Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Finansiële Geletterdheid-projek wil inlig en bemagtig
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/12/2019

Die Universiteit Stellenbosch Regskliniek se Finansiële Geletterdheid-projek (FLP) poog om plaaslike gemeenskappe te bemagtig deur kennis oor finansiële sake te deel en mense in te lig oor hul regte as verbruikers.         

Dit behels om plaaswerkers en hoërskoolleerders basiese vaardighede in finansiële geletterdheid te leer – byvoorbeeld, hoe om 'n begroting voor te berei, hoekom 'n spaarplan belangrik is, en die verskil tussen goeie en slegte skuld.         

Die langtermyndoelwit is om na volhoubare sosiale verandering te streef en om 'n manier aan hierdie lede van die gemeenskap te bied om uit armoede te migreer.     

Deur samewerkende verhoudings wat gesmee is tussen die Fakulteit Regsgeleerdheid, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die US se Taalsentrum, die Nasionale Kredietreguleerder, die kantoor van die Wes-Kaapse Verbruikerbeskermer, die Departement Sosiale Ontwikkeling en laastens, die US Regskliniek, poog die projek om uiteindelik 'n gedeelde doelwit te bereik – om op te hef, te ondersteun en toegang tot regspleging te verbreed.   

Die Regskliniek bied professionele regsadvies en -verteenwoordiging in siviele sake aan gemeenskapslede wat vir regshulp kwalifiseer, en volgens die FLP se projekbestuurder, mev. Susann Louw, het die FLP ontstaan toe regsgeleerdes by die Regskliniek opgemerk het dat baie van hul kliënte finansiële probleme ervaar.     

“Hulle het gedink dit kan dalk nuttig wees om 'n inisiatief te skep waardeur mense inligting oor finansiële kwessies kan ontvang voordat hulle finansiële situasie negatief raak," verduidelik sy.    

Die FLP bied 'n geleentheid om diensopleiding en gemeenskapsbetrokkenheid te kombineer in 'n projek wat tot voordeel van sowel die studentevrywilligers as die gemeenskap is. Studente in Siviele Prosesreg 371 en Finansiële Beplanning 378 dui aan dat hulle bereid is om as aanbieders by bemagtigingwerksessies op te tree.     

Voordat hulle begin, woon die voornemende aanbieders drie opleidingsessies by. Die eerste een word deur die Nasionale Kredietreguleerder en die Kantoor van die Wes-Kaapse Verbruikerbeskermer aangebied. Dit stel hulle in staat om mense in te lig oor hul regte as verbruikers en nuttige hulpmiddels soos die Nasionale Kredietwet.    

Die tweede opleidingsessie is 'n sessie oor aanbiedingvaardighede wat die Taalsentrum aanbied.      

“Die studente leer om hul aanbiedings by hul gehoor aan te pas, en hoe om inligting oor te dra aan mense wat dalk ouer of jonger as hulle is, of uit verskillende agtergronde kom," verduidelik mev. Louw.  

In die derde sessie deel hulle hul beplande aanbieding met mev. Louw. Die studente en mev. Louw bespreek dan moontlike voorbeelde wat gebruik kan word om die aanbieders se boodskap en kennis met hul gehoor te deel op 'n manier wat vir die luisteraar sal sinmaak.      

Die studente hoop om, onder meer, 'n begrip van persoonlike finansiële kwessies én die hulpmiddels om hierdie kwessies op te los, oor te dra, sowel as 'n begrip van verbruikerregte en kredietregulasies. Die Regskliniek bied ook toegang tot regspleging wanneer kwessies van so aard is dat mense regshulp vereis.    

In 2019 het die studente by 10 plase en vier skole in die Stellenbosch-omgewing werksessies aangebied. 'n Onlangse vereiste is dat alle studente by sowel 'n skool as 'n plaas moet aanbied. Dit stel hulle bloot aan meer as een gehoor.       

Twee van die veranderings wat vir 2020 beplan word, is om dit vir meer studente moontlik te maak om aan die projek deel te neem en die projek se voetspoor te vergroot.   

“Ons beoog om elke jaar nuwe gemeenskappe te besoek en te ondersteun en sien geleenthede vir uitbreiding in stedelike omgewings. Voorts plaas ons groot klem op die ontwikkeling van onderrigmateriaal wat gebruik kan word om opleiding te verskaf, met inagneming van die gehore se geletterdheidsvlakke en taalvoorkeure," sê mev. Louw.      

'n Boekie met wenke en raad word tans ontwikkel en sal beskikbaar wees in Afrikaans, Engels en Xhosa.