Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesogte toekennings vir US Aardwetenskapstudente
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 26/07/2019

Nagraadse studente van die Departement Aardwetenskappe, Lindo Makhathini en Jonathan Gloyn-Jones, het met twee van die Geologiese Vereniging van Suid Afrika (GSSA) se gesogte toekennings weggestap.

Lindo Makhathini het die Suid-Afrikaanse Raad vir Professionele Natuurwetenskaplikes (SACNASP) se toekenning vir 'n uitsonderlike vierdejaarstudent in Aardwetenskappe in suider-Afrika ontvang, terwyl Jonathan Gloyn-Jones die GSSA se Corstorphine-medalje vir 'n MSc-tesis in Aardwetenskappe van uitsonderlike gehalte ingepalm het. Hierdie toekennings is onlangs tydens 'n seremonie by die Geolgoiese Vereniging van Suid-Afrika in Johannesburg oorhandig.

Wat is die oorsprong van geologiese kenmerke?

Volgens Makhathini wat in 2014 aan die Pietermaritzburg Hoër Meisieskool gematrikuleer het, is haar belangstelling in Aardwetenskappe geprikkel nadat sy op hoërskool aan geomorfologie blootgestel is: “Geologiese eienskappe het my begin interesseer, veral die verskynsels wat tot die oorsprong daarvan aanleiding gegee het."

Dit is dus geen wonder dat haar tesis, onder die studieleiding van Dr Bjorn von der Heyden, gefokus het op die bepaling van die oorsaak, sowel as die potensiële meganismes agter die verkleuring van orogeniese goudafsettings by Fairview Myn naby Barberton nie. Hierdie gebied se geologiese erfenis sluit in die bes bewaarde en antieke Argeïese rotse op aarde - tussen 3,57 en 3,22 biljoen jare oud.

Lindo sê haar belangstelling in die mynsektor het ontwikkel toe sy besef het watter belangrike bydrae dit maak tot die land se BBP. Sy werk tans as gegradueerde geoloog by Vedanta Zinc International se vlagskipprojek by Gamsberg, naby Aggeneys in die Noord-Kaap.

Op die oomblik kry sy blootstelling aan verskillende aspekte van die mynbedryf deur take uit te voer in die mynafdeling (geologie, myningenieurswese, geotegniese ingenieurswese en mynbeplanning), die aanleg (metallurgie, elektriese ingenieurswese) en die bemagtigingsdepartemente (finansies, kommersiële dienste, en gesondheid, veiligheid en omgewing) ten einde 'n goeie begrip van mynwese as industrie te verkry.

Lindo beplan om haar studies voort te sit deur in te skryf vir 'n MSc-graad. As een van diegene wat in 2018 aangewys is as news24 se 100 Young Mandelas of the Future, glo sy elkeen is in staat om te bereik dít waarop hulle hul toelê, ongeag agtergrond, geslag of ras.

Sy motiveer: “Alhoewel dit soms moeilik is om in 'n uitdagende omgewing te werk, hanteer ek dit deur so assertief as moontlik te wees. Ek wil graag huidige studente aanmoedig om hul drome na te volg, want dis die moeite werd om daarvoor te werk. Ten einde die skynbaar onbereikbare te bereik, moet jy bereid wees om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy jouself ook al bevind."

Voorliefde vir uitdagende strukturele geologie

Siende dat Jonathan Gloyne-Jones in die Wes-Kaap grootgeword het en 'n buitelewe- en natuurentoesias is, het hy ingeskryf vir 'n BSc in Aardwetenskappe by die Unversiteit Stellenbosch. Namate sy studies gevorder het, is sy belangstelling in hierdie veld egter verder gevoed en uitgebou deur die entoesiasme en perspektief van sy dosente en die besef van die direkte toepasbaarheid van die wetenskap in die praktyk.

“Terwyl ek besig was met veldwerk vir my honneursprojek in Namibië, het ek 'n voorsmakie gekry van die studieveld en uitdagings van strukturele geologie. Toe ek besef dat ek aan 'n baie interessante projek in die Barberton-groensteengordel kan werk en dít onder die studieleiding van die legendariese Professor Alex Kisters, was my besluit om 'n MSc te doen, geneem," sê Jonathan.

Sy tesis het gehandel oor die karakterisering van die strukturele kontroles van goudmineralisering binne-in die Fairview Myn, wat in die Barberton-groensteengordel geleë is. Dit het verskeie weke se kartering en dokumentering van geologiese kenmerke in die ondergrondse mynaktiwiteite behels, en is gevolg deur die interpretasie van die vasgelegde velddata. Hierna het hy die relatiewe tektoniese kragte en vloeistofpaaie in die Argeïese aardkors bepaal. Sy projek het gefokus op die beskrywing van die meganiese en chemiese prosesse wat tot die vorming van goud-ertsliggame gelei het tydens die deformasie van die Baberton-groensteenbelt, ongeveer drie biljoen jaar gelede.

Hy werk tans vir TECT Geological Consulting aan 'n verskeidenheid projekte in Suider- en Sentraal-Afrika.

Hy voeg by: “My toekomsplanne sluit verdere ontwikkeling van myself in, asook om in die veld van strukturele en ekonomiese geologie te werk. En tot dusver geniet ek myself gate uit!"

Dit is nie die eerste keer dat nagraadse studente in die Departement Aardwetenskappe erkenning vir hul navorsing ontvang nie:

  • Die Corstorphine-medalje vir 'n uitsonderlike MSc-tesis by 'n Suid-Afrikaanse universiteit is in 2016 en 2017 aan onderskeidelik Kelly Swana en Tarryn Cawood toegeken.
  • Die John Handley-toekenning vir die beste MSc-tesis by 'n Suid-Afrikaanse universiteit in is 2015 aan Matthew Mayne toegeken.
  • Die Haughton-toekenning vir 'n uitsonderlike Honneurs-tesis by 'n Suid-Afrikaanse universiteit is in 2009, 2015 en 2017 deur onderskeidelik Bjorn von der Heyden (2009), Jean Loock (2015) en Stephan Dunn (2017) verwerf.