Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
R600 000-hupstoot vir nagraadse studies
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/05/2019
Altesaam 20 nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) kry in 2019 ’n finansiële hupstootjie in die vorm van gedeeltelike beurse vir hul honneursstudies. Dit is te danke aan ’n skenking van R600 000 van die HCI-stigting, die korporatiewe maatskaplike beleggingsarm van die HCI, ’n swart bemagtiging‑beleggingsmaatskappy wat uit die Suid-Afrikaanse Klere- en Tekstielwerkersunie ontstaan het.

 
Die Stigting se hooffokus is die opheffing van Suid-Afrikaners, sodat almal in ’n verbeterde lewensgehalte kan deel.

 
“Met die hulp van ons Nagraadse Beursafdeling het ons nagraadse studierigtings geïdentifiseer wat ’n beduidende tekort aan beursbefondsing ervaar en waar daar reeds ’n behoefte uit die korporatiewe of regeringsektor uitgespreek is vir gegradueerdes met sodanige grade,” sê fondswerwer Candice Egan van die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-verhoudinge.

 
“Dit beteken die 20 beurse ten bedrae van R30 000 elk word toegeken aan studente wat vir honneursstudie in die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Ekonomie, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en Opvoedkunde ingeskryf is,” voeg sy by.

 
Die Senior Direkteur van die Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge, Karen Bruns, sê: “Ons is dankbaar vir die HCI se belegging in ons nagraadse studente. Daar word wyd erken dat die deurvoer en graduering van nagraadse studente kritiese aanwysers is van die vermoë van ’n land om innovering, werkskepping en volhoubare ekonomiese ontwikkeling aan te pak.

 
“Sonder ’n konsekwente pyplyn van vaardige nagraadse studente wat toegerus is om die werkplek te betree, is ons land se ekonomie in gevaar om verder in die dryfsand van langtermyn-resessie weg te sink.”

 
  • Lees meer oor die HCI-stigting by: https://www.hcifoundation.co.za/