Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​Nominasies ingewag vir gesamentlike werkgroepe teen geslagsgebaseerde geweld by die US
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 09/10/2019

Gesamentlik werkgroepe word tans saamgestel om geslagsgebaseerde geweld by die Universiteit Stellenbosch (US) te beveg. Hulle sal kwessies aanspreek wat uitgelig word in die Beweging teen Geslagsgebaseerde Geweld US se memorandum, asook die bestuur se daaropvolgende antwoord.

Dít was die uitkoms van die vierde vergadering teen geslagsgebaseerde geweld die afgelope maand tussen die bestuur en studente, wat Dinsdagmiddag (8 Oktober 2019) plaasgevind het. Die vergadering is deur lede van die Rektoraat, die Beweging teen Geslagsgebaseerde Geweld US, Studenteraad (SR), Tygerberg-studenteraad (TSR) en die Primkomitee bygewoon.

“Ons veroordeel geslagsgebaseerde geweld en sal dit nie duld nie. Dit is waarom ons alle beskikbare hulpbronne inspan. Daar is reeds goeie vordering op verskeie gebiede, soos byvoorbeeld veiligheid, gemaak. Ons wil ons momentum behou," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US en voorsitter van die vergadering, gesê.

Ses werkgroepe is geïdentifiseer:

  1. Waardes en beginsels
  2. Veiligheid en sekuriteit
  3. Opleiding en bewusmaking
  4. Koshuise en strukture
  5. Prosedures en prosesse
  6. Geestesgesondheid, en drank- en middelmisbruik

Gedetailleerde opdragte vir die werkgroepe word tans opgestel. Dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, sal as oorhoofse projekleier optree. Elke werkgroep sal onder die toesig van 'n lid van die Rektoraat val, en sal verteenwoordigers insluit van die mees toepaslike Universiteitstrukture vir die besprekingsonderwerp, asook studente.

“Die gesprekke tussen ons is uiters waardevolle en moet voortgaan. Ons wil as 'n Universiteitsgemeenskap saam vorentoe gaan teen geslagsgebaseerde geweld," het prof De Villiers gesê.

Nominasies:

Beide formele strukture en ad hoc-groeperings in sowel personeel- as studentegeledere word gevra om werkgroeplede te nomineer. Nominasies moet aan antigbv@sun.ac.za gestuur word (CC: studentesake@sun.ac.za). Dit moet die genomineerde persoon se naam en van insluit, hul kontakbesonderhede, asook ʼn kort motivering wat verwys na hul vorige ervaring op die gebied van die betrokke werkgroep-onderwerp, en hul verwagte bydrae. Die sperdatum is Vrydag, 25 Oktober 2019.