Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eredoktorsgraad vir gerekende wiskundige
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 08/04/2019

Prof Lloyd Nicholas Trefethen, 'n wiskundige wetenskaplike van Oxford Universiteit, het 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang tydens die laaste gradeplegtigheid op Vrydag 5 April 2019. Hy is onder meer vereer vir 30 jaar se ondersteuning om die vakgebied van numeriese wiskunde in Suid-Afrika te bevorder.

In sy aanvangsrede het hy gesê wiskunde vorm die grondslag van vakgebiede soos wetenskap en ingenieurswese en het op verreikende en onverwagte maniere 'n invloed op die samelewing: “Die studie van Wiskunde is nie beperk tot ruimte en tyd nie. Wiskunde word vandag gedoen, net soos dit 1 000 jaar gelede en selfs 2 000 gelede die geval was. Dit word oral in die wêreld gedoen. Die ontdekkings van elke era is gegrond op dié van die vorige era. Dit beweeg altyd vorentoe.

Die inhuldigingswoord by die gradeplegtigheid het as volg gelees:

Met 'n verstommende navorsingsuitset het die gerekende wiskundige wetenskaplike, professor Lloyd N. Trefethen, die wêreldwye popularisasie van wiskunde bevorder. Hy ondersteun reeds langer as 30 jaar al numeriese wiskunde in Suid-Afrika en dra sodoende by tot 'n broodnodige skaars vaardigheid in die land.

Hy verwerf sy eerste graad in Toegepaste Wiskunde summa cum laude aan Harvard-kollege, en sy magister- en doktorsgrade aan Stanford. Hierna bring Trefethen twee jaar by die bekende Courant-instituut aan die Universiteit van New York deur as nadoktorale genoot van die Amerikaanse Nasionale Wetenskapstigting. Ná aanstellings by die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) en Cornell-universiteit, aanvaar hy 'n professoraat aan die Universiteit van Oxford, Verenigde Koninkryk, waar hy steeds grense verskuif as hoof van die Numeriese Analisegroep.

Die bydraes van hierdie nie-amptelike wêreldkurator van numeriese wiskunde omvat meer as 100 navorsingsartikels, agt boeke en vele praktiese innovasies. Dít sluit in 'n artikel oor hidrodinamiese stabiliteit wat in 1993 in die tydskrif Science verskyn het en al meer as 1 500 keer aangehaal is, en sy Numerical Linear Algebra van 1997, wat sedertdien die standaard-nagraadse handboek op die gebied geword het. Boonop vind talle navorsers baat by die gerief en berekeningskrag van sy ambisieuse Chebfun-projek, 'n oopbron-toevoeging tot die toonaangewende kommersiële berekeningspakket MATLAB.

In teenstelling met baie van sy eweknieë, waag Trefethen dit ook graag buite die grense van sy vakgebied op terreine soos die fisika en gesondheidswetenskappe, waar hy bestaande kennis met nuwe insigte bevraagteken. Een voorbeeld is sy wiskundige analise van die Faraday-hok, die verskynsel wat mikrogolwe keer om deur die roostervenster van 'n mikrogolfoond te ontsnap, maar terselfdertyd lig deurlaat. Straks die mees dramatiese voorbeeld is sy heromskrywing van die liggaamsmassa-indeks as 'n maatstaf vir menslike vetsug, waaroor internasionaal berig is.

Immer vrygewig met sy kundigheid, het hy 'n langdurige band met Suid-Afrika gesmee om ontluikende wiskundige wetenskaplikes landwyd te ondersteun. Nie net neem hy ons vakkundiges oorsee onder sy vlerk nie, maar hy is ook 'n gereelde besoeker op plaaslike bodem. Hy is bekend vir sy spesiale moeite om met ons akademici sowel as studente om te gaan – van 'n strawwe nasionale lesingtoer van twee weke tot 'n aantal besoeke aan Stellenbosch as aktiewe deelnemer aan die simposium van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde (SANUM).

Sy lang lys eerbewyse sluit in sy verkiesing as genoot van die Royal Society, die Internasionale Vereniging vir Bedryfs- en Toegepaste Wiskunde (SIAM) en die Amerikaanse Wiskundige Vereniging. Toonaangewende toekennings soos die Naylor-prys van die Londense Wiskundegenootskap in 2013 en die George Pólya-prys vir voortreflike uiteensetting in wiskundige skryfwerk in 2017 spreek boekdele oor sy statuur.

Die Universiteit is trots om Lloyd N. Trefethen te vereer met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, vir sy merkwaardige vakkundigheid én sy verstommende navorsinguitsette te bevordering van die wêreldwye popularisering van wiskunde; vir die uitdaging van konvensionele waarhede deur nuwe insigte; en vir sy ruimhartige kennisoordrag van die afgelope 30 jaar om 'n nuwe generasie wiskundige wetenskaplikes in Afrika te help ontwikkel.

Vir die 2018 akademiese jaar het die Fakulteit Natuurwetenskappe 'n total van 307 nagraadse kwalifikasies toegeken, waaronder 156 BScHons, 81 MSc en 'n nuwe rekord van 50 PhD grade. Tydens die Universiteit se ses gradeplegtighede wat van Dinsdag, 2 April tot Vrydag, 5 April 2019 by die Coetzenburgsentrum gehou is, het die Universiteit altesame 3 128 grade en diplomas toegeken. Dit sluit 953 meestersgrade en 158 doktorale grade.

Op die foto, van links na regs, prof. André Weideman (Toegepaste Wiskunde-afdeling), prof. Louise Warnich (Dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe), prof. Lloyd N. Trefethen (Oxford Universiteit) en prof. Ingrid Rewitzky (Hoof: Departement Wiskundige Wetenskappe). Foto: Stefan Els