Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die waarde van water
Outeur: WIIDA FOURIE-BASSON
Gepubliseer: 15/01/2020

​Aan die voet van Papegaaiberg op Stellenbosch vloei die Plankenbrugrivier digby ʼn informele nedersetting verby waar meer as 5500 inwoners so min as 150 gemeenskaplike toilette en 57 krane moet deel. 

Sonder voldoende water- en sanitasiegeriewe vir die mense van Enkanini is dit nie net die inwoners wat sal ly nie, maar ook die nabygeleë rivier. Dít is waarom dr. Leanne Seeliger nie met haar hande gevou kon sit en niks doen nie. As senior navorser en deskundige op die gebied van omgewingsetiek by die Universiteit Stellenbosch (US) se Waterinstituut is haar navorsingsetiek daarop gerig om positiewe verandering so gou as moontlik teweeg te bring. En dit is waar die opvoedkundige omgewingskursus Iqhawe Lemvelo (natuurheld) inpas. 

Een van die lewensvaardighede wat leerders sal hê na afloop van hierdie unieke kursus, is hoe om water en afval in hul onderskeie huishoudings in die informele nedersetting te hanteer. Die kursus is inderdaad uniek in die opsig dat dit kwessies aanspreek waarmee kinders in informele nedersettings daagliks te doen kry. As deel van die opvoedkundige been van die Amanzi Yimpilo-projek (water is gesondheid), ʼn samewerkingsvennootskap tussen die US Waterinstituut en die Stellenbosch-munisipaliteit, poog dié kursus om gemeenskapsondersteuning en -samewerking aan te wakker om water- en sanitasiedienste in die gemeenskap te verbeter. 

BESOEDELING

Leanne werk al vir die afgelope sewe jaar in Enkanini, ʼn informele nedersetting wat in 2006 ontstaan het toe 47 families van die nabygeleë Kayamandi-township ʼn aangrensende stuk landbougrond beset het – vandaar die naam Enkanini, wat “met mag ingeneem" beteken. Enkanini het eers ses jaar later, in 2012, gemeenskaplike krane en toilette gekry, maar toe was daar reeds besoedeling in die Plankenbrugrivier. “Informeel is die nuwe norm. Munisipaliteite moet aanpasbaar, kreatief en innoverend wees om dit konstruktief te bestuur," verduidelik Leanne. “Totdat informele nedersettings nie ordentlike water- en sanitasiedienste ontvang het nie, gaan ons riviere en ekosisteme ly. 

Dit is nie net ʼn sosio-ekologiese probleem nie; dit hou geweldige implikasies in vir landbou, voedselproduksie en openbare gesondheid." Vroeër vanjaar het Leanne die geleentheid aangegryp om haar teoretiese kennis in die praktyk toe te pas toe die Stellenboschmunisipaliteit haar genader het om te help om water- en sanitasiedienste in Enkanini te verbeter. D

ie Amanzi Yimpilo-projek was die resultaat. Omdat dit geskoei is op die beginsel van transformerende bestuur, betrek Leanne die gemeenskap én die munisipaliteit om oplossings te vind. Die projek behels opleidingswerkswinkels vir die inwoners, twee water-etiek meningsopnames, ʼn omgewingsopvoedingsprojek, sowel as die ontwikkeling van ʼn watermoniteringstoepassing. 

MENINGSPEILING

 In noue samewerking met Paul Roviss Khambule, ʼn sosiale entrepreneur van Kayamandi, het hulle ʼn paar inwoners van Enkanini geïdentifiseer en as medenavorsers opgelei. Vroeër vanjaar het dié span ʼn meningspeiling onder 800 huishoudings gedoen om hierdeur hul houding ten opsigte van water en sanitasie te probeer verstaan. Vir die duur van die projek is die spanlede in diens van die regering se uitgebreide program vir openbare werke. Paul sê die opname het reeds daarin geslaag om die gemeenskap meer bewus te maak van die probleem. “Dit is nie net die universiteit wat inkom om navorsing te doen nie; dit gaan daaroor om die gemeenskap bewus te maak dat hul gedrag, soos om riool en afval buite op straat te gooi, die gemeenskap en die omgewing kan benadeel." 

Die span moedig ook inwoners aan om verstopte toilette en pype direk by die munisipaliteit se Let's Fixit-lyn aan te meld, waarvandaan dit onmiddellik by die relevante departemente gerapporteer word. Op grondvlak lyk dit asof ʼn meer buigsame verhouding tussen die Enkanini-gemeenskap en die munisipaliteit besig is om te ontwikkel, wat gepaard gaan met ʼn daadwerklike poging van die munisipaliteit om water- en sanitasieinfrastruktuur in die gemeenskap te verbeter, meen Kamohelo Mculu, projekbestuurder by die munisipaliteit se Infrastruktuurdiensteafdeling. 

Buiten die dringende kwessies rakende die gemeenskap en die Plankenbrugrivier, is Leanne veral bekommerd oor die kinders. Dis waarom sy en ʼn groep vrywilligers reeds sewe jaar gelede in samewerking met die munisipaliteit ʼn opvoedingsentrum in Enkanini begin het. Dit is gehuisves in twee Wendyhuisies teen die hange van Papegaaiberg. Dit dien as crèche en nou ook as plek waar die Iqhawe Lemvelo-kursus aangebied word. 

INTEGRITEIT

 “Kinders uit informele nedersettings word dikwels benadeel deur ʼn skoolstelsel wat nie in hul spesifieke behoeftes voorsien nie. Ons het ʼn program ontwerp wat op vaardighede fokus om die hier en nou van hul lewens te hanteer. Dit is ʼn plekgebaseerde benadering wat hulle in staat stel om uit hul eie lewenservarings te leer," verduidelik Leanne. 

Sy het dié benadering ontwikkel in samewerking met prof. Chris Reddy van die US se Fakulteit Opvoedkunde, en die kurrikulum dek onderwerpe soos water en die herwinning van afval in jou huishouding en gemeenskap. Hoewel hierdie navorser alombekend is vir haar saaklike houding en pragmatiese hantering van komplekse probleme, skiet Leanne se oë vol trane wanneer sy begin praat oor die harde werklikheid van armoede en ongelykheid en hoe dit kinders in informele nedersettings raak. 

“My dogter het vir my, en ek kan vir haar geleenthede bied. Wat van ouers wat nie in staat is om dit vir hulle kinders te doen nie?" Uiteindelik glo sy ʼn mens kan nie ʼn prysetiket aan die natuur hang nie. “Ons mag nie die natuur as vanselfsprekend aanvaar nie; dit het intrinsieke waarde." 

En daarom is Leanne ʼn baanbreker, besig om nuwe maniere te vind om met die gemeenskap, industrie en plaaslike owerhede saam te span. Hierdeur wil sy nie net die ekologiese integriteit van die Plankenbrugrivier herstel nie, maar veral die waardigheid van die kinders wat op die rivieroewer speel.

Meer oor DIE AMANZI YIMPILO-PROJEK 

Die Amanzi Yimpilo-projek (water is gesondheid) is ʼn uitvloeisel van die Rektors- en Uitvoerende Burgemeestersforum, ʼn struktuur wat samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch en die Stellenbosch-munisipaliteit bevorder, tot voordeel van die hele dorp en gemeenskap. Die doel van die projek is om navorsing te doen oor die uitdagings rondom water, afval- en sanitasiegeriewe in die gemeenskap, en hoe om dit te verbeter.
Lees meer in die Matieland