Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW vier 25 jaar van vennootskappe met die Bishop Lavis-gemeenskap
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 12/06/2019

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs sy 25 jaar-vennootskap met die gemeenskap van Bishop Lavis gevier met ʼn Gemeenskapsvennootskapsdag.

Die geleentheid is aangebied by die Bishop Lavis-biblioteek, en het die suksesvolle en wedersyds voordelige inisiatiewe waar die US en die Bishop Lavis-gemeenskap saamgewerk het, ten toon gestel. Dit het ook die geleentheid gebied om na te dink oor, en waardering te toon vir hierdie vennootskappe.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur vir Sosiale Impak en Transformasie aan die US, het gesê die universiteit was op verskeie vlakke betrokke by die Bishop Lavis-gemeenskap die afgelope 25 jaar. “Dit is duidelik dat hierdie vennootskappe gegroei het. Die doel van vandag is om meer oor hierdie verhoudings te leer – hoe dit ontwikkel en uitgespeel het – en om na te dink oor hoe ons dit kan verbeter en daarop kan voortbou.

“Ons is op die punt om ʼn nuwe fase te betree, en vandag is ʼn geleentheid om die stand van sake in oënskou te neem, en te kyk hoe ons die vennootskap tussen die US en die breër Bishop Lavis-gemeenskap kan verbeter," het Van Rooi gesê.

“Die Bishop Lavis-rehabilitasiesentrum is 25 jaar gelede op die been gebring met die doel om ʼn omvattende gesondheidsorg-diens aan die plaaslike gemeenskap te lewer, en terselfdertyd ook ons studente die geleentheid te gee om ʼn diens te lewer op die vlak van primêre sorg," het prof Susan Hanekom, hoof van die FGGW se Afdeling Fisioterapie gesê.

“Die rehabilitasiesentrum is ʼn student-gedrewe primêre sorg-fasiliteit is," het Hanekom gesê. Die dienste wat gelewer word sluit in die bevordering van gesondheid, behandeling van verswakkinge, omvattende rehabilitasie, ten volle integrasie in die gemeenskap van kliënte met ongeskikthede, en bemagtiging van die gemeenskap.

Verteenwoordigers van verskeie organisasies het die geleentheid bygewoon, insluitend die Stad Kaapstad, stadsraadslede, die Bishop Lavis-onwikkelingsforum, die Bishop Lavis-aksiekomitee, die plaaslike rehabilitasiesentrum en daghospitaal, en die Universiteit van die Wes-Kaapland.

Sue Statham en Liesbet Koornhof, onderskeidelik van die FGGW se Afdeling Fisioterapie en Menslike Voeding, is al sedert die heel begin betrokke by die rehabilitasiesentrum, en het ʼn oorsig gegee oor hoe die US hierdie primêre gesondheidsorg-opleidingsplatform in Bishop Lavis gestig het.

“Ons het baanbrekerswerk gedoen," het Statham gesê. “Die hele projek was afhanklik van vennootskappe tussen die universiteit, die gemeenskap, en die gesondheidsdepartement."

In sy praatjie het dr Martin Heine van die FGGW se Afdeling Fisioterapie ʼn ambisieuse nuwe plan aangebied oor hoe die universiteit sy betrokkenheid in die Bishop Lavis-gemeenskap wil uitbrei. As deel van die Stad Kaapstad se Stedelike Vernuwingsprogram, wat opknapping van die sentrum sal behels, beplan die US om ook sy huidige studente-opleidingsplatform te vergroot om nie net interdissiplinêre spanne nie, maar ook interfakulteit-spanne, betrokke te kry wat hul kennis daar sal toepas tot voordeel van die gemeenskap.

US personeel en studente het ook eer betoon aan gemeenskapvrywilligers wat uithelp by die rehabilitasiesentrum. Hierdie vrywilligers, van wie baie ongeskikthede het en self eens pasiënte daar was, help uit by die sentrum sonder om enige vergoeding te ontvang.

Ander gemeenskapsprojekte, soos die Bishop Lavis-daghospitaal se gemeenskapsoriënteerde primêre sorg-projek en die Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek, is ook by die geleentheid aangebied.