Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opgraderings plaas Coetzenburg-atletiekbaan in die kollig
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 20/02/2019

Die nuut opgegradeerde Coetzenburg-atletiekstadion plaas Maties Sport by die Universiteit Stellenbosch (US) letterlik in 'n nuwe lig.

Ná die multimiljoenrand-opgraderings aan die stadion se fasiliteite, insluitend 'n nuwe atletiekbaan en die modernste beligting, het Coetzenburg sy reputasie as 'n internasionale atletiekvenue bevestig.

Die Coetzenburg-atletiekstadion het in 1932 as 'n eenvoudige pawiljoen en atletiekbaan ontstaan en het in die 1940's sy eerste opgradering ondergaan. Die studentekoerant Die Matie het in daardie stadium berig dat Stellenbosch een van die “beste atletiekbane in die land" het. Die eerste sintetiese oppervlak is in 1974 gelê.

Die verskaffing van gepaste fasiliteite is noodsaaklik vir die ontwikkeling van sport – veral hoëprestasiesport – by universiteite. Mnr. Jerry Laka, Maties Sport se Direkteur: Steundienste, is verantwoordelik vir die onderhoud en opgradering van fasiliteite by Maties Sport. Hy moet seker maak dat Maties Sport fasiliteite van wêreldgehalte aan studente-atlete en die gemeenskap bied om sodoende by te dra tot Maties Sport se visie om Coetzenburg die voorkeurbestemming vir plaaslike én internasionale atlete te maak.

“Die besprekings en beplanning vir hierdie opgraderings het in 2015 begin en het die ontwikkeling van 'n fasiliteitopgraderingprogram wat deur die Universiteit se senior bestuurspan gesteun word, ingesluit. Alle belanghebbers is gedurende die beplanningsfase geraadpleeg om seker te maak dat hierdie plan inpas by die Universiteit se meesterplan en Stellenbosch Munisipaliteit se ontwikkelingsplanne. Om fasiliteite van wêreldgehalte te bou, moet ons na internasionale standaarde kyk. Ek is baie bly dat ons hierdie verbeterings in die Universiteit Stellenbosch se eeufeesjaar (2018) kon voltooi," het Laka gesê.

Dié wêreldklasfasiliteit is moontlik gemaak deur die deurlopende samewerking, beplanning en uitvoering tussen Maties Sport en die Afdeling Fasiliteitsbestuur.

Die opgraderings sluit in: Vyf verspringputte, twee spiesgooi-aanloopbane, drie paalspringareas, twee hoogspringareas en 'n volledige atletiekbaan. Binnenshuise opgraderings sluit in: 'n Klubhuis, 'n konferensiekamer, mans- en vrouekleedkamers, administrasiekantore, nuwe fasiliteite vir fisioterapeute, skeidsregters en spelers, ingangsdraaihekke, 'n media-area en 'n tydhouersarea.

Stellenbosch is ook 'n gewilde oefenvenue vir internasionale atlete en die baan het oor die jare al verskeie Olimpiese en Paralimpiese medaljewenners en wêreldkampioene verwelkom. Meer as 200 internasionale atlete van lande soos Duitsland, Nederland, Switserland en Spanje het in Desember en Januarie van die fasiliteite by Coetzenburg gebruik gemaak, terwyl agt atletiekbyeenkomste geskeduleer was om in Januarie en Februarie daar plaas te vind. Die Varsity Atletiek-byeenkoms sal in Maart daar aangebied word.

Dit is egter die beligting wat aan Coetzenburg nuwe internasionale status verleen. Sportstadion-beligtingspesialiste Maritz Electrical is aangestel om die Musco LED-beligtingstelsel te installeer. Hierdie stelsel kan vergelyk word met die beligting by Twickenham-rugbystadion en Arsenal se Emirates-stadion.

Volgens Warren Williams, tegniese hoof by Maritz Electrical, is dit die eerste LED-stelsel wat by 'n atletiekstadion in Suid-Afrika geïnstalleer is. Die installering van die maste het fyn beplanning geverg om te verseker dat alle areas van die baan en veld só verlig word dat dit aan die vereiste lux-vlakke vir atlete en uitsaaiers vir hoëdefinisie-uitsendings voldoen – en die toeskouerervaring verbeter.​