Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom eersdaags nuwe Senior Direkteur vir Studentesake
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie (René-Jean van der Berg)
Gepubliseer: 26/06/2019


Die nuutaangestelde Senior Direkteur vir Studentesake by die Universiteit Stellenbosch (US) hoop om 'n positiewe bydrae te kan lewer wat 'n transformerende studente-ervaring aan studente by die Universiteit kan bied.

Dr Choice Makhetha, wat op 1 Augustus vanjaar dié posisie by Dr Birgit Schreiber oorneem, is positief dat sy sal kan help om studente aan die US voor te berei vir die werksplek in die 21ste eeu.

“Ek is baie opgewonde om hier te begin. Ek glo ek kan help bou op die wonderlike werk wat reeds hier gedoen is," sê sy.

Studentesake en hoër onderwys lê dr Makhetha baie na aan die hart en sy werk reeds sowat 20 jaar lank met studente. Nadat sy haar PhD in Politieke Wetenskap verwerf het, het sy as Visedekaan: Studentesake aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gedien. Hier het sy ook in 2005 'n kardinale rol gespeel in die UV se Transformasieplan-taakspan wat 'n transformasieplan vir die UV moes ontwerp.

In 2011 tot 2016 was sy die Viserektor vir Studentesake en Eksterne Betrekkinge aan die UV en tans dien sy as Transformasieraadgewer by die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) van die Vrystaat.

Die talle ander leierskapsposisies wat sy binne strukture in die hoëronderwyssektor beklee het, asook haar passie vir studente, studentesake en -belange, het haar die aangewese kandidaat gemaak om die leisels by die US se Afdeling Studentesake oor te neem.

“Hoër onderwys is 'n omgewing waar vryheid van denke en uitdrukking voortdurend heers. Dit is vir my aangenaam te kan sien hoe jongmense groei en om te help om hul potensiaal te ontsluit. Ek is self 'n toekomsdenker en ek glo vas daarin dat wanneer jy met studente werk, jy bereid moet wees om ewe veel te kan luister en leer as wat jy leiding gee."

Dr Birgit Schreiber verlaat haar pos as Senior Direkteur: Studentesake om opwindende geleenthede in die Europese Hoër Onderwys-konteks op te neem, met betrekking tot die bevordering van verhoudinge met hoër onderwys in Afrika. Dr Schreiber sal voortgaan om by te dra tot die US se internasionale status deur die Kantoor van die Internasionale Stad en Toga-netwerk te bestuur en sal voortgaan om 'n diens aan die Universiteit Suid-Afrika (USAf) -netwerk en die Hoër Onderwysleierskap en bestuurprogram te lewer.