Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 25 September 2019)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 27/09/2019

Die derde geskeduleerde vergadering van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Woensdag 25 September 2019 plaasgevind. ʼn Nuwe Kanselier is aangewys deur ʼn kieskollege wat voor die Raadsvergadering byeengekom het, en die Raad het daarna die Rektor en Visekanselier heraangestel.

Raadslede het geslagsgebaseerde geweld sterk veroordeel en die huidige samesprekings hieroor tussen die bestuur en studente verwelkom. Die Raad het ook kommer oor drank- en middelmisbruik onder studente uitgespreek en alle rolspelers versoek om méér te doen om dit hok te slaan.

ʼn Beleid oor Gehalteversekering en -bevordering vir die Universiteit is goedgekeur. Daarbenewens het die Raad verslae van die Rektor en Visekanselier, die Viserektor: Strategie en Internasionalisering sowel as die Uitvoerende Bedryfshoof ontvang.

Lees gerus verder vir meer besonderhede.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Nuwe Kanselier aangewys

'n Kieskollege wat uit die Raad, die Uitvoerende Komitee van die Senaat sowel as die president en visepresident van die Konvokasie van die US bestaan, het voor die Raadsvergadering byeengekom om die Universiteit se 15de Kanselier aan te wys. Regter Edwin Cameron – akademikus, regsgeleerde, outeur en pas afgetrede regter van die Konstitusionele Hof – is met 'n oorweldigende meerderheid van stemme verkies. Hy sal dr Johann Rupert opvolg, wie se termyn aan die einde van die jaar verstryk.

Die Raad het dr Rupert bedank vir sy diens aan die Universiteit sedert hy in 2010 Kanselier geword het, en regter Cameron gelukgewens met sy verkiesing. Cameron is ʼn US-alumnus wat in 2015 'n eredoktorsgraad van sy alma mater ontvang het, en is deur lede van die Konvokasie vir die Kanseliersamp benoem. Klik hier vir ʼn volledige nuusberig.

Tweede termyn vir Rektor

Die Raad het prof Wim de Villiers eenparig vir ʼn tweede termyn van vyf jaar as Rektor en Visekanselier van die US aangewys – van 1 April 2020 tot 31 Maart 2025. Die Institusionele Forum en die Senaat het vroeër aanbeveel dat prof De Villiers heraangestel word.

Die voorsitter het gesê die Raad het groot waardering daarvoor dat die US onder die Rektor se leiding uitstekend presteer, en dat prof De Villiers ʼn oortuigende visie vir sy tweede termyn voorgelê het.

Die Rektor het gesê sy hoofprioriteit bly die US se studente en personeellede, want sonder hulle is daar nie 'n Universiteit nie. Daarom sal hy voortgaan om hom vir hul sukses en ontwikkeling te beywer. Klik hier vir ʼn volledige nuusberig.

Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke

Die Raad het die nuus verwelkom dat die US ʼn Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke tot stand gebring het, soos gerapporteer deur die Rektor en Visekanselier (klik hier vir sy bestuursverslag). Dié alleenstaande entiteit, wat op 29 Julie amptelik bekend gestel is, is nie in 'n enkele fakulteit gesetel nie, maar is werksaam oor fakulteitsgrense heen. Klik hier vir ʼn volledige nuusberig.

Artikel oor ras en kognisie

Die Raad het kennis geneem dat drie Senaatskomitees aanbeveel het dat die US die internasionale gedragskode vir navorsing in hulpbronarm omgewings (www.globalcodeofconduct.org) amptelik by die volgende Senaatsvergadering in November 2019 aanvaar. Dít volg ná die omstredenheid vroeër vanjaar oor ʼn artikel oor ras en kognisie wat deur US-navorsers gepubliseer is.

Die Raad het ook kennis geneem van pogings om te bepaal hoe elke student blootgestelling aan leermateriaal oor gender- en kritiese rasstudie gegee kan word, en van ʼn opname om vas te stel in watter mate navorsing en onderrig oor hierdie onderwerpe reeds by die US plaasvind.

Intussen duur die ondersoek na die publikasie van die artikel voort. Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het gesê hy sal by die volgende Raadsvergadering verdere terugvoer oor die aangeleentheid voorsien.

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het die US se halfjaarlikse finansiële verslag vir indiening by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) goedgekeur. Die verslag handel oor die Universiteit se finansiële uitkoms vir die tydperk 1 Januarie tot 30 Junie 2019.

Volgens die verslag is die begroting vir 2019 oor dié tyd verantwoordelik bestuur. Die Universiteit is finansieel gesond ondanks die oorwegend swak markomstandighede en beleggingsprestasie. Nes verlede jaar, het privaat skenkings weer sterker toegeneem as wat verwag is.

