Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Lettere verkry toekenning om kapasiteit te bou by jong akademici in Afrika
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 06/06/2019

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch was behulpsaam in die verkryging van 'n toekenning van R13.6 miljoen van die Andrew W Mellon Stigting vir die nuutontwikkelde Kapasiteitsbouprogram vir Jong Akademici in die Geesteswetenskappe in Afrika (in Engels, Building Capacity for Early Career Humanities Scholars in Africa, oftewel BECHS-Africa). 

Die driejarige transnasionale program sal inwoning bied vir 30 nagraadse akademici in die geesteswetenskappe om hul navorsing-agenda uit te bou. Navorsers sal gekies word uit die instellings wat behoort aan die BECHS-Africa vennootskap: die Universiteit van Ghana, die Amerikaanse Universiteit in Kaïro in Egipte, die US, en die Washington Universiteit in Saint Louis, VSA, met die Universiteit van Ghana as die leidende instelling. Agt genote van die Universiteit Stellenbosch sal aangewys word.

Die BECHS-Africa verskaf 'n roete vir navorsers vroeg in hul loopbaan om 'n akademiese termyn van tot ses maande in 'n Afrika-streek anders as hul eie deur te bring, of in 'n globale noordelike instelling. Die program is baseer op navorsing by die Britse Akademie in die Verenigde Koninkryk en die Assosiasie van Statebond Universiteite in 2011. Die studie “het aangedui dat die jare na die voltooiing van 'n PhD krities is vir die vestiging van 'n suksesvolle navorsingsloopbaan, aangesien dit tydens hierdie fase is dat die vaardighede en kennis ontwikkel deur nagraadse opleiding vasgelê word."

Die Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US, prof Anthony Leysens, was betrokke by die formulering van die aansoek vir die toekenning. Ander betrokkenes was proff Samuel Kwame Offei en Samuel Agyei-Mensah van die Universiteit van Ghana; prof Jean Allman van Washington Universiteit in Saint Louis; en Medeprofessor Syed Maswood van die Amerikaanse Universiteit in Kaïro.

“Die geleentheid vir navorsers in ons fakulteit om aan die begin van hul loopbaan'n aansienlike hoeveelheid tyd deur te bring by ons vennoot-instellings (moontlik gemaak deur fondse om plaasvervanger dosente aan te stel) en te fokus op hul eie navorsing onder die toesig van 'n leidende akademikus is van onskatbare waarde. Suid-Afrikaanse akademici sal blootgestel word aan 'n omgewing wat beslis hul denke sal slyp en hul akademiese loopbane ten goede sal beïnvloed. Jonger akademici is gewoonlik baie besig met onderrig, maar moet terselfdertyd produktiewe navorsers wees. Hierdie inisiatief stel hulle in staat om, met ondersteuning, en binne 'n unieke omgewing te fokus op hul navorsing," sê Leysens.

Hy het bygevoeg dat die fakulteit ook “toegewy is om sy samewerking met universiteite op die kontinent uit te brei en deel te neem aan inisiatiewe wat by ander Afrika-universiteite geloods is". Die BECHS-Africa program pas ook goed in by ander gevestigde programme vir jong akademici waaraan die fakulteit reeds deelneem, meen hy.

Tans behoort die US aan netwerke soos die Partnership for Africa's Next Generation of Academics (PANGeA), waaraan die Universiteit van Ghana ook behoort. PANGeA is 'n “gesamentlike netwerk van leidende Afrika-universiteite wat navorsing-kapasiteit en vertroue in Afrika-kundigheid ontwikkel om Afrika se uitdagings aan te spreek". Die US is een van agt vennote wat behoort aan hierdie netwerk en dra by tot die vennootskap deur die fakulteit se Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Die Nagraadse Skool self fokus daarop om doktorale opleiding en studie op die Afrika-kontinent te versterk en te bevorder. Daar is reeds 220 voltydse PhD studente van 8 sub-Sahara Afrikalande ingeskryf sedert 2010. Tot op datum het 124 PhD kandidate gegradueer deur die Nagraadse Skool, met baie junior akademiese personeel wat na hul instellings terugkeer om navorsing- en akademiese poste te vul. Op hierdie manier dra die Skool direk by daartoe om die uitvloei van akademici uit die Afrika-kontinent te beperk.

In 2016 is die PANGeA-Ed opleiding- en vaardigheidsontwikkelingsprogram geloods. Dit fokus op die ontwikkeling van navorsing-kapasiteit in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe deur navorsinggebaseerde navorsing en akademiese ondersteuning aan al die PANGeA kampusse in Afrika. 'n Jaar later is die PANGeA Genootskap vir Jong Akademici-program (in Engels, die PANGeA Early Career Fellowship programme) geloods, wat poog om akademiese leiers in die lettere, geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe in Afrika te identifiseer. Dit bied inwoning van agt weke aan die US vir 50 personeellede binne die PANGeA-netwerk oor vier jaar (2017-2020).

Leysens sê dat die BECHS-Africa program die werk wat reeds gedoen is om jong akademici se kapasiteit uit te bou deur die PANGeA en die Nagraadse Skool sal uitbrei deur akademici toe te laat om die ondervinding wat hulle opgedoen het tydens hul doktorale studies te kombineer; nuwe navorsingsvaardighede te verkry wat noodsaaklik is vir die suksesvolle verdere ontwikkeling van hul akademiese loopbane; en te begin bou aan 'n wye reeks netwerke wat beslis hul loopbaanontwikkeling sal bevoordeel.

Terselfdertyd, sê hy, sal jong akademici van ander Afrika-instellings baat by die blootstelling aan die fakulteit se hoogaangeskrewe akademici.

“Daar is ook die geleentheid om waarde toe te voeg tot ons eie personeellede deur tyd te spandeer op die kampusse van die ander vennote. Terselfdertyd sal ons die gasheer wees van genote van ons vennote hier op die kampus," sê Leysens.

“My visie is dat ons fakulteit sy Afrika-identiteit sal omhels, deur te fokus op die kontinent se uitdagings en geleenthede en om ons opleiding- en navorsing-vennootskappe met ander Afrika-universiteite uit te brei. Dit is 'n opwindende geleentheid vir ons jonger kollegas om hierdie visie te deel en sodoende, terselfdertyd, mentorskap vroeg in hul loopbane te ervaar."