Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Crazy Socks for Docs: Verhoog bewustheid een sokkie op ʼn slag
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 03/06/2019

​Die Stellenbosch Universiteit se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is trots daarop om deel te kan wees van die #CrazySocks4Docs-veldtog in Suid-Afrika – hierdie veldtog is daarop gemik om bewustheid te verhoog en morele ondersteuning te gee aan mediese- en gesondheidsberoepslui wat 'n stryd voer met geestesgesondheidskwessies en om hulle daaraan te herinner dat hulle nie alleen is nie.

Hierdie jaar het die Ithemba-stigting – Ithemba beteken hoop – en die Falke-sokkievervaardiger asook die farmaseutiese groep Cipla byeengekom om die #CrazySocks4Docs-veldtog in Suid-Afrika van stapel te stuur. Die inisiatief is aanvanklik in 2017 in Australië begin met die oogmerk om gesprekke te normaliseer wat handel oor geestesgesondheid, depressie en angs onder gesondheidswerkers dwarsoor die wêreld.

As deel van die plaaslike #CrazySocks4Docs-veldtog, het Falke, die Ithemba-stigting, en Cipla 12 000 pare hoë-gehalte, hoogs sigbare sokkies geskenk aan mediese- en gesondheidswetenskappestudente dwarsoor die land. Op 7 Junie word almal aangemoedig om by die beweging aan te sluit en hulle kleurvolle, prettige sokkies te dra, en 'n foto op sosiale media daarvan te plaas met die hutsteken (hashtag) #CrazySocks4Docs en die #ithembafoundation om solidariteit te betoon met al die professionele gesondheidsberoepslui en studente wat saamlewe met depressie, en wat moontlik selfdood-gedagtes het.

Die stremming op die geestesgesondheid van gesondheidsberoepsluit wat in Suid-Afrika werk kan enorm wees, en dit is al duidelik bevind dat vlakke van depressie en geestelike uitputting besonder hoog is onder professionele mense wat hulle lewens wy aan die sorg en behandeling van ander mense. In werklikheid het 'n Kaapse studie bevind dat 30% van dokters wat primêre gesondheidsorg verskaf saamlewe met matige tot ernstige depressie.1 Terselfdertyd, word daar beraam dat tot 'n derde van Suid-Afrikaanse mediese studente selfdoodgedagtes koester, en dat tot 6% van mediese studente pogings tot selfdood aanwend.2

Keaton Quarmby, Falke SA-groep se uitvoerende bemarkingsbestuurder, sê dat Falke trots is daarop om hierdie inisiatief te ondersteun en om bewustheid te kweek van die hoë verwagtinge waaraan dokters en ander gesondheidsberoepslui moet voldoen in Suid-Afrika, en die impak wat dit het op hulle algemene welsyn. “Ons sou graag hierdie gesprek wil begin en ook sodoende bewustheid verhoog en openlike dialoog aanmoedig onder personeel met geestesgesondheidskwessies, en om hulle aan te moedig om hulp te soek indien hulle dit benodig."

Sy voeg by dat Falke toegewy is daaraan om hulde te bring aan daardie gesondheidspersoneel wat met hulle lewens geboet het as gevolg van die enorme druk en stres. “Ons moedig die hele Suid-Afrika aan om die #CrazySocks4Docs te ondersteun op 7 Junie deur helder sokkies, of nie-bypassende sokkies te dra en foto's daarvan op sosiale media te plaas met die hutsteken #CrazySocks4Docs en die #ithembafoundation."

“Die #CrazySocks4Docs-veldtog is gemik daarop om die aandag te vestig op die geweldige stresvolle aard van die mediese beroep, en om dokters en ander gesondheidswerkers daaraan te herinner dat hulle om hulp moet aanklop as hulle dit nodig het – hetsy dit fisies of geestelik is. Ons wil ook die res van die wêreld aanmoedig om te help om sorg te verleen aan diegene wat vir hulle sorg," sê Paul Miller, Hoof Uitvoerende Bestuurder van Cipla Medpro.

“Wydverspreide verandering word benodig om die probleem die hoof te bied van depressie en selfdood wat so algemeen voorkom onder mediese studente en praktiserende gesondheidspersoneel. 'n Deel daarvan om 'n verskil te probeer maak lê daarin om gesprekke oor geestesgesondheid aan te moedig, en om die stigma vir dokters en gesondheidspersoneel te verminder wat dikwels kleef aan geestesgesondheidskwessies. Deur nie-bypassende sokkies te dra mag na 'n vreemde plek lyk om te begin om hierdie verandering teweeg te bring, maar die sigbare ondersteuning vir hierdie versorgingspersoneel is 'n belangrike eerste stap. Ons het gekies om dit saam met Falke en Cipla te doen, omdat hulle hierdie belangrike waardes deel in verband met die inisiëring van die Versorging van ons Versorgers," sê Professor Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting.

Die Ithemba-stigting is 'n nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om bewustheid te verhoog van depressie as 'n biologiese siekte, en om fondse in te samel om verdere navorsing oor hierdie toestand te befonds.

Wie ook al jy is, enigeen kan betrokke raak op Vrydag 7 Junie deur 'n foto van jouself op sosiale media te plaas waar jy nie-bypassende sokkies, of helder sokkies, of net snaakse sokkies aanhet met die hutsteken #CrazySocks4Docs en #ithembafoundation. Studente kan selfs R1000 wen per kampus met hulle "sokkie-selfies" – plaas jou "sokkie-selfie" en moedig jou familie en vriende aan om vir jou 'n duimpie op sosiale media te gee. Op elk van die deelnemende kampusse sal die "sokkie-selfie" met die meeste duimpies vir die eienaar daarvan R1000 in die sak bring.

As jy, of enigiemand wat jy ken, ly aan 'n geestessiekte van enige aard, of as jy selfdoodgedagtes koester en hulp benodig, kan jy die CIPLA 24-uur hulplyn vir geestesgesondheidsprobleme skakel by 0800 456 789, of jy kan 'n WhatsApp-boodskap stuur aan 076 882 2775 vir gratis bystand deur 'n berader by SADAG.

Verwysings:

1.        Outhoff, K. Depression in doctors : A bitter pill to swallow. South African Fam. Pract. 61, 13–16 (2019).

2.        Niekerk, L. Van. Suicidal ideation and attempt among South African medical students. South African Med. J. 102, 1–5 (2019).

Onderskrif: FGGW-personeel wys hul ondersteuning vir die  #CrazySocks4Docs-veldtog deur kleurvolle sokkies te dra. Op die foto is Meggan Ceylon, Carine Smalberger, Ronel Bester, prof Jimmy Volmink (dekaan), Pearl Pretorius, Hermien Nel en Florence de Vries.