Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-fakulteit vier Vrouemaand
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 23/08/2019

Vroue kan help om die toedrag van sake te verander deur eerder hul vroulike sterkpunte te omhels.

Dit is een van talle menings wat die sprekers by vanjaar se Vrouedagvieringe van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) gehuldig het. Verskeie invloedryke vroue het hul ondervindinge en hul reis na sukses met die gehoor gedeel by die jaarlikse geleentheid. Die tema vanjaar was “Against all odds".

Onder vanjaar se geleentheidsprekers was mev Vuyiseka Dubula-Majola, Vigs-aktivis en Direkteur: Afrika-sentrum vir MIV en Vigsbestuur aan die US; prof Josephine Musango, trilaterale SA-Afrika-VK-navorsingsleerstoel oor die insluiting van gender by die hoofstroom ter wille van energiesekuriteit in arm stedelike omgewings, Skool vir Publieke Leierskap; dr Mamphela Ramphele, voormalige aktivis en visekanselier van die Universiteit Kaapstad, sakeleier en politieke denker; en me Colette Clark, adjunkdirekteur-generaal: navorsing en beleidsontleding, Departement van Openbare Dienste en Administrasie.

Dr Ramphele het gesê die wêreld sal 'n baie beter plek wees indien daar meer vroueleiers is.

“Vroue is oor geslagte heen gesosialiseer om die ankers van noodsaaklike menslike verhoudings te wees en het gehelp om die oorlewing van die mens as 'n spesie te verseker. Die toekoms behoort aan diegene wat hul emosionele intelligensie vertroetel en voed. En 'n vrouliker leierskapstyl is die weg vir die toekoms."

Vuyiseka Dubula-Majola het gesê almal moet meer doen om die generasie-ongelykheid wat steeds onder vroue voorkom, te beëindig.

“Ons het nog baie wat teen ons tel, want ons het nog nie vryheid vir almal in my tyd bewerkstellig nie. Ons nageslag verdien beter. Ons is genoodsaak om die stryd aan te knoop waar ons onsself ook al bevind en om teistering en seksisme teen vroue teen te staan," het Majola gesê.

Prof Josephine Musango glo ook die stryd teen ongelykheid moet almal se stryd wees, maar terselfdertyd glo sy ook dat individue moet leer om kanse te waag en om hulself eerste te ontwikkel om sodoende ander te kan help.

Sy het in haar toespraak die belangrikheid beklemtoon dat vroue verstandelik, geestelik en fisiek na hulself moet omsien, eerder as om net sukses na te jaag. “Dit is belangrik om die proses te vertrou. Wanneer jy leer hoe om jouself te ontwikkel, kan jy leer hoe om iemand anders te ontwikkel. Ons moet besef dat ons meer as net ons sukses is en moenie toelaat dat sukses alleen ons definieer nie," het Musango gesê.

Net soos Ramphele en Majola, glo Colette Clark ook dat 'n verandering in tradisionele leierskap nodig is.

Clark het beklemtoon hoe belangrik dit is om jou doel in die lewe te verstaan, veral vir vroue wat 'n verskil in die samelewing wil maak. “'n Vrou weet sy het die vermoë om die leier van die trop te wees. Ondanks al die uitdagings wat ons as vroue in die gesig staar, kan ons nog steeds 'n verskil maak en die veranderinge wat ons in die wêreld wil sien, aan die gang sit," het Clark gesê.

Die organiseerder van die geleentheid, prof Pregala Pillay, Visedekaan: Sosiale Impak en Transformasie by die EBW-fakulteit, het gesê vanjaar se tema is belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue wat self nou nog steeds baie hindernisse moet oorkom."

“Ons het al ongelooflike vordering gemaak, maar daar lê nog 'n lang pad voor. Ons word nog steeds met 'n reeks versperrings en hindernisse gekonfronteer – soos patriargisme, armoede, skending van regte, vryheid, uitsluiting, diskriminasie, seksuele geweld, geslagsvooroordele, ongelykhede en talle ander. By die Fakulteit Ekonomiese Bestuurswetenskappe is ons daartoe verbind om 'n klinkende stem vir die ontwikkeling en vooruitgang van geslagsdiversiteit en -gelykheid te laat opklink. Hierdie geleentheid is die waarmerk van ons energie en dinamiek om vroue se bydraes te erken en om Vrouemaand te vier," het Pillay gesê. 

Om na die toesprake van verlede jaar se EBW-Vrouemaandgeleentheid te kyk, klik hier


Foto deur Anton Jordaan.