Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe afdelingshoof het futuristiese benadering tot openbare gesondheid
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 05/06/2019

​Deur middel van innovering, vindingrykheid en samewerking, beoog  prof René English om van die uitdagings te takel waarvoor openbare gesondheid te staan kom – beide nou, en in die toekoms.

English, 'n medies-opgeleide dokter met 'n PhD in Geneeskunde, en 'n spesialis-kwalifikasie in Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid het 'n passie vir openbare gesondheidsorg, en het pas die leisels oorgeneem by die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“My belangstelling in openbare gesondheidsorg is geprikkel terwyl ek in gesondheidsfasiliteite gewerk het in lae-inkomste opsette in Suid-Afrika. Ek sou een pasiënt behandel met 'n sekere toestand, en dan wonder waar al die ander pasiënte met dieselfde toestand sou wees. Kry hulle behandeling? Is hulle bewus van moontlike intervensies? Of ek sal aanmekaar dink aan maniere om 'n gesondheidsfasilitiet te herorganiseer om sodoende die toue mense beter te kan bestuur," sê English, wat 'n MMed in Openbare Gesondheid behaal het by die Universiteit Kaapstad.

Volgens haar het die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel noemenswaardige versterking nodig. “Ons moet bestuurders en besluitnemers ondersteun wat 'n beleid moet ontwikkel, en ook help om mense te bemagtig wat op die frontlinies werk om daardie beleide 'n realiteit te maak," sê English, wat by die FGGW aangesluit het na agt jaar by die Health Systems Trust (HST) waar sy aan die hoof gestaan het van die organisasie se navorsingseenheid.

Sy het na die akademiese wêreld teruggekeer om haar deel te doen in die bou van kapasiteit om die gesondheidstelsel te probeer verbeter, en ook om te help met wat sy die "future proofing" (toekomsvoorbereiding) van die openbare gesondheidstelsel noem.  “Ons staan aan die begin van die vierde industriële revolusie, en daar is openbare gesondheidskwessies wat na vore tree, soos byvoorbeeld klimaatsverandering, globalisasie en aansteeklike siektes soos SARS, die Zika-virus en Ebola-infeksies.

“Ons moet begin om te kyk na openbare gesondheid met 'n oog op die toekoms. Ons moet begin dink oor hoe ons kennis uit ander dissiplines buite die geneeskunde ten beste kan aanwend om die gesondheid van die bevolking te verbeter deur die gebruik van kunsmatige intelligensie, robotika of groot datastelle."

“Ek is opgewonde daaroor dat ek my nou bevind by 'n universiteit wat op die toekoms gefokus is, wat dink aan dinge soos internasionalisasie en samewerking met ander universiteite in Afrika en elders in die wêreld, en ek is ook opgewonde om met die jonger geslag te kan saamwerk wat 'n affiniteit het vir tegnologie. Ek dink hierdie dinge kan alles 'n vrugbare teelaarde verskaf vir die bevordering van openbare gesondheid," sê sy.

In haar nuwe rol as afdelingshoof, beoog English om kapasiteit te bou onder personeel en studente, en om navorsing te fasiliteer wat van werklike belang is vir die regering, beleidmakers, en gemeenskappe van ons land. “Deur middel van die afdeling se onderrig en navorsingsaktiwiteite, sal ek graag wil sien dat daar openbare gesondheidspraktisyns en ander gesondheidswerkers opgelei word wat verandering in hulle werksplekke en gemeenskappe kan teweegbring. Ek sou graag wou hê dat almal wat ons kursusse en programme voltooi het genoegdoende nuwe insigte bekom het om op voetsoolvlak 'n impak te kan hê in die aanspreek van sleutelkwessies in ons land," volgens English.

Die meeste van haar private tyd word aan jongmense gewy – sy het 'n tweejarige dogtertjie wat haar "baie besig" hou en sy is ook betrokke by 'n nuutgestigte NRO, AfrA Foundation, wat homself onder andere daarvoor beywer om die uitvalkoers onder jong mense in primêre en sekondêre skole te verlaag. “Ek het 'n besondere belangstelling in jongmense en ek bring 'n groot deel van my naweke deur te dink of te werk aan programme wat aangebied word by die AfrA Foundation."

Vroeër in die jaar is English aangestel in die taakspan van die Gesondheidsministerie se Menslike Hulpbronne vir Gesondheid, waar sy dien as die voorsitter van Inligting, Monitering en Evaluasie se Werkstroom. In 2017 het sy gedien op die Lancet National Commission on High Quality Health Systems, en sy was ook die ontvanger van die Africa Science Leadership Fellowship wat gesamentlik toegeken is deur die Universiteit van Pretoria, die Global Young Academy, die Robert Bosch-stigting, en die Leopold Leadership-program aan die Stanford Universiteit.

Foto-erkenning: Wilma Stassen