Nietemin moet sekere risiko's in aanmerking geneem word, soos die impak van wêreldwye en plaaslike ekonomiese vooruitsigte, die moontlike besnoeiing van staatsfinansiering, en die tot nog toe onbekende uitwerking van die verwagte regulering van studentegeld.

Die Raad het kennis geneem van die Universiteit se voortgesette verbintenis tot goeie finansiële beplanning en bestuur ten einde die instelling se finansiële volhoubaarheid op lang termyn te verseker.

Fondswerwing by die US

Die US het meer inkomste uit skenkings en toekennings ontvang as enige ander instelling wat in 2018 aan die jaarlikse opname oor hoëronderwysfilantropie (ASPIHE) deelgeneem het. Die opname toon dat die US op bedryfsvlak aan die voorpunt van fondswerwing in Suid-Afrika is. Die instelling se fondswerwingspogings vir voor- en nagraadse beurse het byvoorbeeld in 2018 altesaam R107 miljoen ingebring teenoor R58,8 miljoen in 2015. Boonop het die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge slegs 6c bestee vir elke rand gewerf vergeleke met die opnamegemiddeld van 18c.

Beleid oor Gehalteversekering en -bevordering

Die Raad het ʼn Beleid oor Gehalteversekering en -bevordering vir die US goedgekeur. Die beleid maak voorsiening vir sikliese beoordeling van akademiese departemente en professionele administratiewe steundienste, en vir die periodieke hersiening en vernuwing van fakulteite, organisatoriese strukture, en akademiese programme en kwalifikasies. Die doel is om die gehalte van alle werksaamhede by die Universiteit voortdurend te verbeter.

Die Viserektor: Leer en Onderrig is verantwoordelik vir die toepassing van die beleid. Die finale weergawe sal op die US-tuisblad geplaas word, in die sentrale bewaarplek vir belangrike oorsigbestuur- en bestuursdokumente wat onlangs geskep is (klik hier vir toegang).

Die US maak opgang op wêreldranglys

Die Raad het die nuus verwelkom dat die US op die jongste weergawe van die Times Higher Education- (THE-)wêrelduniversiteitsranglys sy plek onder die voorste universiteite ter wêreld verder verbeter het. Die US val nou in die kategorie 251–300, teenoor 301–350 verlede jaar. Dít plaas die US onder die voorste 1% van universiteite wêreldwyd.

Die US het dié keer beter presteer met betrekking tot die aanwysers vir onderrig, navorsing, sitate en internasionale beskouing. Die grootste verbetering was dié in sitate, wat met 13% gestyg het sedert verlede jaar. Dít is die derde jaar ná mekaar wat die US sy sitateprestasie verbeter.

Inskrywings en kwalifikasies

Volgens die jaarlikse Juniesensus staan die US se totale studentetal nou op 31 681, wat 0,3% minder is as verlede jaar. Nagraadse inskrywings maak steeds sowat ʼn derde uit van die totaal. Altesaam 52,5% van kwalifikasies wat in die akademiese jaar 2018 toegeken is, was op nagraadse vlak.

Hersiene Statuut tree in werking

Die US se nuwe Statuut is nou van krag nadat dit op 16 Augustus 2019 in die Staatskoerant gepubliseer is (klik hier om daarna te kyk). Die Raad het dit in November 2018 aanvaar en die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie het dit op 10 Julie 2019 onderteken.

Oorgangsmaatreëls om aan die nuwe Statuut uitvoering te gee word tans beplan. Die Universiteit het 24 maande om die samestelling van statutêre liggame met die nuwe Statuut te versoen. Die hersiene Statuut is op die Universiteit se amptelike webblad vir beleide en regulasies te kry.

Verslag van die Viserektor: Strategie en Internasionalisering

Die Raad het 'n jaarverslag (klik hier vir volledige dokument, en hier vir skyfie-aanbieding) van die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, ontvang, wat oor die afdelings Strategiese Inisiatiewe, US Internasionaal, Inligtingsoorsigbestuur en Korporatiewe Kommunikasie handel. Hoogtepunte uit die verslag sluit die volgende in:

Strategiese Inisiatiewe (SI)

Die Rektoraat het in April 'n hersiene reglement vir die US Strategiese Fonds goedgekeur. Die Fonds fokus uitsluitlik op inisiatiewe wat, hoewel dit met die US se visie, missie en kern strategiese temas in Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024 strook, nié uit die Universiteit se hoofbedryfsbegroting gefinansier word nie. Daar is nou drie aansoekkategorieë, naamlik strategiese inisiatiewe, strategiese uitstyg- en openbaremeningsprojekte (“high-rise and public-square projects"), en strategiese aanstellings. Altesaam 27 projekte het vanjaar tot die tweede ronde deurgedring. Daar word op 31 Oktober oor finale toekennings besluit.

