike verskeidenheid dinge wat jy kan doen sodra jy die universiteit verlaat, sowel as baie fassinerende geleenthede wat jy kan aangryp terwyl jy hier is,” het sy gesê. “Oor die afgelope drie jaar het ek gesien hoe studente hul eie ondernemings begin, liefdadigheidsorganisasies stig, baie indrukwekkende beleggingsportefeuljes skep en aan ongelooflike programme deelneem.”