Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Phadi aangestel as Ubuntu Dialoë-programbestuurder
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 12/06/2019

“Ek hoop dat die Ubuntu Dialoë-program 'n ander tipe gesprek sal ontlont – waar mense buite die boks oor die idees van Ubuntu kan dink. Ek hoop die studente en jong geleerdes sal begin om buite hulself in hul ongemaksone in te beweeg om iets nuuts te skep. Ek wil graag sien dat studente ernstige debatte begin voer ten einde iets nuuts te bou. Ons hoop ook dat hierdie drie-jaar projek gestalte sal gee aan 'n boek wat 'n ander perspektief van wat Ubuntu in die alledaagse lewe is, sal gee."

Dít is die visie van die nuutaangestelde programbestuurder van die Ubuntu Dialoë-projek, dr Mosa Phadi, wat aan die begin van Junie haar nuwe amp opgeneem het.

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Michigan Staatsuniversiteit (MSU) het vroeër vanjaar 'n geskiedkundige ooreenkoms bereik toe hulle 'n memorandum van ooreenkoms (MvO) onderteken het om internasionale samewerking in onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid by beide universiteite te bevorder.

Die ooreenkoms spruit uit 'n versoek wat albei universiteite aan die Mellon-stigting gerig het vir ondersteuning om die bestaande Ubuntu Dialoë-projek oor 'n drie-jaar tydperk uit te bou; om herhaalbare raamwerke vir universiteitsmuseums in Afrika en elders te ontwikkel; en om saam te werk om dinamiese omgewings vir die sameskepping en verspreiding van kennis en praktyke deur plaaslike en internasionale dialoë te produseer.

Dr Phadi is aangestel om te help om die visie van die US en MSU oor die volgende drie jaar 'n realiteit te maak. Haar rol is om 'n raamwerk te skep van hoe die Ubuntu Dialoë moet lyk, dit te konseptualiseer en dan 'n werklikheid te maak. 

“Die doel is om weg te kom van die konvensionele idees oor wat Ubuntu is en om te probeer om op 'n meer radikale manier hieroor te dink. Ons wil dit insluit by verskillende gesprekke, veral nou en kyk na hoe dit gewerk het, wat die teenstellings is en hoe ons oor hierdie tydperk, 25 jaar na demokrasie, dink. As deel van ons vennootskap met die Michigan Staatsuniversiteit wil ons ook Ubuntu in 'n wêreld-konteks ondersoek," sê dr Phadi.

Die raamwerk van die Ubuntu Dialoë-projek bestaan uit twee fases. Die eerste is die navorsingsbeurse vir gegradueerdes. Studente van beide Stellenbosch en MSU kan aansoek doen, waarna hulle aan digitale dialoë sal deelneem. Tien studente van beide universiteite sal jaarliks hiervoor gekies word en hulle sal aan 'n internskap in die VSA en in Suid-Afrika deelneem.

Die tweede fase is 'n seminaarprogram, wat sowat agt seminare tussen die US en MSU sal behels. Jong geleerdes en erfenisprofessors kan hiervoor aansoek doen deur hul abstrakte aanbiedinge in te dien om te motiveer hoe hul navorsingwerk by die Ubuntu Dialoë-raamwerk inpas. Dit sal interdissiplinêr wees, so enigeen van enige fakulteit kan vir die program aansoek doen. Navorsers en erfenisprofessors van Stellenbosch sal hul werk by die MSU aanbied, terwyl MSU-studente hul werk oor die verloop van die drie jaar by die US sal kom bekendstel.

“Dit bied aan jong navorsers van albei universiteite die geleentheid om deel te neem. Ons wil graag hê ons jong geleerdes moet blootstelling daaraan kry om op internasionale vlak aanbiedinge te doen en ander te ontmoet wat nie noodwendig dieselfde idees het nie," sê dr Phadi.

Dr Phadi het haar doktorsgraad in Sosiologie aan die Universiteit van Johannesburg behaal en haar navorsing het gehandel oor wat dit beteken om swart te wees in die era ná apartheid in Suid-Afrika. Voordat sy by die US aangestel is, het sy by die Openbare Verhoudinge Navorsingsinstituut in Johannesburg gewerk, waar haar navorsing gehandel het oor onderwerpe oor die heroorweging van plaaslike regering, die rol van die instelling en die politieke bedrywighede agter dit.

Sy hoop om haar vorige navorsingsondervinding goed aan te wend en om die Ubuntu Dialoë-projek só te stuur dat dit 'n geleentheid word om weer te dink en met nuwe idees oor Ubuntu vorendag te kom.

Foto deur Stefan Els.