Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meningsartikel: Geweld teen vroue: Die probleem lê baie diep
Outeur: Prof Michael le Cordeur
Gepubliseer: 16/09/2019

Diegene wat die vlaag van geweld teen vroue en kinders wil afmaak as 'n gebrekkige polisiëringsprobleem, moet weer dink. Volgens Michael le Cordeur lê die probleem veel dieper: dit is 'n opvoedingsprobleem wat 'n nasionale ingrypingstrategie benodig.

Die vlaag van geweld teen vroue en kinders wat ons land tans teister, is 'n nasionale krisis soos laas gesien is toe PW Botha 'n noodtoestand afgekondig het. Die syfers wat Minister Beki Cele drie dae gelede bekend gemaak het, het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur. Vir die boekjaar Maart verlede jaar tot April vanjaar het verkragting en seksuele aanranding met 4,6% toegeneem tot 52 420 in 'n land wat reeds een van die hoogste verkragtingsyfer het. Amptelik word daar elke agt uur 'n vrou in Suid-Afrika verkrag.

Oor die naweek het verskeie betogings, mense wat in hul duisende marsjeer gelei deur kerkleiers wat herinner aan die opstande van die tagtigs, maar die keer sny die stryd oor grense heen. Die vyand is mans, spesifiek mans  wat vroue met disrespek behandel.

Dié groep mans is nie net diegene wat in donker plekke skuil en hul onskuldige slagoffers soos roofdiere inwag nie. Dit sterk veel dieper. Van die mees gesiene werkplekke tot in huishoudings wat op die oog af normaal lyk. Inderwaarheid word 'n bose stelsel steeds in stand gehou deur mans wat hul magsposisies in die samelewing misbruik.

Verlede week het ek geskryf dat die disrespek teenoor vroue is sigbaar op verskeie domeine in die Suid-Afrikaanse samelewing. Van vrouemishandeling, tot seuns wat met 'n verwronge beeld van meisies grootword tot volwasse mans wat vroue bloot sien as 'n besitting, 'n trofee waarmee hulle kan spog en 'n objek wat hulle van 'n nageslag sal verseker.

 

Gestremdes

Ernstig soos wat die krisis is, behoort ons sinvol daarop te reageer deur die gepaste regstellings te maak. Die Amerikaanse politikus, Rahm Emanuel het gesê “ You never let a serious crisis go to waste".  President Ramaphosa se respons was dus nodig en 'n eerste stap in die regte rigting sodat vroue weer veilig kan voel in hul huise en werkplek. Ongelukkig het  dit 'n wrang smaak gelaat omdat die president (of sy kommunikasieminister ) nie moeite gedoen het om met dowe vroue te kommunikeer nie. Dit het Marlene le Roux – 'n aktivis vir gestremdes - laat opmerk: “So gestremde vroue loop nie gevaar om verkrag te word nie?"

Dit moet ook nou duidelik wees dat dit nie 'n eenvoudige probleem is wat 'n enkelvoudige oplossing vra nie. Daar is vier aspekte wat myns insiens aangespreek moet word: polisiëring, die patriargale houdings van mans, die afwesige pa-sindroom en onderwys en opvoeding.

Patriargale houdings

'n Aantal vroulike predikante van die NG Kerk het 'n dringende beroep op die kerk gedoen om die leiding te neem teen die oorsake en praktyke van patriargie wat lei tot geweld teen vroue en kinders. Volges dié groep is patriargie 'n siekte wat sommige mense (mans) 'n meerderwaardige houding laat inneem en ander (vroue) minderwaardig maak (DB.10/9/19).

Hierdie houding is diep ingebed in die koppe van sommige mans wat met hierdie ingesteldheid grootword. Hetsy deur middel van godsdiens of deur kultuur matig sommige mans hulle steeds die reg aan as hoof van die huis, terwyl vroue onderdanig moet wees.

As jy in ag neem dat slegs een uit elke nege verkragtings aangemeld word, moet die syfer wat Vrydag aangekondig is, eintlik negevoudig verdubbel word. Dit is deels omdat polisiemanne traag is om vroue se klagtes ernstig op te neem; 'n klassieke voorbeeld van hierdie meerderwaardige houding. Baie vroue word terugstuur met die absurde  “opdrag" om die saak met die man “uit te praat".

Mans sal moet leer om af te sien van hul dominante posisie wat oor eeue heen opgebou is en in sommige samelewings steeds voortduur. Maklik gaan dit nie wees nie, maar dit is gewis 'n opvoedingstaak.

