Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier maklike maniere om diabetes af te weer
Outeur: Faadiel Essop
Gepubliseer: 14/11/2019

​Donderdag (14 November) is Wêrelddiabetesdag. In n meningsartikel vir News24, wys Prof Faadiel Essop van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch op vier maniere hoe mense hulself en hul families kan help om diabetes af te weer.

  • Lees die artikel hier onder of klik hier vir die gepubliseerde weergawe.

Daar is tans sowat 425 miljoen mense wêreldwyd wat met diabetes saamleef, en hierdie getal sal na raming teen 2045 tot 629 miljoen styg. Volgens navorsing word die voorkoms van diabetes in Suid-Afrika rondom 5,6% geskat, maar hierdie persentasie is waarskynlik baie hoër weens die groot aantal mense wat tans ongediagnoseerd is. Ons dra as land swaar aan die las van hierdie uitmergelende siekte wat blindheid, amputasie, hartsiekte, nierversaking en vroeë dood kan veroorsaak.

Aangesien diabetes nie diskrimineer nie, is dit belangrik dat individue en gesinne hulself met kennis bewapen oor hoe om dit voorkom en te bestuur. 'n Baie gepaste tyd om hiermee te begin is op Wêrelddiabetesdag, wat jaarliks op 14 November gehou word. Dié dag is in 1991 deur die Internasionale Diabetesfederasie (IDF) en die Wêreldgesondheidsorganisasie van stapel gestuur in reaksie op die toenemende bedreiging wat diabetes vir die wêreld inhou.

Vanjaar se tema vir Wêrelddiabetesdag is “Beskerm jou gesin", wat volgens die IDF mense bewus moet maak van die uitwerking wat diabetes op die gesin het en om die rol wat die gesin in die bestuur, sorg, voorkoming en opvoeding oor die toestand speel, te bevorder. Dit hoef nie 'n skrikwekkende taak te wees om jou gesin teen diabetes te beskerm nie. Daar is vier redelik maklike stappe wat mense kan toepas om te help om hul gesin teen die aanvang van diabetes te beskerm en ook om diegene wat reeds deur hierdie siekte geraak word, te help.

'n Baie belangrike eerste stap is om jou te laat toets. Statistieke van die IDF toon dat 'n beduidende aantal mense wat eintlik diabeties is, nog nie gediagnoseer is nie. 'n Studie wat byvoorbeeld in 2012 in Bellville gedoen is, het getoon dat 56% van diegene wat deur die navorsers met diabetes gediagnoseer is, onbewus van hul toestand was. Dit is dus noodsaaklik om vir diabetes getoets te word, want dit kan ernstige nagevolge vir die gesondheid en welstand van mense wat dit nie doen nie, inhou. 'n Maklike aanlyn selfassessering vir diabetes is voldoende hiervoor. Kennis oor die gevaartekens van diabetes, byvoorbeeld uitermatige dors, gereelde urinering en 'n dooie gevoel in die hande en voete, is ook nuttig en insiggewend om dan mediese hulp te kry.

Tweedens moet 'n ondersteuningskultuur binne gesinne en gemeenskappe gekweek word. Navorsing toon dat goeie ondersteuning deur familielede of lewensmaats 'n belangrik rol binne hierdie konteks speel. Hierdie tipe ondersteuning kan nuttig wees vir beide die voorkoming van die siekte en vir familielede wat reeds met diabetes gediagnoseer is. In laasgenoemde geval kan familie mense help om hul voorgeskrewe medikasie korrek te gebruik; hulle kan help waar daar geestesgesondheidskomplikasies soos depressie voorkom en ook met die aanleer van aangepaste leefstylkeuses (soos dieet en fisieke oefening) en die inwerkingstelling hiervan op die lange duur.

