Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekord aantal US-finaliste ding mee om NWTF-toekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/06/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar sy eie rekord vir die aantal finaliste van die instelling wat om die jaarlikse Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekennings (of te wel die NSTF/South32 Awards) meeding, verbeter. Altesame 17 finaliste sal vanjaar die US by Suid-Afrika se 'Wetenskap Oscars' verteenwoordig. Die vorige rekord was agt in 2017. Van die 17 finaliste is sewe van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika.

Die NWTF/South32-toekennings gee erkenning aan, vier en beloon uitnemendheid en uitsonderlike bydraes tot die Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie en Innovasie (die sogenaamde WETI-omgewing) deur WETI-verwante beroepslui en organisasies in die land. Onder die mededingers is ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikasiespesialiste, ingenieurskapasiteitsbouers, organisatoriese bestuurders en leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders. Die wenners word op Donderdag, 27 Junie by 'n glansgeleentheid in Gauteng aangekondig.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om as finalis benoem te word, gegewe die gehalte van die nominasies wat elke jaar ontvang word, die felle mededinging en die toenemende belangstelling uit die WETI-gemeenskap.

Die US-finaliste (met departement of omgewing) en die kategorieë waarin hulle genomineer is, is soos volg:

Leeftyd-toekenning:

  • Prof Dave Richardson (Plant- en Dierkunde/Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie)
  • Prof Gerard Walzl (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika).

TW Kambule-NSTF-toekenning: Navorser deur navorsing en uitsette daarvan (deur 'n individu wat tot 15 jaar al as navorser werk, hoofsaaklik in Suid-Afrika):

  • Prof Novel Njweipi Chegou (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika) 
  • Prof Anton du Plessis (Sentrale Analitiese Fasiliteit)
  • Prof Riaan Rudman (Skool vir Rekeningkunde)

TW Kambule-NSTF-toekenning: Opkomende navorser deur navorsing en uitsette daarvan (deur 'n individu wat tot ses jaar al as navorser werk, hoofsaaklik in Suid-Afrika):

  • Dr Bahareh Bagheri (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Me Netanya Bernitz (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Mev Sophia Magaretha Brink (Skool vir Rekeningkunde)
  • Me Josephine Chileshe (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Dr Wynand J Goosen (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika /Sentrum vir Uitnemendheid vir Biomediese Tuberkulose-navorsing)
  • Mnr Stephan le Roux (Sentrale Analitiese Fasiliteit)
  • Dr Eduard Roos (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Dr Bjorn Phillip von der Heyden (Departement Aardwetenskappe)

Data vir Navorsing-toekenning: vir die bevordering van die beskikbaarheid, bestuur en gebruik van data vir navorsing (deur 'n individu of 'n organisasie):

  • Die Sentrale Analitiese Fasiliteit-span onder leiding van Prof Anton du Plessis

Innovasietoekenning: Korporatiewe Organisasie vir innoveerders en hul navorsing en/of ontwikkeling (deur 'n span of individu die afgelope tien jaar):

  • Die Solar-termiese Engergienavorsingsgroep (of te wel die 'Solar Thermal Energy Research Group' - STERG) met Prof Sybrand Johannes van der Spuy as spanleier.

Kommunikasietoekenning: vir uitreik en bewusmaking van WETI (deur 'n span of individu die afgelope vyf jaar):

  • Mev Wiida Fourie-Basson (Mediabeampte en Wetenskapskrywer: Fakulteit Natuurwetenskappe)

Spesiale Jaarlikse Tematoekenning: Materiale vir inklusiewe ekonomiese ontwikkeling (ter erkenning van die Internasionale Jaar van die Periodieke Tabel van Chemiese Elemente soos verklaar deur die Verenigde Nasies):

  • Die Sentrale Analitiese Fasiliteit-span onder leiding van Prof Anton du Plessis