Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US aan voorpunt van molekulêre beelding in Afrika danksy NEP-toekennings
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 20/03/2019

Danksy twee suksesvolle aansoeke by die Nasionale Toerustingsprogram (NEP) gaan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) twee hipermoderne laboratoriuminstrumente bekom wat tot op hede nie in Afrika beskikbaar was nie.

Die aansoeke, onderskeidelik onder leiding van profs Samantha Sampson (biomediese wetenskappe) en Carine Smith (fisiologiese wetenskappe), en profs Gerhard Walzl (biomediese wetenskappe) en Lydia-Marie Joubert (mikrobiologie), was vir ʼn beeldingsvloeisitometer en ʼn serial blockface field emission skanderingselektronmikroskoop (SBF-SEM). Die instrumente word onderskeidelik teen R12,6 miljoen en R15 miljoen gewaardeer.

“Hierdie instrumente kan talle nuwe geleenthede en navorsingsmoontlikhede op die gebied van beelding skep," sê  Sampson, wat die SARChI-leerstoel in mikobaktomie beklee.

Al sal altwee dié instrumente by die FGGW gehuisves word, is wye toegang die oogmerk en sal navorsers op ander gebiede en in ander US-fakulteite, asook ander instellings, toegang daartoe hê. Die instrumente sal deur die US se Sentrale Ontledingsfasiliteite (CAF) bestuur word.

“Daar is nie tans sulke instrumente in Afrika beskikbaar nie en met hierdie verkryging sal ons aan die voorpunt van hierdie tipe navorsing wees. Dit sal ʼn reeks toepassings hê en sal multidissplinêre navorsing ondersteun op ʼn skaal wat nie voorheen moontlik was nie," sê Sampson.

Die beeldingsvloeisitometer is met ʼn hoëresolusie-mikroskoop en ʼn kamera toegerus. Dit maak die assosiasie van ʼn hoëdefinisie-beeld van elke sel wat deur die vloeisitometer beweeg vir bespeuring deur lasergebaseerde optika moontlik. Dit kombineer die spoed, sensitiwiteit en fenotiperingsvermoë van vloeisitometrie met die gedetailleerde beelding en funksionele insigte van mikroskopie in ʼn enkele instrument.

“Hierdie instrument sal ʼn betekenisvolle gemeenskaps- en ekonomiese impak op die gebied van gesondheidsorg, die omgewing en biotegnologie hê," sê Sampson.

“In die mediese wetenskappe sal die beeldingsvloeisitometer navorsing oor beide aansteeklike siektes (TB, MIV, ensovoorts) en nie-oordraagbare siektes (soos diabetes) ondersteun, met die doelwit om inligting vir nuwe intervensies beskikbaar te stel en tot beter openbare gesondheid, welsyn en lewensgehalte by te dra."

Volgens Sampson sal mikrobiologiese omgewingsnavorsing ook deur hierdie instrument ondersteun word. “Dit sal navorsing op die gebied van diere-TB en die bestuur van afvalwater bevorder, wat implikasies vir menslike gesondheid en die ekonomie het."

Die ultrahoëresolusie-skanderingselektronmikroskoop (FESEM), met ʼn gevorderde stelsel vir geoutomatiseerde 3D-mikroskopie deur in situ-ultramikrotomie, maak geoutomatiseerde en ononderbreekte nanoskaal-snitte en beelding van biologiese en sagte material moontlik, met geïntegreerde 3D-rekonstruksie van selvolumes.

“Die instrument sal ons aan die globale voorpunt van innovering in hoëresolusiebeelding en 3D- ultrastrukturele ontleding plaas en groot wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang meebring, sê Joubert, ʼn medeprofessor in mikrobiologie en die bestuurder van die Elektronmikroskopie-eenheid by die CAF.

Sy verduidelik: “Die internasionale blootstelling en samewerking wat deur die verkryging van hierdie instrument moontlik gemaak is – veral as ʼn instrument in geneeskunde en geosndheidswetenskappe – sal verdere geleenthede skep om mededingend te wees en die land se gesondheids- en maatskaplike uitdagings op te los." 

In die mediese wetenskappe sal hierdie tegnologie alle sellulêre en mikrobiologiese navorsing baat, insluitende navorsing op die gebied van neurowetenskap, pulmonologie, optalmologie, kanker, ensovoorts. Nie-mediese dissiplines, soos fisiologie, voedselwetenskappe en -tegnologie, polimeerwetenskap, biotegnologie en botanie, sal hierdie tegnologie ook in hul navorsing kan toepas. 


 

Onderskrif: Profs Lydia-Marie Joubert, Samantha Sampson and Carine Smith.

Foto: Wilma Stassen