Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Taalleerhub floreer steeds
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/11/2019


In 2018 het die Universiteit Stellenbosch (US) 'n nuwe Taalleerhub op die been gebring om die veeltalige aspirasies van individuele studente te ondersteun en om kulturele diversiteit te bevorder.

'n Jaar later floreer die Hub aangesien meer en meer studente oor mekaar se taal en kultuur wil leer.

“Ons het deur die aanbied van die Hub se “Survival Afrikaans" en “Survival isiXhosa" kortkursusse opgelet dat daar 'n groot behoefte onder ons plaaslike studente is om taal aan te leer. Veral die aantal studente wat Afrikatale vir sosiale gebruik wil aanleer, word al hoe meer," sê Helga Sykstus, 'n koördineerder by die Taalleerhub.

Die Taalleerhub is deel van die Universiteit se Taalsentrum, wat taal en kommunikasie-ondersteuning aan studente en personeel van die US, asook eksterne kliënte verskaf.

Die Hub se doelwit is om 'n eenstopdiens te verskaf waar kliënte volgens hul taalbehoeftes bedien kan word. Die hooffokus die afgelope jaar was om studente en ander kliënte geleenthede te bied vir die aanleer van spesifiek isiXhosa en Afrikaans.

Volgens Marli van Eeden, een van die studente wat die agt-weke lange “Survival isiXhosa" kortkursus voltooi het, was sy aangenaam verras deur die vlak van detail wat in die kursus vervat is. “Ek het vir só lank probeer om die regte Xhosa-kursus te vind en was regtig baie bly toe ek hierdie een ontdek het. Al het dit net agt weke geduur, het dit aan al my verwagtinge voldoen."

Arné Binneman, nog 'n koördineerder by die Taalleerhub, hoop om op die sukses van die Hub voort te bou en om die unieke dienste wat hulle bied, wyer onder studente en eksterne kliënte te bemark. “Ons het deur die verloop van die jaar die ongelooflike behoefte aan alternatiewe aanleer van taal gesien. Die sukses van ons pasgemaakte taalkursusse en werksessies vir eksterne kliënte is ook 'n bewys daarvan," sê Binneman.

Binneman en Sykstus het vroeër die jaar die geleentheid gehad om 'n pasgemaakte kortkursus, 'Afrikaanse taal en kultuur vir Nederlandse sprekers', vir 'n Nederlandse sakeman wat in Aix, Frankryk woon, aan te bied. Hy het vir drie maande op Stellenbosch kom bly met die primêre doel om Afrikaans te leer.

“Die doelwit van hierdie pasgemaakte kursus was om te verseker dat taal en kultuur regdeur die leerproses behandel word. Vir die Nederlandse sakeman se kursus het ons seker gemaak dat hy ook aan die kulturele sy van Afrikaans blootgestel word. Terwyl ons saam met hom gewerk het, het ons hom na die Taalmonument in die Paarl en die Distrik Ses-museum in die Bo-Kaap geneem. Ons het dit ook gefasiliteer en hom gehelp om by boekklubs en ander aktiwiteite betrokke te raak om hom te help om meer oor die Afrikaanse taal en kultuur te leer," sê Sykstus.

Hulle glo ook die Hub kan 'n waardevolle bydrae tot hoë-gehalte taalonderrig lewer deur virtuele en fisieke ruimtes met verskeie leergeleenthede buite die gewone leeromgewings te integreer.

Die Taalleerhub bied onder meer die volgende geleenthede:

  • 'n Gratis konsultasie om die verskillende outonome leergeleenthede te verduidelik;
  • Informele Survival Afrikaans en isiXhosa sessies vir koshuise en Luister, Leef- en Leerhuise met behulp van 'n gemengde benadering;
  • Kortkursusse vir die aanleer van Afrikaans en Xhosa;
  • Pasgemaakte taalkursusse en -werksessies vir eksterne kliënte;
  • Gespreksgenote (eenrigtingleer) en tandemtaalleer; en
  • Boek- en rolprentklubs.

    Vir meer inligting oor die dienste en die gepaardgaande koste, kontak:

    Helga Sykstus by hbuys@sun.ac.za / taalleerhub@sun.ac.za of 021 808 4004.

           Arné Binneman by arne@sun.ac.za of 021 808 9731.