Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika se mosselwurm is inheems en al vir miljoene jare in die omte
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 16/04/2019

'n Nuwe studie deur die Universiteit Stellenbsoch (US) het bevestig dat die mosselwurm eintlik 'n inheemse spesie is wat ons kus reeds vir die afgelope 6,4 miljoen jaar bewoon.

Terwyl dit vir die afgelope 150 jaar met die Chileense spesie Pseudonerei variegata verwar is, spog dit nou met die nuwe naam, Pseudonerei podocirra.

Prof. Carol Simon, 'n kenner op die gebied van mariene wurms en verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde by die US, sê hulle bevindings dui daarop dat daar baie hoër vlakke van diversiteit onder ons eie mariene wurms voorkom as wat voorheen geglo is.  

Maar dit het passie en toewyding van nagraadse student Jyothi Kara gekos voordat hierdie gevolgtrekking gemaak kon word. Kara, wat in 2015 met haar navorsing hieroor begin het, moes die hoogs verwarrende taksonomiese rekord wat die afgelope 150 jaar nie bevraagteken of ondersoek is nie, ontrafel.  

Sy verduidelik: “Die mosselwurm is in 1857 in Chili vir die eerste maal beskryf en Pseudonereis variegata genoem. Daarná, in 1861 en 1866 is twee verskillende spesies van mosselwurms in Suid-Afrika beskryf. Maar in die 1900s het taksonome besluit dat hierdie twee spesies eintlik dieselfde lyk en dat hulle soorgelyk aan die Chileense mosselwurm is. Dus is hulle almal volgens die reëls van taksonomie herbenoem as P. variegata - dus dieselfde naam as die eerste Chileense mosselwurms wat ooit beskryf is."

Tot in die 1990s is alle soorgelyke mariene wurms wat wêreldwyd gevind is, ook P. variegata genoem, wat (verkeerdelik) aanleiding gegee het tot die idee dat álle mariene wurms, soos byvoorbeeld mosselwurms, inderwaarheid kosmopolitiese spesies is, m.a.w. spesies wat in die meeste van die groot oseaankomme voorkom.

Polychaetes, of borselwurms, word beskou as die primitiefste van alle gesegmenteerde diere, met fossielrekords wat so ver as 505 miljoen jaar terug strek. Hulle is hoogs divers en kom in alle oseaankomme voor – van die vlak tussengety tot in seekraters van etlike kilometers diep. Tans is prof. Simon een van die min taksonome ter wêreld wat fokus op borselwurms en poog om die stamboom van hierdie fassinerende skepseltjies te ontrafel.

Vir hierdie projek het Jyothi mosselwurms ('n tipe borselwurm) versamel vanaf Lambertsbaai aan die Weskus, tot by Kidds-strand aan die Ooskus. Die mosselwurm, so genoem omdat dit onder die mosselbanke aan die rotsagtige kus van Suid-Afrika voorkom, is 'n gewilde aasspesie onder vissermanne - selfs al is die bymekaarmaak hiervan verbied as gevolg van destruktiewe insamelingsmetodes.

Hierna het sy hulle fisiese kenmerke en DNA vergelyk met voorbeelde van P. variegata afkomstig van Chili, ten einde vas te stel of hulle aan die dieselfde spesie behoort, al dan nie.

“Ek was mal daaroor! Ek het soos 'n speurder gevoel wat hierdie netwerk moes ontrafel en uitpluis hoe dit alles by mekaar inskakel," lag die voormalige Durbaniet.

Sommige van haar bevindings wat onlangs in die vaktydskrif Invertebrate Systematics gepubliseer is, sluit in:

  • Die spesie wat in Suid-Afrika voorkom in nie Pseudonereis variegata soos wat algemeen geglo is nie. Dit verteenwoordig Pseudonereis podocirra, wat aanvanklik in 1861 in Suid-Afrika beskryf is. Dit dui daarop dat die Suid-Afrikaanse spesie vir meer as 150 jaar verwar is met die Chileense spesie. 
  • Resultate van die DNS analiseringsproses dui daarop dat P. podocirra 'n enkele metapopulasie langs die Suid-Afrikaanse kuslyn is en dat daar hoë vlakke van geenvloei voorkom. In populasiegenetika verwys geenvloei (of geenmigrasie) na die oordrag van genetiese variasie van een populasie na 'n volgende. Dit beteken dus in effek dat die spesie nie plaaslik sal uitsterf nie.
  • Die Suid-Afrikaanse mosselwurm P. podocirra het ongeveer 6,4 miljoen jaar gelede aan hierdie kuslyn ontwikkel.

    Prof. Simon en haar span vermoed dat ongeveer 50% van die 600 tot 700 spesies van borselwurms (waarvan mosselwurms maar een is) wat langs die Suid-Afrikaanse kus voorkom, soos P. podocirra mag wees: inheemse spesies wat aanvanklik vir kosmopolitiese spesies aangesien is. Tans konsentreer hulle op dié wat van ekologiese en ekonomiese belang is.

“Behalwe dat plaaslike vissermanne hulle as aas gebruik, word baie borselwurms beskou as sleutelspesies en ekosisteemingenieurs van die mariene omgewing. Hulle bou 'n uitgebreide netwerk van buisies wat riwwe vorm wat dan 'n habitat verskaf aan baie ander mariene ongewerweldes. Ander borselwurms grawe weer in die sand deur middel waarvan hulle die sediment belug en meer bewoonbaar maak vir ander mariene diere. Dit het ook die herverspreiding van organiese materiaal wat in die sediment vasgevang is, tot gevolg. Laasgenoemde veroorsaak dat dit dan meer geredelik beskikbaar is vir ander mariene diere om te gebruik," verduidelik dr Kara.  

Sy beplan om haar werk in hierdie veld voort te sit as nadoktorale genoot onder prof. Simon, wanneer sy hierdie keer gaan fokus op die genetiese geskiedenis en taksonomie van wonderwurms, ook 'n gewilde spesie om as aas  te gebruik.

Hulle is dit eens dat indien ons die ware omvang van die diversiteit van inheemse spesies in Suid-Afrika kan begryp, dit ons in staat sal stel om ons natuurlike hulpbronne beter te bewaar.

Dr Kara, oorspronklik van Durban in KwaZulu-Natal, het gedurende die April 2019 se gradeplegtigheid haar doktorsgraad in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Het jy geweet?

  • Polychaetes staan algemeen bekend as borselwurms as gevolg van die klomp stekelrige borselhaartjies wat op elke liggaamsegment voorkom. Polychaete is die Grieks vir “met baie hare".
  • Bioturbasie (die aksie waarvolgens lewende organismes grondsediment vermeng deur middel van bv. die proses van om te grawe) dien as die primêre drywer van mariene biodiversiteit.  
  • Pseudonereis podocirra behoort aan die familie Nereididae. Nereids verwys na seenimfe in die Griekse mitologie.

Opskrifte

Dr Jyothi Kara, 'n mariene bioloog van die Universiteit Stellenbosch, besig om mosselwurms op die rotse van 'n  Mosselbaaise strand te versamel vir haar doktorale navorsing oor die genetiese en evolusionêre geskiedenis van hierdie spesie. Foto: Safiyya Seddick

'n Blou-grys variant van die inheemse mosselwurm, Pseudonereis podocirra. Foto: Jyothi Kara

Medianavrae

Dr Carol Simon

Tel: 021 808 3068

E-pos: csimon@sun.ac.za

 

Dr Jyothi Kara

Tel: 021 808 3068

Sel: 083 625 7419

E-pos: jyothi.kara@gmail.com