Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ADA vier tien jaar van uitnemendheid
Outeur: Marie Proetzsch
Gepubliseer: 08/07/2019

Tien jaar, 210 werksessies, 4 526 deelnemers en 53 nasionaliteite – dís hoe 'n mens die sukses van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afrika Doktorale Akademie (ADA) in getalle kan beskryf. Die ADA, wat in US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap geleë is, bevorder, ontwikkel en ondersteun reeds die afgelope dekade vakkundiges en akademieskap oor die hele vasteland met sy sesmaandelikse doktorale skole op die US se Stellenboschkampus. Die twee weke lange skole vind jaarliks in Januarie en Junie/Julie plaas.

Om 'n dekade van doktorale onderwys te vier, het vanjaar se Winterskool, wat van 1 tot 12 Julie aangebied word, met 'n galageleentheid begin. Meer as 150 gaste is op 'n interaktiewe hoofrede, besielende gesprekke en skakeling sowel as heerlike verjaardagkoek getrakteer.

​Hoofrede inspireer

Corina du Toit, programbestuurder van die ADA, het die verrigtinge geopen met 'n oorsig van die ADA-inisiatief en sy snelle groei oor die jare. Haar toespraak is gevolg deur prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die US se Fakulteit Opvoedkunde, wat die hoofspreker vir die geleentheid was.

Prof Jansen het oor die gehalte van doktorale akademieskap in Suid-Afrika en op die res van die vasteland gesels en 'n beroep op studente gedoen om die regte vrae te vra en waagmoedig te wees: “Jy kry dalk 'n graad, maar dít beteken nie onderwys nie," het hy gesê. “Een ding wat jy as navorser doen, is om vrae te vra wat niemand anders klaarblyklik vra nie. Maak seker dat daardie vraag die regte een is; dat dit kragtig is; dat dit intellektueel die toets van die tyd sal kan deurstaan; dat dit van navorsingsbelang is en aan verwagtinge voldoen. En maak seker dat niemand op die planeet die vraag al ooit op dié manier gevra het nie." Prof Jansen het studente ook aangemoedig om hulle “intellektuele verbeelding" te behou en aan te hou om krities oor alles rondom hulle te besin.  

​Dubbele dosis sukses

Die somer- en winterskole van 2019 is nie net die tiende aflewering van hierdie ADA-geleenthede nie – dit het ook die hoogste deelnemersyfers tot dusver behaal. Tydens hierdie jaar se somer- en wintergebeurtenisse het afgevaardigdes deelgeneem aan 786 werkswinkels.​ 

Aangesien Afrika een van die kernfokusgebiede van die US se internasionaliseringstrategie is, is dit verblydend om te sien dat bykans die helfte van vanjaar se afgevaardigdes van ander Afrikalande as Suid-Afrika is. Veral Nigerië en Zimbabwe is besonder goed verteenwoordig. Daarbenewens werk 44% van die afgevaardigdes aan 'n PhD op die skaarsvaardigheidsgebied van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel “STEM"). En met dié dat die getal vrouedeelnemers vanjaar hulle manseweknieë oorskry, is dit 'n uitgemaakte saak dat die uitsonderlike diversiteit van die groep 'n selfs ryker ervaring vir deelnemers sal verseker.

Foto: Deelnemers by vanjaar se ADA Winterskool

Foto: Refiloe Nkhasi