Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-atlete blink uit op nasionale en internasionale vlak
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 24/07/2019

Terwyl die meeste studente van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n welverdiende vakansie in Julie geniet het, het verskeie studente-atlete Maties internasionaal en plaaslik verteenwoordig.

Vier Maties – Gardeo Isaacs (atletiek), Breyten Poole (atletiek), Craig Walters (sokker) en Hein Kritzinger (rugbysewes) – was deel van die Suid-Afrikaanse span by die Wêreldstudentespele in Italië. Isaacs het silwer gewen in die 400m vir mans en Kritzinger het silwer gewen as deel van die sewesspan.

“Dit was my eerste internasionale medalje en dit was baie spesiaal. Al my en my afrigter se harde werk het vrugte afgewerp. Ek sou dit nie alleen kon doen nie. Die sukses het my honger gemaak vir meer en ek sien uit na die volgende uitdaging," het Isaacs, die huidige SA 400m-kampioen gesê.

Poole was die jongste mededinger in die hoogspringkompetisie.

“Dit was 'n eer om Maties by die Wêreldstudentespele te verteenwoordig en vierde te eindig in 'n veld van hoë gehalte. Dit was werklik 'n onvergeetlike ervaring en ek sien uit na die volgende Wêreldstudentespele. Ek wil graag wraak neem en beter vaar."

Die sokkerspan het nie so goed gevaar nie, maar volgens Walters was die geleentheid baie meer as bloot 'n sportgeleentheid.

“Dit was die mees ongelooflike ervaring. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit het nie goedgegaan op die veld nie, maar ek het so baie uit die ervaring geleer. Dit het my gehelp om te groei as 'n speler."

Stellenbosch het die USSA-kompetisies vir fietsry, hokkie en rugby aangebied. Maties Fietsry se manspan het die USSA-titel vir die vyfde agtereenvolgende jaar gewen. Maties Rugby en Maties Hokkie se manspan het silwer gewen en die vrouehokkiespan brons.

Die Maties-branderryers het hulself gate uit geniet in die Suid-Kaap. Nina Harmse en Shaun Joubert het die algehele individuele titels gewen en die Maties-vroue het ook die spankompetisie gewen. Maties het algeheel tweede geëindig.

“Hierdie titel is baie spesiaal vir my. Voordat ek hierdie jaar Universiteit toe gegaan het, was ek elke jaar 'n toeskouer by die USSA-kampioenskap in Victoriabaai. Hierdie jaar kon ek vir die eerste keer deel wees van die geleentheid. Dit was ongelooflik om so 'n unieke kompetisie te kon ervaar saam met studente van reg oor die land. Die medalje hang nou in my woonstel in Stellenbosch en is 'n lekker herinnering van 'n ongelooflike geleentheid in my tuisdorp," sê Harmse.

Terwyl dit Harmse se eerste titel was, was dit Joubert se laaste titel vir Maties.

“Dit was werklik 'n eer en 'n voorreg om 'n USSA-titel te wen terwyl ek Maties Branderry en die Universiteit Stellenbosch verteenwoordig het. Die oseaan is baie onvoorspelbaar en om goed genoeg te kon vaar om elke jaar waarin ek deelgeneem het die manstitel te kon wen, is iets waarop ek baie trots is," het Joubert gesê.

“Die USSA-geleentheid gaan oor meer as net wen. Deur hierdie kompetisie en Maties Branderry het ek van my beste vriende ontmoet. Dit was elke jaar 'n hoogtepunt om saam met my vriende weg te gaan, nuwe vriende te maak en interessante karakters van ander universiteite af te ontmoet. Ek sal altyd dankbaar wees teenoor my klub en hierdie Universiteit. Ek is bly ek kon in my laaste kompetisie nog 'n titel vir Maties wen."

Maties Basketbal het ook 'n fantastiese USSA-toernooi beleef. Die vrouespan het hul eerste USSA-medalje gewen toe hulle brons gewen het teen Kovsies. Die mans het vyfde geëindig en het sodoende vir die Varsity Basketbal-toernooi in 2020 gekwalifiseer.

Ander USSA-resultate: Maties Netbal, Maties Gimnastiek en Maties Pluimbal het tweede geëindig en Maties Muurbal vierde.