Die verklaring oor leer-en-onderrig-, navorsing- en
innovasie-vennootskappe wat vroeër vanjaar deur die
Suid-Afrika-Swede-Universiteitsforum (SASUF) aanvaar is, is op Vrydag, 1
November 2019 aan die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en
Tegnologie, dr Blade Nzimande, oorhandig.
Die verklaring is deur
prof Hester Klopper, viserektor: Strategie en Internasionalisasie by die
Universiteit Stellenbosch (US), en prof Stephanie Burton, visehoof van
die Universiteit van Pretoria, by die kantore van die Departement van
Wetenskap en Tegnologie op die WNNR-kampus in Pretoria oorhandig.
Die
oorhandiging van die verklaring aan die minister volg op ’n resolusie
wat in Mei 2019 by die SASUF-leierskapsberaad by die US aanvaar is. Die
beraad was ’n samekoms van al die visekanseliers en viserektore van die
36 universiteite in Suid-Afrika en Swede wat op die forum verteenwoordig
is. Die doel was om die pad vorentoe uit te stippel en om samewerking
in onderig-en-leer, navorsing en innovasie op al die navorsinggebiede
wat deel van die agenda van die navorsings- en innovasieseminaar was,
verder te versterk.
Die SASUF-leierskap het onder meer besluit om ’n beroep op hul onderskeie regerings te doen om die volgende te implementeer:
●
Bevorder en fasiliteer vennootskappe in navorsing en onderrig-en-leer –
deur toepaslike befondsing en ’n buigsame befondsingskema vir
samewerking tussen Suid-Afrika en Swede.
● Bevorder die buigsame
beweging van studente en doktorate – deur die versterking van bestaande
befondsingstrukture en deur nuwes te skep waar daar leemtes is.
●
Bevorder samewerking wat by die Verenigde Nasies se Agenda 2030
inskakel – deur voorsiening te maak vir samewerking in navorsing en
onderrig-en-leer wat spesifiek met die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte
verband hou.
● Fasiliteer die ontwikkeling van die volgende
generasie akademici – deur die skepping van toekenningsprogramme wat
spesifiek op ontluikende navorsers in Suid-Afrika en Swede gerig is.
“Ons
samewerking sal innoverende benaderings, oplossings en resultate lewer,
en deur samewerking tussen Swede en Suid-Afrika te bevorder, sal ’n wye
reeks oplossings verskaf word wat andersins nie moontlik sou gewees het
nie,” het dr Nzimande gesê.
Ter nastrewing van sy doelwit om
een van Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat
wêreldwyd ’n impak het, het die Universiteit Stellenbosch op 9 en 10 Mei
die tweede Suid-Afrika-Swede-Universiteitsforum (SASUF) Navorsings- en
Innovasieseminaar aangebied om saam te val met die
SASUF-leierskapsberaad.
Hierdie SASUF Navorsing- en
Innovasieseminaar het meer as 450 navorsers en verteenwoordigers van
befondsingagentskappe, nywerhede en ministeries van Suid-Afrika en Swede
byeengebring om innoverende maniere te ondersoek om uitdagings wat met
klimaatsverandering, onderwys, gesondheidstelsels, samelewing,
volhoubare verstedeliking en kuberveiligheid verband hou deur navorsing,
innovasie en samewerking aan te spreek.
Die seminaar was die
hoogtepunt van die Navorsing- en Innovasieweek met altesame 49
verskillende satellietgeleenthede wat gedurende die week van 6–10 Mei
regoor Suid-Afrika
plaasgevind het. Dit het ’n forum vir
samewerking en uitruil in al die verskillende velde wat vroeër genoem is
(gegrond op die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte), geskep in ’n
poging om bande in navorsing, onderrig-en-leer en innovasie te versterk.
· Die derde Suid-Afrika-Swede-Navorsing- en Innovasieweek word van 4–8 Mei 2020 in Uppsala, Swede gehou.