Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AAS vereer Nachega met genootskap
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 12/02/2019

Prof Jean Nachega is onlangs deur die African Academy of Science (AAS) vereer toe hy as ʼn genoot aanvaar is. Nachega is die Direkteur van die Sentrum vir Aansteeklike Siektes en ʼn buitengewone professor in die Departement Geneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die inhuldigingsplegtigheid vir nuwe genote het einde vanjaar in Pretoria gedurende die algemene vergadering van die AAS plaasgevind.

Die AAS, wat in Nairobi, Kenia gesetel is, is ʼn Afrika-wye organisasie wat ten doel het om die kontinent se wetenskapsgemeenskap te versterk, asook die publikasie en verspreiding van wetenskaplike materiaal, navorsingsontwikkeling en -beleid en die uitbou van kapasiteit in wetenskap en tegnologie te ondersteun. Die AAS bevorder die ontwikkeling van die navorsing- en tegnologiebasis oor die kontinent heen en vereer Afrika-wetenskaplikes wat internasionaal vir prestasies op hul onderskeie gebiede bekend is.

Nachega, wat ook ʼn medeprofessor in epidemiologie, aansteeklike siektes en mikrobiologie by die Pittsburgh-Universiteit in die VSA is, sê hy voel nederig om so deur die AAS te vereer te word.

“Ek aanvaar dit graag namens die ongelooflik talentvolle en toegewyde navorsers, medewerkers, studente en personeel in my span, asook ons befondsers in Afrika, Europa en die VSA. Ek sien uit daarna om as ʼn aktiewe genoot van die AAS te werk om die bestaande bande tussen die AAS en die Universiteit Stellenbosch verder te versterk om ʼn wen-wen-verhouding te skep en ʼn blywende impak in Afrika te hê," het Nachega gesê.

Hy het daarop gewys dat daar talle geleenthede vir bykomende navorsing in sy spesialiteitsgebied bestaan. “Ons het oor die laaste dekade die lewe van mense wat met MIV/vigs leef verleng danksy doeltreffende antiretrovirale behandeling, wat ʼn groot prestasie is. Die navorsingsprioriteite sluit nou in die strewe na ʼn doeltreffende entstof teen MIV/vigs en uiteindelik genesing."

“Ofskoon die lewensverwagting van MIV-besmette individue met doeltreffende antiretrovirale behandeling toeneem, het hierdie pasiënte steeds ʼn hoër risiko van multi-morbiditeit en mortaliteit as die algemene bevolking wat nie met MIV-besmet is ne. Die hipotese is dat toksisiteit wat met langtermyn- antiretrovirale behandeling verband hou, aanhoudende inflammasie en lewenstyl meganismes is waardeur die voorkoms van nie-oordraagbare siektes soos kanker, kardiovaskulêre siektes, chroniese niersiektes, chroniese lewersiekte en neuropsigiatriese siektes toeneem soos wat die MIV-besmette bevolking ouer word."

Volgens Nachega sal hy as ʼn genoot van die AAS onder meer help om geleenthede vir navorsingsamewerking te identifiseer om die las van hierdie MIV-komorbiditeite te help kwantifiseer en die doeltreffendheid en koste-effektiwiteit van voorkomende en behandelingstrategieë in Afrika suid van die Sahara te evalueer. Hy sal ook sy onderrig, netwerkvorming en openbare toesprake voortsit – alles vir die saak om uitnemendheid in wetenskap in Arika te bevorder.