Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn TOEKOMS IN MENSEREGTE? - PANEELBESPREKING TER ERE VAN MENSEREGTEDAG 2019
Outeur: Lize-Mari Doubell & Christiaan Van Schalkwyk
Gepubliseer: 29/03/2019

Die diskoers oor menseregte vind dikwels plaas op ʼn abstrakte akademiese vlak wat die realiteit van gewone Suid-Afrikaners se lewens misken. Regsstudente word ook gekonfronteer met die realiteit dat die regsberoep nie menseregte as integraal beskou nie, ten spyte daarvan dat fundamentele menseregte in die Grondwet gewaarborg word. Hierdie was die hoof temas van die menseregte paneelbespreking wat georganiseer is deur die HF Oppenheimer Leerstoel in Menseregte en die Transformasie Komitee van die Regsfakulteit. Die onderwerp van die bespreking was 'n Toekoms in Menseregte? Studente is toegespreek deur ʼn paneel wie almal deurslaggewende deurbrake vir menseregte in verskillende areas van die reg behaal het. Die goue draad wat deur al hierdie deurbrake loop is dat dit gewone Suid-Afrikaners se lewens in die praktyk verbeter het.

Professor Sandra Liebenberg het paneellede beskryf as individue wat die Grondwet kreatief en innoverend gebruik het om menseregte te bevorder. ʼn Toekoms in menseregte het vir die paneellede onder andere beteken dat studente hulle eie ideale moet uitleef en dat studente bewus moet wees van die vloeibare aard van die regsberoep. “Jy moet wie jy is na jou werk bring," was ʼn brokkie advies wat een van die paneellede, Me Precillar Moyo, ʼn prokureur vir die Equal Education Law Centre in Khayelitsha, aan studente gegee het. Om jou klerkskap by ʼn korporatiewe firma te voltooi kan waardevolle ervaring wees wat nie ʼn persoon hoef te verhoed om ʼn beroep in menseregte te volg nie. Dit was veral belangrike advies vir een van die panneellede Me Odette Geldenhuys, wie verskeie ander beroepe ondersoek het, onder andere as ʼn direkteur vir dokumentêre films, voordat sy later in haar loopbaan ProBono.org gestig het. Tans werk Me Geldenhuys vir Webber Wentzel's se Pro Bono afdeling, waar sy haar steeds vir die bevordering van menseregte beywer. Al die paneellede het beklemtoon dat litigasie ʼn laaste opsie behoort te wees, en moet deel vorm van ʼn breë veldtog van menseregte beywering.

Die konkrete betekenis wat ons aan fundamentele regte soos gelykheid en menswaardigheid moet toeken speel nie in ʼn vakuum af nie. Paneellid, Me Nomzamo Zondo, wie die pos van Direkteur van Litigasie by die Socio-Economic Rights Institute (SERI) in Johannesburg beklee, het haar ervaring om te litigeer namens uitgesette persone gedeel. Gelykheid en menswaardigheid het vir Me Zondo meer as teoretiese begrippe geword na dié ervaring. Hierdie regte moet ook die realiteit weerspieël wat uitgesette persone ervaar en dit is die plig van menseregte prokureurs om met gemeenskappe in aanraking te kom om sodoende te verstaan hoe fundamentele regte hulle in die praktyk raak, volgens Me Zondo. Sy het die gehoor herinner dat “menseregte prokureurs verantwoordbaar is aan gewone mense" en dat “gemeenskappe wat [saam] mobiliseer die wêreld kan verander". Me Zondo het ook haar belangstelling in die politiek van protesaksie aangeraak en die standpunt ingeneem dat baie meer gedoen kan word in terme van die Wet op die Reëling van Byeenkomste om betekenisvolle gevolg te gee aan die grondwetlike reg op betoging soos in artikel 17 van die Handves van Regte verskans. Sy glo ook dat die polisie eerder as fasiliteerders tydens vreedsame protesaksie moet optree.

Die paneel was ook van mening dat die ontwikkelende aard van menseregte baie potensiaal het om huidige sowel as toekomstige onregte op te los. Gelykheid en menswaardigheid is die kern van alle areas van die reg en is ook die grondslag vir enige suksesvolle menseregte prokureur. Me Mudarikwa het die studente se aandag gevestig op die betrokkenheid van die LRC in ʼn komplekse saak waar ʼn versoek om geslagsverandering van interseks individue geweier is omdat hulle bestaande huwelike heteroseksueel was in terme van die Wet op Huwelike. Me Mudarikwa het beklemtoon dat waarde-gedrewe regsredenasie ʼn belangrike rol behoort te speel in regsopvoeding en in die regsprofessie.

Nog ʼn interessante debat van die aand het plaasgevind rakende die botsing van regte in die grondwet. ʼn Vraag was gestel aan die paneel oor die rol van vryheid van geloof en dieselfde geslag huwelike. Me Mudarikwa het geargumenteer dat daar nie ʼn hiërargie van menseregte in die grondwet bestaan nie. Sy het verder beklemtoon dat die reg sekulêr is en dat regte nie met mekaar moet kompeteer nie, maar geharmoniseer moet word. Die bespreking was na aanleiding van die onlangse uitspraak van Guam and Others v Van Rensburg and Others, waar die hof bevind het dat die kerk nie kan diskrimineer teen pare van dieselfde geslag wat in die kerk wil trou nie. Me Moyo het nie saam met Me Mudarikwa gestem nie en het geargumenteer dat regte wel soms bots en dat dit die plig van die regsprekende gesag is om die regte te balanseer en te beperk. Me Moyo het uitgewys dat die spesifieke saak kompleks was as gevolg van die skynbaar onmoontlike keuse wat gegee word aan ʼn mens om eerder geloofswaardes te volg of die regte en waardes van die Grondwet. Die gehoor was gefassineer deur die gesprek wat belangrike vrae geopper het rondom hoe regte in die Grondwet met mekaar gebalanseer en versoen behoort te wees. Soos wat dikwels gebeur in sake met klaarblyklike kompeterende menseregte is daar nie maklike oplossings nie en die paneel het saam gestem dat die saak heel waarskynlik geappelleer sal word.

Die aand is afgesluit met verversings en verdere informele gesprekke. Die regstudente wie die paneelbespreking bygewoon het kon huis toe gaan met nuwe idees en ʼn breër perspektief rakende die bevordering van menseregte. Die feit dat die paneelbespreking twee dae voor Menseregtedag plaasgevind het, het die studente wat die geleentheid bygewoon het diep onder die indruk gebring van hoe vêr ons gekom het in Suid-Afrika ten opsigte van menseregte sowel as wat die toekoms vir menseregte in Suid-Afrika inhou. Die belangrikste was egter dat almal teenwoordig blootgestel is aan menseregte kwessies wat gewone Suid-Afrikaners daagliks konfronteer en wat die rol van prokureurs kan wees om te verseker dat almal gelyk kan deel in die menseregte in ons Grondwet.

  • Foto: Prof Sandra Liebenberg, HF. Oppenheimer Leerstoel in Menseregte; Me Nomzamo Zondo, SA Instituut vir Sosio-Ekonomies Regte; Me Odette Geldenhuys van Webber Wentzel; Me Precillar Moyo, Equal Education Regsentrum; Ms Mandivavarira Mudarikwa, Legal Resources-sentrum; en Prof Bradley Slade, Voorsitter van die Regsfakulteit se Transformasie Komitee. 
    Fotograaf: Me Nondu Phenyane, Regsfakulteit​​.​​