Internasionalisering

Die Rektoraat het in Augustus 'n Internasionaliseringstrategie vir die US goedgekeur. Dit beoog om die Universiteit se status as 'n betroubare wêreldrolspeler en 'n voorkeurvennoot in Afrika te konsolideer. Die strategie bied 'n raamwerk om 'n internasionale dimensie by alle tersaaklike institusionele prosesse in te sluit. Boonop verleen dit groter fokus aan die bestaande wye verskeidenheid internasionaliseringsaktiwiteite by die US en rig die instelling se pogings om nuwe, ontluikende geleenthede te ontgin.

Inligtingsoorsigbestuur

'n Aantal strategiese bestuursaanwysers aan die hand waarvan die US sy vordering met sy ses kern strategiese temas kan bepaal, is aan die Raad voorgelê. 'n Kernwerkgroep het dit opgestel en verbeter gedurende ses intensiewe werksessies wat oor 'n paar weke in Augustus plaasgevind het. Die eindproduk is by die Rektoraat ingedien, wat dit verder gewysig het. Die Raad het ook kennis geneem dat 'n finale paneelbord met strategiese bedryfsaanwysers by die Raadsvergadering in Desember ter tafel gelê sal word.

Korporatiewe Kommunikasie

ʼn Oudit van US-handelsmerkopvattings het aan die lig gebring dat ten minste 170 subhandelsmerke, visuele identiteite en logo's in verskillende US-omgewings gebruik word – dikwels sonder enige ooglopende verwantskap met die Universiteit. Dít verswak uiteraard die Universiteit se handelsmerk. Die Rektoraat het ná deeglike oorweging besluit dat die US van sy huidige, gefragmenteerde “huis van handelsmerke en logo's" sal oorbeweeg na 'n enkele, monolitiese handelsmerkontwerp. ʼn Hersiening van die US se visuele identiteit sal nou van stapel gestuur word. Intussen bly die bestaande, Eeufeesverwante visuele identiteit in gebruik.

Verslag van die Uitvoerende Bedryfshoof

Die Raad het 'n jaarverslag (klik hier vir volledige dokument en hier vir skyfie-aanbieding) van die Uitvoerende Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, ontvang. Hy bestuur die verantwoordelikheidsentrum Bedryf en Finansies, wat uit die afdelings Finansies, Fasiliteitsbestuur, Informasietegnologie (IT), Innovus en Maties Sport bestaan. Hoogtepunte uit sy verslag sluit die volgende in:

Finansies

Die US se Afdeling Finansies sal hom vir die volgende twee jaar hoofsaaklik op die implementering en suksesvolle ingebruikneming van SUNFin (Oracle Cloud Financials) toespits om die strategiese tema van 'n florerende US te ondersteun. Dít sal die verbetering van onderliggende prosesse en beleide insluit om finansiële prosedures te optimaliseer, terwyl goeie korporatiewe oorsigbestuursbeginsels steeds gehandhaaf en nagekom word. Boonop sal dit 'n beoordeling van die relevansie van alle tersaaklike/geaffekteerde substelsels sowel as die digitalisering van huidige prosesse en prosedures behels. Hierdie stelselvernuwingsprojek word beskou as 'n geleentheid om prosesse met die oog op goeie oorsigbestuur en 'n optimale eindgebruikerservaring te verbeter, en om die finansiële stelsel 'n instaatsteller van uitnemendheid te maak. Veranderingsbestuur en opleiding sal ook baie aandag kry om 'n bevredigende ervaring vir kliënte te verseker.

Fasiliteitsbestuur

Die Afdeling Fasiliteitsbestuur bestuur die geboue, infrastruktuur, sportterreine en verbandhoudende dienste op alle US-kampusse. Die US het 490 geboue met 820 810 m2 bruikbare ruimte op 576 ha grond. Daar is tans 147 kapitaalprojekte aan die gang by die Universiteit, met 'n algehele waarde van R2,155 miljard. Danksy besparingsmaatreëls het die Universiteit se elektrisiteitsverbruik verlede jaar gedaal tot ʼn vlak wat laas in 2008 beleef is, en was waterverbruik 51% laer vergeleke met die basislyn van 2015.

Kampussekuriteit

Ofskoon sekuriteit op alle US-kampusse 'n risiko bly, is die getal aangemelde misdaadvoorvalle tans die laagste sedert 2005. Van 1 370 voorvalle in 2016 het dit verlede jaar gedaal tot 813. Interne faktore wat tot hierdie tendens bydra, sluit in voortgesette beoordeling en tempering van sekuriteitsrisiko's, die verkryging en aanstelling van 'n nuwe sekuriteitsdienstevennoot, 'n toename in die getal sekuriteitsbeamptes op patrollie, die gebruik van beter kommunikasiesekuriteitstelsels, en die prioritisering van steun en opleiding vir sekuriteitspersoneel. Hoewel dít alles tot ʼn afname in aangemelde misdaadvoorvalle bygedra het, besef Kampussekuriteit dat eksterne faktore huidige omstandighede in 'n ommesientjie kan destabiliseer.