Afwesige pa

Gesinstrukture is lankal nie meer soos dit was toe ek as een van ses kinders met 'n pa én 'n ma grootgeword het nie. Ek was bevoorreg. Al hoe meer kinders word deesdae groot in 'n gesin waar slegs een ouer – meestal die ma- teenwoordig is. Volgens die RGN word 60% van alle kinders in ons land groot met 'n afwesige pa. Dit skets 'n somber prentjie in 'n tyd waar ons kinders en veral ons dogters toenemend die prooi word van misdadigers, ontvoerders, en verkragters. Oral in ons samelewing is daar verdoemende bewyse dat die afwesige pa-sindroom 'n vernietigende invloed op ons samelewing het.

'n Seun wat sonder 'n pa grootword, hunker na 'n vaderfiguur. As hy dit nie in sy huis kry nie sal hy dié figuur buite die huis gaan soek. Uiteindelik eindig hulle op in bendes omdat hulle met die verkeerde rolmodel identifiseer.  Moeilik soos dit is om te erken, moet ons begin aanvaar dat die gesin soos ons dit geken het, dalk vir goed verby is. As samelewing moet ons begin om nuwe strukture in plek te plaas van die afwesige pa. Dit is hier waar die manlike onderwyser 'n belangrike rol kan speel as plaasvervanger-vaderfiguur.

Onderwysers het reeds baie hooi op hul vurk, ek weet dit maar te goed. Ek kan egter aan geen ander oplossing dink wat sin maak én volhoubaar is nie.

Polisiering

Die wekroep om die doodstraf terug te bring vir moord op vroue is te verstane gegee die emosionele aard en die omvang van die krisis. Dis egter te betwyfel of die situasie enigsins sal verbeter. Inteendeel, ek is van mening dat dit slagoffers van verkragting se lewens verder in gevaar gestel sal word omdat die verkragter verseker sy slagoffer om die lewe sal bring om die kans dat hy gevang sal word te verminder. Die dooies kan nie getuig nie.

Die president se belofte dat hy die maksimum tronkstraf vir verkragters sal aanvra, getuig dat hy swak ingelig is (deur die kommunikasieminister ?), want die minimum straf vir verkragting met die doel om ernstig te beseer, òf die verkragting van 'n kind, òf groepsverkragting is reeds lewenslange gevangenisstraf. En dit het geen effek op die huidige slagoffergetalle nie.

Wat wel nodig is, is dat die huidige polisiemag beter bestuur word, dat misdaadintelligensie opgeskerp word, dat minister Cele minder praat en meer doen, en dat die polisie hul werk doen as hul aan diens is. Feit is : Ons kan ons nie uit hierdie krisis polisieer nie.

Onderwys en opvoeding

Suid-Afrika benodig 'n groot paradigmaskuif wat seuns se houding teenoor meisies grondig  sal verander. Dit vra vir 'n nasionale ingrypingsprojek. Seuns moet van kleins af geleer word om meisies met respek te behandel. In 'n tyd waar die meeste seuns sonder 'n pa grootword, en die nodige gesprekke ten opsigte van seksvoorligting tuis ontbreek, word dit die verantwoordelikheid van die skool.

Die Departement van Onderwys se aankondiging dat voorgeskrewe sekslesse tans by 1500 skole getoets word, laat ook die wenkbroue lig. Sedert 2000 is hierdie onderrig deel van Lewensorientering (LO). Maar die groeiende getal tienerswagerskappe bewys dat dit nie geslaagd is nie. Boonop is baie onderwysers ongemaklik om seksvoorligting te onderrig.

Om die lesse vir onderwysers uit te werk sodat almal oor dieselfde inhoud beskik, is ook nie die oplossing nie. Die realiteit is dat skole nie van gespesialiseerde LO-onderwysers (die eertydse Voorligtingonderwysers) gebruik maak nie. LO het 'n versnipperde vak geword waar enige onderwyser wat nog plek het op hul rooster 'n klas of twee moet aanbied. Daar is geen koordinering nie, geen vakleiding nie en dit is lankal nie meer 'n eksamenvak nie. Gevolglik neem niemand werklik die vak ernstig op nie.

Trouens so onlangs soos verlede jaar wou die Minister wegdoen met die vak ten gunste van Geskiedenis. Dit slaan my dronk dat die Departement nie die kloutjie by die oor kan kry nie. Uitgewerkte lesse gaan weinig help as dit deur 'n onkundige, onbeholpe, ongewillige en negatiewe onderwyser aangebied word. Ek het reeds verlede jaar in hierdie koerant 'n pleidooi gelewer dat die vak nie net behou word nie, maar deur gespesialiseerde LO-onderwysers aangebied word wat deeglik geassesseer en gemoniteer word.

Te diep gewortel

Die doodstraf en meer polisiering gaan die hierdie krisis oplos nie. Daar is ook nie 'n kitsoplossing nie. Die probleem is te diep gewortel. Ons benodig beter voorkomende beplanning wat oplossings op die langtermyn sal bied.

In hierdie opsig is onderwys en opvoeding van kritiese belang.

(Prof Le Cordeur is die voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch)​