Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US versterk navorsingsvennootskap in Afrika
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/02/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (14 Februarie) geskiedenis gemaak toe hy sy navorsingsvennootskap met die African Peer Review Mechanism (APRM), ʼn onderafdeling van die Afrika-unie (AU), versterk het. 'n Amptelike akte van samewerking is deur die US se Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) en die APRM by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studies op die dorp onderteken.

Die ondertekening van die akte het die verbintenis tot 'n vyf-jaar vennootskap tussen die ITN en die APRM verstewig. Dit sal 'n reeks aktiwiteite, navorsingsgeleenthede en samewerkingsinisiatiewe tot gevolg hê waarby US-akademici en kundiges, sowel as studente – wat deel is van die groeiende jeugdige bevolking van Afrika en wat die voorlopers in Afrika se toekoms sal wees – betrokke sal wees.

“Die werklike betekenis van wat ons vandag gedoen het, vorm die middelpunt van die vooruitgang van ons vasteland omdat geen een van ons aspirasies bereik kan word indien die beheer-en-bestuur-aspek nie na omgesien word nie. Dit is die ware reis waarmee ons vandag begin," het mnr Isaac Nkama, raadslid van die ITN se Afrika Toekomsraad, gesê.

Die APRM is 'n liggaam wat in 2003 by die Afrika-unie in die lewe geroep is om as 'n moniterings-, hersiennings en oorredingsliggaam te dien vir Afrikane deur Afrikane, om rigting te gee aan stelsels vir goeie bestuur-en-beheer in Afrika. Die nuwe vennootskap sal aan die ITN 'n unieke plek op die vasteland van Afrika bied en sodoende die US se Afrika-agenda dryf.

Volgens dr McBride Nkhalamba, hoof van die Afdeling: Navorsing, Metodiek en Ontwikkeling by APRM, sal die vennootskap ook help om bestuur-en-beheer as 'n toekomsstudie te bevorder.

“Soos u weet, is bestuur-en-beheer 'n kwessie wat op die voorgrond staan op die vasteland. Deur die jare het dit ontwikkel. Ons kyk natuurlik na die groter prentjie van ekonomiese, politieke en korporatiewe bestuur-en-beheer, wat baie opwindend is vir my," het Nkhalamba gesê.

Die nuutgevormde vennootskap hou ook die belofte in van unieke strategiese toekomsnavorsing, die publikasie van relevante verslae en artikels wat 'n impak sal hê, die skepping van verskeie kundigheidsforums, kortkursusse en opleidingsessies oor toekomsdenke, die monitering en assessering van nasionale strategiese planne, programme, uitreik-aksies en die bou van 'n toekomskennis-gemeenskap wat op Afrika fokus by die US.

 

__________________________________________________________________________________

Meer oor die ITN

Die ITN is in 1974 by die Universiteit Stellenbosch gevestig en het in 2016 herstrukturering ondergaan met nuwe beeldbemarking wat gedoen is, terwyl sy navorsingsomgewings en diensaanbieding herfokus is. Die ITN is die eerste en enigste Toekoms-instituut in sy soort in Afrika.

Die ITN rus individue en organisasies toe en staan hulle by met die werkstuie van goeie oordeel en strategiese vooruitskouing eerder as akkurate voorspellings. Goeie oordeel vloei voort uit die bewuswording en waardering van vroeë waarskuwingstekens en -stelsels deur omgewingsbeskouing en -intelligensie. Die ITN help organisasies om deur omgewingsbeskouings huidige en ontwikkelende neigings te ontleed, te verstaan en te verbind om uitdagings te vermy of te oorkom en geleenthede maksimaal te benut. Deur strategiese vooruitskatting stel die ITN individue en organisasies in staat om die toekoms wat hulle wil hê, te definieer en te skep. Die ITN se hoofdoelwit is om leiers in Afrika te ondersteun om innoverende, langtermyn-besluitnemingsvaardighede te ontwikkel om hulle in staat te stel om risiko's mededingend te verminder en geleenthede raak te sien. 

In die foto bo van links voor: Prof Eddy Maloka (CEO APRM), Dr Morne Mostert (Direkteur van IFR), van links agter Dr. McBride Nkhalamba (Afdeling: Navorsing, Metodiek en Ontwikkeling by APRM) and Mr Isaac Nkama (raadslid van die ITN se Afrika Toekomsraad). 

Foto deur Stefan Els.