Innovus

Innovus is verantwoordelik vir die US se intellektuele-eiendom- en handelsmerkportefeulje, en ondersteun US-navorsers, -personeellede en -studente om hul kundigheid en navorsing te kommersialiseer om voordele vir die Universiteit sowel as die samelewing te skep. Innovus het tot dusver vanjaar 22 interessante openbaarmakings van nuwe uitvindings ontvang, waaronder:

  • 'n “vel-drukker";
  • fraksionering, oftewel die proses om insekte in voedsel te omskep;
  • 'n metode vir die klankgebaseerde differensiële diagnose van longsiekte;
  • 'n stelsel vir die berging van aardgas;
  • die kalibrering van gekonsentreerde sonkragaanlegte met behulp van onbemande vliegtoestelle (hommeltuie); en
  • 'n bioafbreekbare wynbottel.

Informasie Tegnologie

Die US se Afdeling Informasie Tegnologie (IT) is goed op koers om sy diensleweringsmodel te herskep in 'n struktuur wat gerig is op uitnemende IKT-steundienslewering, in samewerking met alle vennote sowel binne as buite die Universiteit. Een van die belangrike geleenthede om dít te bereik was deur die pas afgelope hersiening van die diensleweringsmodel. Dit het ʼn deeglike beoordeling van bedryfsprosesse behels om IT se diensaanbod te standaardiseer en te formaliseer. 'n Nuwe diensskakelingsmodel is voorgestel, en word nou ontwikkel vir implementering.

Maties Sport

Vir die US het sport strategiese waarde. Een van Maties Sport se vele onlangse prestasies was Maties Rugby se dubbele Varsitybekersege vir die tweede jaar na mekaar. Nes in 2018 het sowel die Maties Varsitybeker- as die Maties Young Guns-span hul onderskeie eindstryde in die Varsitybekerkompetisie gewen. Die US was in Julie die gasheer vir die USSA- (Universiteitsport Suid-Afrika-)spele vir 2019. Maties het twee goue medaljes (fietsry vir mans, en branderry vir vroue), ses silwer en twee brons medaljes verower. Ook prysenswaardig is dat Maties Sport se hoëprestasiestudenteatlete in 2018 'n eerstejaardeursetsyfer van 85% behaal het, wat met die US-gemiddeld strook.

Eksterne beoordeling van Menslike Hulpbronne

Nadat die opdrag vir 'n eksterne beoordeling van die Afdeling Menslike Hulpbronne (MH) afgehandel is, is 'n geslote tenderproses aangevoor en ʼn konsultasiefirma as diensverskaffer aangewys. Die beoordeling het op 19 Augustus 'n aanvang geneem. Ál MH se prosesse, prosedures, beleide, praktyke, personeellede, personeelvaardighede, werklaste en personeelplasings sal van nader bekyk word.

Raadslede en -strukture

Die Raad het me Nadine Moodie as nuwe lid verwelkom. Me Moodie is ʼn US-alumna en voormalige studenteleier wat deesdae as bestuurs- en strategiekonsultant praktiseer. Haar termyn strek van 18 Junie 2019 tot 17 Junie 2023. Sy is een van twee Raadslede wat deur die Raad self aangewys word.

Mnr Charl Cillié is as voorsitter van die Raad se Sosiale en Besigheidsetiekkomitee aangewys, en dr Minka Woermann van die Departement Filosofie as lid van dié komitee. Dr Woermann is die hoof van die Eenheid vir Sake-etiek en Publieke Integriteit in die US se Sentrum vir Toegepaste Etiek.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering, wat die laaste vir die jaar sal wees, is geskeduleer vir Maandag 2 Desember 2019.

 

FOTO DEUR STEFAN ELS:

US Raadslede by die vergadering op 25 September 2019, van links (agter), mnre Wayde Davidse, Hubert Brody en Charl Cillié, adv Gesie van Deventer, proff Hester Klopper en Nico Koopman, me Nadine Moodie, proff Johan Fourie en Eugene Cloete, mnr Ainsley Moos, prof André Coetzee, Dr Tsakani Ngomane, proff Aslam Fataar en Amanda Gouws, adv Jean Meiring, me Carli van Wyk, prof Usuf Chikte, mnr Paulu Joubert en prof André Keet; (voor) proff Arnold Schoonwinkel, Joan Hambidge, Stan du Plessis en Wim de Villiers, mnr George Steyn (voorsitter), dr Ronel Retief (registrateur), me Gwen Ngwenya en me Sindi Lingela.