Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer wêreldklas- TB-navorser met Kanseliersmedalje
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 21/02/2019

Grondverskuiwende navorsing op die gebied van tuberkulose (TB) het aan prof Rob Warren die gesogte Kanseliersmedalje vir Navorsing by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid besorg.

Warren is Eenheidsdirekteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing en uitgelese professor in die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika van die Departement Biomediese Wetenskappe aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die US.

Warren se navorsing, wat oor 20 jaar strek, is daarop toegespits om die dinamika van beide middelvatbare en middelweerstandige TB in Suid-Afrika te verstaan. Heelwat van sy werk het nuwe insig gebied met behulp waarvan lank bestaande dogmas uitgedaag kon word. Hoogtepunte van sy loopbaan sluit in navorsing wat toon daar is duisende verskillende TB-stamme in die Suid-Afrikaanse epidemie in sirkulasie, asook dat pasiënte veelvuldige stamme kan huisves.

“Prof Warren is ʼn wêreldklas-wetenskaplike. Sy navorsing, wat grootliks op molekulêre epidemiologie gegrond is, het vir talle mylpaalpublikasies op die gebied van tuberkulose gesorg," sê prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW.

“Deur sy navorsing het Warren ʼn dogma met betrekking tot herhalende TB uitgedaag deur op die belangrikheid van endogene herinfeksie te wys. Hy het getoon dat pasiënte wat al voorheen behandel is, ʼn hoër risiko van endogene herinfeksie het en dat pasiënte veelvuldige stamme van Mycobacterium tuberculosis in hul spuugmonsters kan hê – en daardeur die groot rol van herinfeksie in die voortstuwing van die epidemie in Suid-Afrika opnuut benadruk. In hierdie mylpaalpublikasies is nuwe navorsingsmoontlikhede bekend gestel wat steeds wêreldwyd ondersoek word," verduidelik Volmink.

“Ek voel ontsettend geëerd dat die Kanseliersmedalje aan my toegeken is, asook vir die erkenning dat ek ʼn belangrike bydrae tot TB-navorsing in Suid-Afrika gelewer het," sê Warren. “Tegelyk wil ek noem dat navorsing ʼn spanpoging is en dat hierdie toekennning ook erkenning verleen aan die bydrae van my medewerkers en die nagraadse studente wat ek gementor het."

Nadat hy ʼn PhD in biochemie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, het Warren in 1994 by die Action TB-inisiatief van die Departement Mediese Biochemie (nou die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika) aan die US begin werk. In 1996 is hy as senior wetenskaplike by die SAMNR aangestel, waar hy tans die pos van hoof-spesialiswetenskaplike beklee. In 2015 het die US die titel uitgelese professor aan hom toegeken en in 2017 is hy as Eenheidsdirekteur van die SAMNR se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing aangestel.

Onder Warren se leiding het die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika een van die grootste argiewe van beide middelvatbare en middelweerstandige isolate (kulture) van Mycobacterium tuberculosis in die wêreld gevestig. Dié kultuurbank, wat meer as 45 000 isolate huisves, stel navorsers in staat om die plaaslike epidemie onder ʼn vergrootglas te plaas wat betref uitbreekondersoeke, middelweerstandigheid wat binne die pasiënt evolueer, oordrag en die ontdekking van nuwe mutasies wat middelweerstandigheid veroorsaak.

“Die instandhouding van die kultuurbank sal aanhou om vir prof Warren ʼn prioriteit te wees, omdat dié hulpbron die fondament van sy navorsing en navorsingsamewerking bly en ʼn nasionale erfenis is," sê Volmink. “Die navorsing wat uit hierdie hulpbron spruit sal gebruik word om TB-beheerbeleid te rig, diagnosering in samewerking met die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens te verbeter en kapasiteitsontwikkeling te verseker."

Warren se huidige navorsing fokus op die ontwikkeling van nuwe diagnostiek vir die ontwikkelende wêreld en om patogenisiteit (die vermoë van ʼn organisme om siektes te veroorsaak) te verstaan deur die gebruik van “omika"-tegnologieë (soos proteomika en genomika).

“Ons moet tegnologie omarm om die gesondheid van ons nasie deur basiese en translasionele navorsing te verbeter," sê hy. “Ons onmiddellike doelwit is om volgendegenerasie-volgordebepaling te gebruik om klinici met die beste moontlike behandelingstrategieë toe te rus en daardeur die ontwikkeling van weerstandigheid teen nuwe TB-middels te verhoed."

Warren het meer as 270 artikels op die gebied van molekulêre epidemiologie, middelweerstandigheid en bakteriële evolusie in internasionale, eweknie-beoordeelde joernale die lig laat sien. Hy het ook talle toekennings en eerbewyse ontvang. Die belangrikste  hiervan is ʼn goue medalje vir wetenskaplike uitnemendheid wat in 2015 deur die SAMNR aan hom toegeken is vir sy navorsing op die gebied van die molekulêre epidemiologie van tuberkulose.


 

Foto: Wilma Stassen