Derdens moet gepaste leefstylaanpassings toegepas word. Die aanvang van diabetes is 'n ingewikkelde proses waar daar 'n kruising tussen gene en leefstylkeuses is. Ons weet dat swak eetgewoontes en 'n passiewe leefstyl met die aanvang van diabetes en hartsiektes verbind word. Onlangse data toon egter dat sogenaamde epigenetiese veranderinge – stabiele veranderinge op die genetiese vlak sonder om die genetiese volgorde te verander – ook 'n sleutelrol in die aanvang van diabetes speel. In hierdie geval kan die uitwerking van omgewingsfaktore verder as die individu strek en na jou kinders, kleinkinders en toekomstige geslagte oorgedra word. Dit kan byvoorbeeld beteken dat 'n swanger vrou se gedrags- en leefstylverwante keuses soos rook, substansiemisbruik en wanvoeding epigenetiese veranderinge in die fetus tot gevolg kan hê wat die pasgeborene die risiko kan laat loop om in die toekoms diabetes en hartsiektes te ontwikkel. Nog 'n groter onus as ooit tevore rus dus nou op individue en gesinne om gesonder leefstylkeuses uit te oefen.

Aangesien navorsing aandui dat dit moeilik is om op die lange duur met leefstylverwante veranderinge vol te hou, is dit beter om met kleiner, hanteerbare veranderinge te begin. Mense moet eerder beplan om veranderinge aan hul leefstyl as deel van 'n aangepaste daaglikse roetine aan te bring, en dan vandaar hierop voor te bou. Daar is 'n magdom diëte en leefstylaanpassings aanlyn beskikbaar wat dikwels tot swak keuses lei, aangesien hierdie opsies nie noodwendig altyd aan gestrenge wetenskaplike toetsing en/of kliniese toetse onderwerp was nie. Dit is dus noodsaaklik dat mense hul dokter spreek en slegs gesaghebbende aanlyn bronne raadpleeg om oor 'n spesifieke leefstylaanpassing te besluit. 'n Nuttige vertrekpunt sal byvoorbeeld die hoogaangeskrewe Mayo Clinic wees wat aanbeveel dat mense gesonde koolhidrate, veselryke kossoorte, vis en “goeie" vette eet en versadigde en transvette, cholesterol en natrium (sout) vermy.

Mense moet ook bewus wees van versteekte suikers in verwerkte kosse, soos koeldrank en vrugtesap wat met suiker versoet word. Ons navorsingsgroep het onlangs die uitwerking van suikerversoete drankies op mense se gesondheid beoordeel. In sommige geval is bevind dat so min as twee suikerversoete drankies per week met 'n verhoogde risiko vir die aanvang van diabetes verbind kan word. Dit is belangrik om te onthou dat die daaglikse perk vir suikerinname, soos bepaal deur die Amerikaanse Hartvereniging, nege teelepels per dag vir mans en ses teelepels per dag vir vroue is. Mense moet besef dat hulle deur net een gemiddelde blikkie suikerversoete koeldrank te drink, die daaglikse suikerperk oorskry.

Laastens, maar beslis nie die minste nie, is dit belangrik dat ons opstaan en begin stap. Baie mense leef sittende leefstyle, wat beide die gebrek aan fisieke oefening en sit vir lang tye by die kantoor en in die verkeer of te veel tyd voor die rekenaar of televisie insluit. Hierdie tipe passiewe gedrag word met 'n verhoogde risiko vir die aanvang van diabetes verbind. 'n Maklike manier om van so 'n sittende leefstyl ontslae te raak, is om eerder te stap wanneer jy ook al kan. Klim byvoorbeeld eerder die trappe as om die hysbak te gebruik, gaan stap oor middagete, stap na nabygeleë vriende of familie of na die plaaslike winkel. As jy die meeste van jou dag op kantoor spandeer, probeer om gereelde pouses en/of kort wandelings te neem, en oorweeg ook 'n sit-staan-lessenaar. Dit kan die eerste stappe wees om jou en jou gesin teen diabetes te beskerm.

​*Professor Faadiel Essop is die Direkteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch.