Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dubbele USSA-oorwinning vir Maties Waterpolo
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 11/12/2019

'n Strawwe USSA Waterpolo-stryd tussen die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad (UK) het geëindig in oorwinnings vir Maties, met die mans- én vrouespan wat die titel verower het.

Maties het die vrouefinaal 6-5 gewen, terwyl die mans se eindtelling 13-12 was.

Maties en Ikeys oorheers die USSA Waterpolo-kompetisie al sedert 2010, met Maties se vrouespan wat ses titels teenoor Ikeys se twee gewen het. Daar was nie toernooie in 2015 en 2016 nie. Deur die 2019-titel te wen, het Maties hul 2018-titel suksesvol verdedig.

Dit was die mans se eerste titel sedert 2017. Ikeys het ses titels verower sedert 2010, en Maties twee.

Dit was 'n baie spesiale dag vir Gemma Haywood en Georgia Moir, wat in hul laaste wedstryd vir Maties gespeel het. Haywood was vir die grootste deel van die jaar speler, kaptein én afrigter van die span. Die span het vir die USSA-kompetisie ook hulp ontvang van Ryan Weideman.

Haywood het die eerste doel in die finaal aangeteken: “Die span is aangevuur deur harde werk, passie en 'n liefde vir die spel. 'Oefen soos jy speel' is wat ek nog altyd geglo het. Dit was 'n ongelooflike afsluiting by Maties Waterpolo," het Haywood gesê.

Die mans se afrigter, Vaughn Marlow, het gesê: “Die USSA-oorwinning was die kulminasie van 'n lang pad en proses waar die titel aan die einde net 'n byproduk was van die stelsels wat ons gevestig het. Ek was baie gelukkig met hoe ons gespeel het. Oorwinning of geen oorwinning nie, dit sou nie verander hoe ek gevoel het nie. Dit het gegaan oor die proses, nie die resultaat nie. Hoewel die oorwinning baie lekker was!"