Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Universiteit Stellenbosch Internasionaal
Outeur: Stellenbosch Univesity International/ Amanda Tonga
Gepubliseer: 27/08/2019

​“'n Vrou se werk is nooit klaar nie. Vroue staan sentraal as rigtinggewers om Afrika se enorme potensiaal te verwesenlik." Dit is die siening van prof Sarah Howie, Direkteur van die Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA) by Universiteit Stellenbosch Internasionaal. Prof Howie is een van vele vroue verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat 'n verskil op die vasteland van Afrika maak deur die verskeie programme waarby hulle betrokke is.

As hoof van ASA, help prof Howie met die implementering van programme wat fokus op die versterking van akademieskap in Afrika. As deel van hierdie rol wil sy tot die US se strategiese doelwit van genetwerkde en samewerkende onderrig en leer bydra deur die 'Joint Schools in Afrika'-program te bevorder. Howie sê die program, wat fokus op 'die ontwikkeling en uitbouing van die akademieskap van ontluikende geleerdes sowel as hul toesighouers', is al in Etiopië, Kenia, Tanzanië, en Uganda aangebied en sal later vanjaar ook na Rwanda en Nigerië uitgebrei word. Sy beklemtoon ook die werk van die Afrika Doktorale Akademie, 'n vlagskip-program van ASA wat vanjaar sy tiende bestaansjaar vier en wat reeds meer as 4 000 deelnemers van regoor Afrika getrek het vir sy winter- en somer-doktorale skole.

Howie, wat reeds regoor die hele Afrika gereis het, het onlangs Etiopië besoek vir 'n doktorale skool wat in samewerking met die Mekelle-universiteit aangebied is. Sy sê die wete dat daar nog so baie werk is wat gedoen moet word en dat tyd kosbaar en beperk is, is 'n reusedryfveer om verandering in Afrika te bewerkstelling.

“Hoe meer ek in Afrika reis, hoe meer gefassineerd raak ek met die vasteland se moontlikhede en hoe meer bewonder ek die veerkragtigheid en die innovasie van die inwoners van Afrika. Dit is divers, lewenskragtig en dinamies as 'n vasteland en het baie potensiaal wat nog ontgin moet word.

Norma Derby, Koördineerder: Afrika-mobiliteit by US Internasionaal, put uit Howie en ander ASA-kollegas se bydraes en glo in die belangrike boodskap dat Afrika in staat is om homself te ontwikkel, om 'n beter toekoms vir sy inwoners te skep en om 'n volwaardige rolspeler op die wêreldverhoog te wees.

As 'n spanlid van die Sentrum vir Samewerking in Afrika, koördineer sy donorgeborgde projekte wat beurse aan Afrikane vir meesters- en doktorale studies aan die US en ander universiteite in Afrika toeken.

“Ek is bevoorreg om Afrika te sien ontluik, hoe Afrikane hulself onderrig en oplossings vind vir ons eie probleme."

Sy is dankbaar om deel van 'n span vroue te wees wat akademieskap ontwikkel en vir studente geleenthede aan die US bied, en sê vroue is besig om die verloop van die geskiedenis te vorm.

“Ek is trots daarop om in 'n tydvak te kan leef waar ek deur vroulike rolmodelle omring word. Ons staan op die skouers van ons moeders, tantes, oumas en so baie ander vroue wat opofferings gemaak het sodat ons kan uitstyg. Kom ons gee hulle rede om trots te wees op ons en kom ons word die inspirasie van die volgende generasie."

Afrika-inisiatiewe by US Internasionaal bevorder. Agterste ry van links: Corina du Toit, Programbestuurder van die Afrika Doktorale Akademie, en Norma Derby: Koördineerder: Afrika-mobiliteit by US Internasionaal. Voorste ry: Michelle Masango, Administratiewe Beampte: Intra-Afrika-mobiliteit, en prof Sarah Howie, Direkteur: Afrikasentrum vir Akademieskap. ​​